Ons beskou die wêreld
Ons beskou die wêreld
Bevolkingsbeheer—’n dilemma vir dieretuine
“Geen dieretuin kan vandag sonder geboortebeperking klaarkom nie”, sê Henning Wiesner, hoofdierkundige by München se Hellabrunn-dieretuin. Diere wat in dieretuine aangehou word, teel vinnig aan, hulle kleintjies floreer en hulle lewe gewoonlik langer as ander van hulle soort in die natuur. Dieretuine het egter beperkte ruimte. Daarom is geboortebeperking nodig. Maar “daar is ’n probleem met gesinsbeplanning in die dieretuin. Die diere hou nie baie daarvan nie”, sê die Duitse tydskrif Focus. Bere snuffel byvoorbeeld die voorbehoedmiddels wat in voedsel weggesteek is, uit en verwyder dit. Mondelikse voorbehoedmiddels kan ook gesondheidsprobleme, soos borskanker, by sekere diere veroorsaak. Kastrasie en sterilisasie is ook moontlikhede, maar dit veroorsaak ander probleme. Om maar een ding te noem, dit is permanent, en nakomelinge sal dalk in die toekoms nodig wees. Tweedens, gesteriliseerde diere hou op om geslagshormone te produseer, ’n verandering wat hulle sosiale status onder ander van hulle soort kan benadeel. Nog ’n moontlikheid is om ongewenste kleintjies van kant te maak—maar dit maak baie diereliefhebbers en dierebeskermingsgroepe woedend. Dieretuine kom dus voor ’n ware dilemma te staan.
Elektroniese rommel
Ongeveer 155 000 ton elektroniese rommel, of e-rommel, is in 2002 deur Kanadese weggegooi, sê die Kanadese koerant die National Post. ’n Verslag deur Environment Canada sê dat Kanadese “volgens skatting tweemiljoen televisiestelle, 1,1 miljoen videokassetopnemers en 348 000 CD-spelers [weggegooi het]—waarvan die meeste ná net ’n paar jaar se gebruik as verouderd beskou is”. Elektroniese toerusting “word dikwels weggegooi omdat dit nie meer in die behoeftes van die verbruiker voorsien nie en nie omdat dit stukkend is nie”, sê die verslag. Baie van hierdie rommel kan gevaarlik wees. Net een televisiestel kan byvoorbeeld “tot twee kilogram lood bevat”, sê die Post. En kwik, wat in sommige vertoonpanele gevind word, besoedel nou stortterreine. Teen die huidige tempo sal e-rommel teen 2010 verdubbel, waarsku Environment Canada.
Miere en antibiotika
“Wetenskaplikes het gevind dat sommige miere sampioene kweek om hulle kleintjies te voed en selfs antibiotika as ’n ‘plaagdoder’ gebruik om dit te beskerm”, sê die internasionale uitgawe van The Miami Herald. Hierdie miere, wat blaarsnyermiere genoem word, verplant en snoei hulle sampioene en roei ook onkruid uit, net soos ’n boer. Die antibiotikum, wat die miere se sampioene teen ’n aansteeklike skimmel beskerm, word verkry van ’n bakterie wat aan die familie Streptomycete behoort en op die blaarsnyermier se eksoskelet lewe. Ted Schultz, insekkenner by die Nasionale Natuurhistoriese Museum in Washington, DC, sê dat blaarsnyermiere al eeue lank dieselfde antibiotikum met welslae gebruik, terwyl mense gedurig nuwe antibiotika moet vind om kieme te beveg wat teen medisyne bestand geword het. Om die miere se geheim te verstaan, “kan baie belangrik wees vir die mens se oorlewing”, sê Schultz.
’n Wêreldwye gesondheidsramp
Weens ’n onrusbarende toename in diabetes stuur die wêreld op “een van die grootste gesondheidsrampe” af wat dit tot nog toe gesien het, waarsku die Britse professor sir George Alberti, voorsitter van die Internasionale Diabetesfederasie (IDF). Volgens die IDF se syfers het meer as 300 miljoen mense oor die hele wêreld belemmerde glukosetoleransie, wat dikwels tot diabetes lei, berig die Britse koerant die Guardian. Tipe 2-diabetes, wat vroeër hoofsaaklik onder ouer mense voorgekom het, kom nou voor onder jong Britte wat oorgewig is omdat hulle dieet uit gemorskos bestaan en hulle te min oefen. “Wat dit uiters frustrerend maak, is die feit dat [diabetes en die gevolge daarvan] tot ’n groot mate deur lewenstylveranderinge verhoed kan word”, sê Alberti. Ontwikkelende lande sal dalk ook sien hoe diabetes die hoogte inskiet namate hulle “die ongesonde dieet en stedelike lewenstyl van welvarende wêrelddele” aanneem, sê The Guardian.
Die veranderende Italiaanse gesin
Van 1995 tot 2001 het die aantal ongetroude paartjies in Italië wat saamlewe amper verdubbel, het die aantal mense wat trou, verminder en het die aantal mense wat alleen woon, vermeerder. Hierdie bevindings, wat in die koerant La Repubblica gepubliseer is, is gegrond op data wat deur Italië se Nasionale Instituut vir Statistiek (ISTAT) ingesamel is. Oor dieselfde tydperk het die gemiddelde grootte van die gesin na net 2,6 lede gekrimp. Volgens ISTAT verkies baie paartjies om vir “proeftydperke” buite die huwelik saam te lewe om te kyk of hulle wil trou.
Uile se supersintuie
Die tydskrif Australian Geographic sê dat uile “die skerpste naggesig in die diereryk” het, wat deels te danke is aan hulle besonder groot oë en binokulêre sig. En baie van hulle “kan klanke hoor wat 10 keer dowwer is as wat ’n mens kan hoor.” Wat dra tot hulle fyn gehoor by? “Al die verskillende uilsoorte se ore”, sê die artikel, “het in meerdere of mindere mate ’n buitengewone kenmerk: een oorgaatjie is hoër as die ander.” Hierdie ontwerp maak dit makliker vir uile om bewegende prooi op te spoor. Die uile van die Tyto-genus het ’n verdere aanpassing deurdat hulle gesigsvere in die vorm van ’n skyf is. Hierdie aanpasbare skyf vang klank op en gelei dit na die oor. Daarbenewens is die medulla, ’n deel van die brein wat met gehoor verbind word, komplekser by uile as by ander voëls.
Voorkombare hepatitisinfeksies
Die meeste “hepatitisinfeksies is die gevolg van ’n gebrek aan higiëne onder mediese personeel”, sê die Poolse weekblad Polityka. In 1997 het die Nasionale Instituut vir Higiëne in Pole 992 hepatitis C-infeksies gerapporteer, maar vyf jaar later was daar 1 892 infeksies. Die artikel betreur die feit dat daar tans geen gelisensieerde entstof teen hepatitis C is nie. Professor Andrzej Gładysz, ’n nasionale konsultant op die gebied van aansteeklike siektes, sê: “Ek oordryf nie wanneer ek sê dat 500 000 tot 600 000 mense in Pole met die hepatitis C-virus besmet is nie.” En die meeste van hierdie infeksies “word in dokters of tandartse se spreekkamers opgedoen”, sê Jacek Juszczyk van die Kliniek vir Aansteeklike Siektes by die Mediese Universiteit in Poznan. Polityka sê ten slotte: “Wanneer ons onder doktershande is, wil ons seker wees dat daardie hande mooi skoon is.”
Toename in krotbuurte
“Amper ’n miljard mense, 32 persent van die wêreld se stedelinge, woon in arm stadsgebiede”, sê die koerant El Universal van Mexikostad. ’n Studie deur die Verenigde Nasies noem Bogota, Havana, Mexikostad, Quito en Rio de Janeiro as voorbeelde van stede wat ’n toename in krotbuurte ondervind. Wat is die oorsake? In die geval van Bogota skryf die VN-verslag die skerp toename in krotbuurte toe aan “die vinnige bevolkingsgroei, grootskaalse verhuising uit die platteland en geweld, wat hele gemeenskappe ontwortel het”, sê die koerant. Daarbenewens het 23 persent van die bevolking van hierdie stad in die jaar 2000 onder die broodlyn gelewe, in vergelyking met 19,4 persent in 1994.