Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit onwetenskaplik om in God te glo?

Is dit onwetenskaplik om in God te glo?

Is dit onwetenskaplik om in God te glo?

WANNEER jy iets oor die wetenskap lees, is dit nie ongewoon om godsdienstige uitdrukkings teë te kom nie. Wetenskaplikes is byvoorbeeld al beskryf as “die hoëpriesters van ’n nuwe tegnologiese kultuur” en hulle laboratoriums as “tempels” of “heiligdomme”. Sulke uitdrukkings is natuurlik blote beeldspraak. Dit kan nietemin hierdie belangrike vraag laat ontstaan: Is daar werklik ’n kloof tussen die wetenskap en godsdiens?

Party meen dalk dat wetenskaplikes al hoe verder van geloof in God wegbeweeg namate hulle meer leer. Daar is weliswaar baie wetenskaplikes wat godsdienstige geloof verwerp. Maar ’n groot aantal is diep beïndruk deur die getuienis in die sigbare wêreld om ons wat op ontwerp dui. Ander wetenskaplikes stel nie net in ontwerp belang nie; hulle begin ook oor die Ontwerper dink.

Winde van verandering

Charles Darwin se evolusieteorie word al ’n eeu en ’n half algemeen aanvaar. Sommige geleerde mense het moontlik verwag dat geloof in God teen hierdie tyd net onder die oningeligtes, die liggelowiges en die naïewes gevind sou word. Dit is glad nie die geval nie. Baie wetenskaplikes erken openlik dat hulle in ’n Skepper glo. Hulle glo miskien nie in ’n persoonlike God of in die Bybel nie. Maar hulle is oortuig dat die ontwerp wat in die natuur gesien kan word, ’n intelligente Ontwerper vereis.

Kan sulke wetenskaplikes as naïef beskou word? ’n Boekresensie in The New York Times het kommentaar gelewer oor wetenskaplikes wat glo dat intelligente ontwerp verantwoordelik is vir ons kosmos en die lewe daarin, en het gesê: “Hulle het PhD’s en beklee poste by toonaangewende universiteite. Die saak wat hulle teen Darwinisme maak, berus nie op die gesag van die Skrif nie; dit is eerder gegrond op wetenskaplike uitgangspunte.”

Dieselfde artikel sê dat voorstanders van intelligente ontwerp “geen ooglopend sinlose bewerings maak nie. . . . Wat hulle wel betwis, is die mening dat ’n bevredigende verklaring vir alle lewe gevind kan word in die standaardvorm van die Darwinistiese teorie of in enige ander ‘natuurwetenskaplike’ teorie wat slegs gegrond is op redelose, meganiese prosesse wat geleidelik plaasvind. Hulle voer aan dat die biologiese wêreld oorvloedige getuienis van intelligente ontwerp bevat—getuienis wat met amper onbetwisbare sekerheid op die hand van ’n Intelligente Ontwerper dui.” a

Sulke gevolgtrekkings is verbasend algemeen onder wetenskaplikes. ’n Studie wat in 1997 uitgegee is, het byvoorbeeld getoon dat 4 uit 10 Amerikaanse wetenskaplikes in ’n persoonlike God glo. Daardie verhouding het sedert 1914, toe ’n soortgelyke opname gedoen is, feitlik onveranderd gebly.

Dit is te verstane dat die verhouding laer is in lande waar ’n meer sekulêre gees heers, soos in Europa. Maar die Britse koerant The Guardian het berig dat “die vlak van geloof die hoogste is onder die beoefenaars van die eksakte wetenskappe, soos fisika en geologie, en laer is onder dié in die nie-eksakte wetenskappe, soos antropologie”. Dit het bygevoeg: “In die VK is daar organisasies soos Christene in die Wetenskap.” In Groot-Brittanje, sê die koerant, “is kerkbywoning onder wetenskapstudente verhoudingsgewys baie hoër as onder kunsstudente”.

En tog lyk dit of die meeste wetenskaplikes die idee van ’n Skepper verwerp. Hierdie soort minagting oefen ’n kragtige invloed op ander uit. Die sterrekundige Allan Sandage sê dat “mense huiwerig is om openlik te erken dat hulle [in ’n Skepper] glo”. Waarom? Hy sê: “Die veroordeling is so skerp.”

Die wetenskaplikes wat dit waag om te sê dat die wetenskap nie noodwendig in stryd is met geloof in ’n Skepper nie, vind gevolglik dat hulle oordonder word deur ander wat skeptieser beskouings uitspreek. Die volgende artikels sal aandag skenk aan hierdie stemme wat dikwels geïgnoreer word en aan die rede waarom hierdie wetenskaplikes dié mening huldig. Maar hoe word jy persoonlik daardeur geraak? Kan die wetenskap jou help om God te vind? Lees asseblief verder.

[Voetnoot]

a Vooraanstaande akademici en wetenskaplikes wat in die openbaar verklaar het dat hulle die idee van “’n Intelligente Ontwerper” onderskryf, sluit die volgende persone in: Phillip E. Johnson, wat in die regte doseer aan die Universiteit van Kalifornië, Berkeley; die biochemikus Michael J. Behe, skrywer van die boek Darwin’s Black Box—The Biochemical Challenge to Evolution; die wiskundige William A. Dembski; die filosoof van die logika Alvin Plantinga; die fisici John Polkinghorne en Freeman Dyson; die sterrekundige Allan Sandage, en te veel ander om hier te noem.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Sterre: Courtesy of ROE/Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin