Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Mode Ek wil graag my waardering uitspreek vir die reeks “Is jy ’n modeslaaf?” (8 September 2003). Ek het al as ’n tiener die wêreld se druk gevoel om die jongste modes te koop en die “volmaakte” figuur te hê. Maar hierdie artikels het my gehelp om my koopgewoontes te verander en meer beskeie aan te trek.

M. B., Verenigde State

Ek is tien jaar oud, en my onderwyseres het ons gevra om navorsing oor modes te doen en dit skool toe te bring. Ek het ’n afskrif van die artikel “Die donker kant van die modewêreld” saamgeneem. Die onderwyseres het afskrifte vir die hele klas gemaak!

G., België

Ek is ’n 19-jarige meisie, en dit is vir my moeilik om nie beïnvloed te word deur wat as die “ideale” vrou beskou word nie. Ek het nie ’n model se figuur nie, en dit laat my baie keer onaantreklik voel. Ek wil dikwels op diëte gaan—selfs drastiese diëte. Kort nadat ek gebid het vir raad oor hoe om hierdie gevoelens te verwerk, het ek hierdie tydskrif ontvang, en dit was die antwoord op my gebed. Baie dankie.

S., Duitsland

Die artikels het my gehelp om te verstaan hoe sinloos dit is om in die mode te wil wees. Ek is 14 jaar oud, en in Italië is dit nie maklik om skool toe te gaan as jy nie ontwerpersklere dra nie—daar word outomaties op jou neergesien! Julle artikels het my geleer dat die belangrikste is om geestelik ryk in God se oë te wees.

F. G., Italië

Orgideë Ek het die artikel “Orgideë in al hulle glorie” (8 September 2003) gretig gelees. Dit het my ’n paar wenke gegee oor hoe om orgideë tuis te kweek, en ek het geleer wat party soorte se name is en waar hulle vandaan kom. Die inligting in die Ontwaak! was presies waarna ek gesoek het.

L.E.C., Bangladesj

Skoon tande Ek moes net vir julle skryf oor die artikel “’n Stokkie wat tande skoonmaak” (8 September 2003). Ek het gewonder hoe mense hulle tande skoongemaak het voordat tandepasta uitgevind is. Ek was dus baie bly oor die artikel!

D. G., Verenigde State

Ek het altyd neergesien op mense wat stokkies kou. Maar ek was verkeerd. Dit lyk asof hierdie kouery voordelig is, en ek sal nou self een gebruik om my tande te beskerm.

A. A., Tsjad

Opstel oor die Slagting Die artikel “Haar opstel het ’n goeie indruk gemaak” (8 September 2003) het gepraat van Jode wat die Dawidster in die konsentrasiekampe gedra het. Maar volgens my eie ondervinding in die Ravensbrück-konsentrasiekamp het die Jode nie die Dawidster gedra nie, maar ’n geel driehoek.

J. R., Suid-Afrika

“Ontwaak!” antwoord: Die Jode het blykbaar nie die Dawidster in die meeste kampe gedra nie. Maar daar is aanduidings dat dit in sekere kampe gedra is.

Afknouery Ek is nie een van Jehovah se Getuies nie. Maar die reeks “Afknouery—Wat kan jy daaromtrent doen?” (22 Augustus 2003) was baie tydig. Afknouery deur leerlinge by my dogter se skool het baie ernstig geword. Ek het met haar daaroor gepraat, soos julle voorgestel het, en kon haar ondersteun en help. Dankie dat julle vir mense omgee.

T. M., Oekraïne