Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ontberinge tydens die oorlog het my op die lewe voorberei

Ontberinge tydens die oorlog het my op die lewe voorberei

Ontberinge tydens die oorlog het my op die lewe voorberei

SOOS VERTEL DEUR ERNST KRÖMER

“Dis julle kamer.” Met hierdie woorde is ek en my metgesel in Gaboen, Wes-Afrika, verwelkom. Daar was net genoeg plek vir ’n matras. Ons het ses maande lank in daardie kamer gebly.

MY LEWE op ’n plaas gedurende die Tweede Wêreldoorlog het my daarop voorberei om moeilike omstandighede te verduur. Kort nadat die oorlog in 1939 uitgebreek het, het Nazi-Duitsland Pole ingeneem. Op daardie stadium was ek vier jaar oud. Ons gesin het bestaan uit my ouers, my jonger broer en suster en my twee ouer susters. My pa het ons gewaarsku dat ons moeilike tye kan verwag as Duitsland die oorlog verloor.

Ons het in Löwenstein gewoon, ’n Duitse dorpie in Onder-Silesië, wat nou ’n deel van Pole is. Op ons plaas van sowat 25 hektaar het ons met graan en vee geboer. My pa was ook die administrateur vir die boere in die gebied. Toe die Nazi’s aan bewind gekom het, het hulle my pa gebruik om die boere ter ondersteuning van die oorlogspoging te organiseer.

My pa het gedurende die Eerste Wêreldoorlog as ’n berede soldaat gedien, en omdat hy nou vir die Nazi’s gewerk het, is hy nie vir diensplig opgeroep nie. My ouers het jare vantevore uit die kerk bedank, want hulle is ontnugter deur die geestelikes se optrede tydens die Eerste Wêreldoorlog. Gevolglik het ek sonder enige belangstelling in godsdiens grootgeword.

In 1941 is ek skool toe, maar ek het dit gehaat en gedink dat daar interessanter dinge is om te doen as om na ’n swartbord te kyk. Vroeg in 1945, net ’n paar maande voordat die oorlog geëindig het, is Breslau (nou Wrocław), die hoofstad van Onder-Silesië, deur die Russe beleër. Een Saterdagaand kon ons sien hoe die stad, wat byna 50 kilometer van ons af was, verlig word deur mortiervuur en die ontploffing van bomme wat deur vliegtuie afgegooi is. Kort daarna moes ons na die berge vlug. Ná die oorlog het ons na ons huis in Löwenstein teruggekeer.

Ná die oorlog

Verskriklike tye het op die oorlog gevolg. Vroue is verkrag, en plundering was ’n daaglikse gebeurtenis. Die meeste van ons vee is gesteel.

My pa is in Julie 1945 gearresteer. Ná sewe nagte van onmenslike ondervraging is hy vrygelaat. Drie maande later is hy weer gearresteer en weggeneem. Ons het hom nooit weer gesien nie. Twee Poolse mans het ons plaas oorgeneem en beweer dat hulle die eienaars is. In April 1946 is daar vir al die Duitsers gesê om die dorpie te verlaat en net saam te neem wat hulle kon dra.

My ma was hierop voorbereid en het nie paniekerig geraak nie. Sy het ’n groot mandjie op wiele gehad waarin ons beddegoed was, en ons het elkeen ’n rugsak gehad met alles daarin wat ons sou nodig kry. Die Poolse burgermag het ons in veetrokke saamgehok—30 mense in ’n trok. Ongeveer twee weke later het ons aangekom by ons bestemming in die noordweste van Duitsland, nie ver van Nederland af nie.

Die owerheid het ons gesin en ander familielede—altesaam 19 van ons—twee kamers gegee op ’n plaas wat ongeveer agt kilometer van Quakenbrück af was. Later het van ons uitgebreide familie blyplek by ander boere gekry, en toe was dit nie meer so beknop nie.

My ma het baie opofferings vir ons gemaak en het dikwels nie geëet nie sodat ons kon eet. Gedurende ons eerste winter het ons te min vuurmaakhout gehad. Ons mure en plafonne was met ’n dik laag ys bedek, en ons kamers het soos ysgrotte gelyk. Gelukkig het ons warm beddegoed gehad, en daarom het ons dit oorleef.

Kontak met die Getuies

In omstreeks 1949 het my ma ’n eksemplaar van Die Wagtoring by een van my tannies gekry. ’n Artikel daarin het haar herinner dat sy gedurende die oorlog gehoor het hoe Hitler ‘’n gespuis’ wat die ondergang van Duitsland voorspel het, oor die radio veroordeel. My ma het gewonder wie hierdie mense was. Toe sy in Die Wagtoring lees dat hulle Jehovah se Getuies is, is haar belangstelling gewek en het sy besluit om die Bybel saam met hulle te studeer.

Op ’n dag in April 1954 het ek die Getuie-egpaar ontmoet wat met my ma gestudeer het. Ná die studie het ek die boekie Kan u vir ewig in geluk op aarde lewe? by hulle geneem en op Die Wagtoring ingeteken. Nadat ek die boekie gelees het, was ek oortuig dat ek die waarheid gevind het. Ek het dit dus vir my werkgewer gegee om te lees. Toe ek haar vra wat sy daarvan dink, het sy gesê: “Die gedagtes is baie interessant, maar dit is te goed om waar te wees. Ek kan dit net nie glo nie.”

“Wel, ek is seker dit is die waarheid”, het ek vir haar gesê, “en ek gaan daarvolgens lewe.” Sy het net haar kop geskud en gesê: “Hierdie boodskap is vir sagmoedige mense. Jy is te wild om ’n Getuie te wees.” Maar ek het veranderinge in my lewe begin aanbring.

Hoewel daar geen Getuies in die gebied was nie, het ek op my eie gestudeer en elke week omtrent tien kilometer met ’n fiets gery om hulle vergaderinge by te woon. Later het ek na ’n kringbyeenkoms toe gegaan, waar ’n aantal gemeentes van die Getuies vir aanbidding bymekaargekom het. Daar het ek vir die eerste keer saam met ander aan die openbare bediening deelgeneem. Kort voor lank het ek dit gereeld gedoen. Op 14 Julie 1954 is ek en my ma gedoop. Later het my ouma aan moederskant, op 80-jarige ouderdom, ook ’n Getuie geword.

Aangesien my werk op ’n plaas te veel van my tyd in beslag geneem het, het ek bedank en by ’n bosboureservaat begin werk. Daarna het ons gesin na Reutlingen, ’n dorpie naby Stuttgart, verhuis. Terwyl ons daar was, het my jonger suster, Ingrid, ook ’n Getuie geword; sy is die enigste van my broers of susters wat een geword het.

Die voltydse bediening

In 1957 kon my ma uiteindelik my pa wetlik dood laat verklaar. Sy het gevolglik ’n pensioen begin ontvang, wat dit vir haar moontlik gemaak het om sonder my finansiële ondersteuning klaar te kom. Aangesien ek nie meer hierdie gesinsverantwoordelikheid gehad het nie, het ek ’n deeltydse werk gekry, en in April 1957 het ek die predikingswerk voltyds begin doen as ’n pionier. Later het ek ’n uitnodiging ontvang om as ’n spesiale pionier te dien. Toe ’n mede-Getuie dit hoor, het hy my na sy kantoor genooi en gesê: “Ek is seker jy sal hulp nodig hê.” Toe het hy my 500 Duitse mark gegee. Ek het al die klere wat ek nodig gehad het, daarmee gekoop en nog 200 mark oorgehad.

In 1960 het ek aangebied om in Oostenryk te dien, waar ek die predikingswerk in die dorpie Scheibbs en ’n kort rukkie in die stad Linz gedoen het, maar later daardie jaar het ek ’n ernstige motorfietsongeluk gehad waarin ek my regterbeen gebreek het. Ná ’n reeks operasies kon ek met my toewysing voortgaan. In 1962 moes ek egter weens immigrasieprobleme na Reutlingen terugkeer. Terwyl ek daar was, het ek nog ’n operasie ondergaan om die metaalpen wat in my been gesit is, te laat verwyder. Ek het my pionierdiens ses maande lank onderbreek sodat ek geld kon verdien om die mediese onkoste te dek.

Toe ’n reisende opsiener ons gemeente besoek, het hy voorgestel dat ek aansoek doen om te dien by die takkantoor van die Getuies, wat destyds in Wiesbaden, Duitsland, was. Ek het dit gedoen, en twee weke later het ek ’n telegram ontvang wat gesê het dat ek so gou as moontlik moet kom. ’n Week later, in Mei 1963, was ek in die Duitse takkantoor, wat Bethel genoem word, waar ek tydskrifte op ’n rotasiepers gedruk het.

Ek lê my daarop toe om te leer

Bethel was die beste plek waar ek nog gewoon het, en ek het gou aan die harde werk gewoond geraak. In 1965 het ek Spanje besoek en Bybellektuur in die geheim in die land ingeneem, aangesien die predikingswerk daar verbied was. Ná daardie besoek wou ek ’n ander taal leer, en ek het op Engels besluit. Ek het elke geleentheid gebruik om te leer. Ongeveer dieselfde tyd is die eerste Engelssprekende groep in Duitsland gevorm, en ek het by hulle aangesluit. Die eerste keer toe ek ’n Wagtoring-studieartikel in Engels voorberei het, het dit my sewe uur geneem. Toe dit my die tweede keer net vyf uur neem, het ek geweet dat ek vordering maak.

In 1966 het ek ’n uitnodiging ontvang om die 43ste klas van Gilead by te woon, ’n skool in die Verenigde State waar bedienaars van Jehovah se Getuies vir sendingwerk opgelei word. In April 1967, ná ons graduering, is ek en Günther Reschke na Gaboen, Wes-Afrika, gestuur. Toe ons in Libreville, Gaboen se hoofstad, aangekom het, het ons in die klein kamertjie gebly wat aan die begin beskryf is, waar ons ons klere in die eetkamer moes ophang. Ses maande later het ons na ’n ander sendinghuis getrek.

In Gaboen was my grootste uitdaging om Frans te leer. Ná baie inspanning het ek dit uiteindelik min of meer baasgeraak. In 1970 is ons predikingswerk in Gaboen skielik verbied, en die sendelinge is twee weke kennis gegee om die land te verlaat.

Volgende toewysing—die Sentraal-Afrikaanse Republiek

Ek is saam met ander sendelinge na die Sentraal-Afrikaanse Republiek gestuur. Frans was die land se amptelike taal, maar ons moes Sango leer sodat ons vir die meeste mense kon getuig. Ons is gestuur om ’n sendinghuis te open in die dorp Bambari, byna 300 kilometer van die hoofstad, Bangui, af. Daar was nie elektrisiteit of lopende water in Bambari nie, maar die twee gemeentes het ons hulp nodig gehad. My ondervindinge tydens die oorlog in Europa het dit vir my baie makliker gemaak om die lewensomstandighede in Bambari, sowel as ander plekke, te verduur.

Nadat ek twee jaar lank in Bambari gedien het, het ek die toewysing gekry om gemeentes as ’n reisende opsiener te besoek. Daar was omtrent 40 gemeentes in die land, en ek het elkeen wat aan my toegewys is, ’n week lank besoek. Ek het ’n motortjie gehad, maar wanneer die grondpaaie te sleg geword het, het ek van openbare vervoer gebruik gemaak.

Bangui was die enigste plek in die hele land waar ’n motor reggemaak kon word. Aangesien my bediening vereis het dat ek baie moes reis, het ek ’n paar voertuigherstelboeke gekoop, ’n paar stukke gereedskap aangeskaf en die meeste van die herstelwerk aan my motor self gedoen. Eenkeer het die omhulsel van die dryfas se kruiskoppeling gebreek, en die motor kon nie beweeg nie. Die naaste huis was sowat 60 kilometer daarvandaan, en daarom het ek ’n stuk hardehout in die woud afgekap en ’n omhulsel daarvan gemaak. Toe het ek dit vol ghries gesmeer en dit met ’n draad aan die dryfas vasgemaak, waarna ek my reis kon voortsit.

Dit was veral ’n uitdaging om in die bos, of plattelandse gebiede, te dien omdat daar gewoonlik min mense was wat kon lees of skryf. In een gemeente het die enigste persoon wat kon lees, ’n spraakgebrek gehad. Die les in Die Wagtoring was besonder moeilik, maar dit was geloofversterkend om te sien hoe die gemeente ’n opregte poging aanwend om die punte onder bespreking te verstaan.

Daarna het ek die groep gevra hoe hulle baat gevind het by lesse wat hulle nie heeltemal kon verstaan nie. Hulle antwoord was pragtig: “Hier word ons aangemoedig.”—Hebreërs 10:23-25.

Hoewel baie van my Christenbroers ongeletterd was, het hulle my baie geleer oor die lewe en oor hoe om te lewe. Ek het die waarde begin besef van die skriftuurlike raad om ‘ander hoër as jouself te ag’ (Filippense 2:3). My swart broers het my baie geleer oor liefde, goedhartigheid en gasvryheid en oor hoe om in die bos te oorleef. Broer Nathan Knorr, wat destyds die president van Gileadskool was, se afskeidswoorde op my gradueringsdag het vir my baie meer begin beteken. Hy het gesê: “Bly nederig en moet nooit dink dat ons alles weet nie. Ons weet nie alles nie. Daar is nog soveel wat ons moet leer.”

Die lewe in die bos in Afrika

Ek het by die plaaslike broers gebly terwyl ek die gemeentes besoek het. Die week van my besoek was gewoonlik ’n spesiale geleentheid, veral vir die kinders. Dit is omdat die gasheergemeente gaan jag of gaan visvang het en ’n spesiale poging aangewend het om baie kos vir almal te hê.

Ek het saam met die broers in hulle hutte gebly en alles van termiete tot olifantvleis geëet. Ape was ook gereeld op die spyskaart. Wildevark en ystervark was besonder smaaklik. Ek het natuurlik nie elke dag ’n feesmaal geniet nie. Aan die begin het dit my liggaam ’n ruk geneem om aan die dieet gewoond te raak, maar uiteindelik kon my maag amper enigiets verteer wat hulle my voorgesit het. Ek het ook uitgevind dat dit goed is vir die maag om papaja met pitte en al te eet.

Allerhande onverwagse dinge kan in die bos gebeur. By een geleentheid is ek verkeerdelik vir ’n mammy-water aangesien, wat na bewering ’n wit gees van ’n dooie mens is wat in die water lewe. Mense glo dat dit jou onder die water kan intrek en jou kan verdrink. Toe ek dus eenkeer uit ’n stroompie kom nadat ek gebad het, het ’n dogtertjie wat water kom haal het, my gesien en begin skreeu terwyl sy weggehardloop het. Toe ’n mede-Getuie probeer verduidelik dat ek net ’n besoekende prediker is, nie ’n gees nie, wou die mense dit nie glo nie. Hulle het gesê: “’n Wit man sal nooit al die pad hierheen kom nie.”

Omdat die lug vars was, het ek dikwels buite geslaap. Ek het altyd ’n muskietnet by my gehad, aangesien dit my ook teen slange, skerpioene, rotte en ander goed beskerm het. Ek was verskeie kere in die pad van ’n kolonie swerfmiere, en die muskietnet het tot my redding gekom. Een aand het ek my lig op die net geskyn en gesien dat dit toe is onder die swerfmiere. Ek het my vinnig uit die voete gemaak, want hoewel die miere klein is, kan hulle selfs leeus doodmaak.

Terwyl ek in die suide van die Sentraal-Afrikaanse Republiek was, naby die Kongorivier, het ek vir die Pigmeë getuig, wat geheel en al van die natuur afhanklik is vir hulle bestaan. Hulle is bobaasjagters en weet wat ’n mens kan eet en wat nie. Party praat Sango, en hulle was gretig om te luister. Hulle het ingestem tot ’n herbesoek, maar toe ons teruggaan, het ons gevind dat hulle na ’n ander plek getrek het. Nie een van hulle het destyds ’n Getuie geword nie, maar ek het later gehoor dat party Pigmeë in die Republiek van die Kongo wel Getuies geword het.

Ek het vyf jaar lank as ’n reisende opsiener in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gedien. Ek het deur die hele land gereis, en hoofsaaklik gemeentes in die bos besoek.

Diens by die takkantoor in Nigerië

In Mei 1977 is ek genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Lagos, Nigerië, te dien. Hierdie land, wat die grootste bevolking in Afrika het, het destyds amper 100 000 Getuies gehad, en sowat 80 mense het by die takkantoor gedien. My toewysing was om in die garage te werk, wat ingesluit het dat ek voertuie moes diens.

In 1979 het ek weer betrokke geraak by boerdery, die werk wat ek as ’n jong man in Europa gedoen het. Die plaas, waar kos vir die takkantoorpersoneel gekweek is, was in Ilaro, sowat 80 kilometer van Lagos af. Daar het ek geleer dat boerdery in ’n tropiese reënwoud baie anders is as boerdery in Europa. Ná drie en ’n half jaar het ek na Lagos teruggekeer en weer in die garage begin werk.

In 1986 is ek oorgeplaas na Igieduma, ongeveer 360 kilometer van Lagos af, waar ’n groot, nuwe takkantoorkompleks in aanbou was. Hierdie fasiliteit is in Januarie 1990 toegewy. Dit sluit ’n drukkery, ’n plasie en woongeboue in wat meer as 500 mense huisves. Dit beslaan 60 hektaar en is omring met ’n muur wat amper twee meter hoog is. Ek hou tans toesig oor die plaas en die instandhouding van die terrein, waarby sowat 35 mense betrokke is.

Ek woon al ongeveer 27 jaar lank in Nigerië en het my verskillende toewysings by die takkantoor werklik geniet. Ek is bly dat my ma aan Jehovah getrou gebly het en dat my jonger suster, Ingrid, wat 14 jaar lank as ’n spesiale pionier gedien het, Jehovah nog steeds saam met haar man dien.

Ten spyte van die uitdagings waarvoor ek te staan gekom het, het dit my groot vreugde verskaf om Jehovah en my geestelike broers in Wes-Afrika te dien. Ek is dankbaar vir die goeie gesondheid wat ek tot dusver geniet het en bid dat ek gesond sal bly sodat ek bedrywig kan bly in die diens van ons groot God, Jehovah.

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Nigerië

Sentraal- Afrikaanse Republiek

Gaboen

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 18]

Saam met my ma, Gertrud, en my suster, Ingrid, in 1939

[Prent op bladsy 20]

As ’n sendeling in Gaboen

[Prent op bladsy 20]

In die Sentraal-Afrikaanse Republiek het ek in dorpies soos hierdie een gewoon