Waar kan jy antwoorde vind?
Waar kan jy antwoorde vind?
VOEL jy soms ’n bietjie geïrriteerd deur die debat wat voortwoed oor evolusie versus die skepping? Indien wel, is jy nie alleen nie.
Jy het immers aan die een kant van die geskil ’n klompie hoogs geleerde wetenskaplikes en akademici, wat dikwels uiters tegniese taal gebruik en nadruklik beweer dat jy die evolusieteorie as feit moet aanvaar as jy geleerd en intelligent is. Aan die ander kant het jy ewe aanmatigende godsdiensyweraars wat emosioneel gelaaide retoriek gebruik en sê dat jy met hulle interpretasie van die skeppingsleer moet saamstem as jy ware geloof het.
Sulke uiterste beskouings skrik talle redelike mense af. Die geskil oor die bestaan van God verdien meer as selfvoldane, dogmatiese bewerings. Onthou, hierdie geskil is nie net ’n onderwerp vir debatte, of net ’n intellektuele oefening nie. Die geskille wat hierby betrokke is, kan jou lewe en jou toekoms raak.
’n Algemene probleem onder wetenskaplikes
Soos ons gesien het, is daar heelwat gerespekteerde, hoogs geleerde wetenskaplikes wat sê dat die getuienis op die bestaan van ’n Ontwerper of Skepper dui. ’n Paar gaan selfs verder. Hulle bevraagteken die wetenskaplike integriteit van hulle kollegas wat die bestaan van God dogmaties ontken.
Die geofisikus John R. Baumgardner sê byvoorbeeld: “In die lig van die feit dat die kanse so verstommend klein is, hoe kan enige wetenskaplike met selfs ’n greintjie eerlikheid die kompleksiteit wat ons in lewende stelsels waarneem, aan die hand van toevallige wisselwerking probeer verklaar? Om dit te doen terwyl jy ten volle
bewus is van hoe klein die kanse is, is na my mening ’n ernstige skending van wetenskaplike integriteit.”Die beroemde fisikus Richard Feynman het nog ’n faset van wetenskaplike integriteit genoem. By ’n gradeplegtigheid het hy in ’n toespraak gepraat oor “’n spesifieke, bykomende soort integriteit”. Hy het gesê dat dit onder andere beteken dat ’n mens “jou allerbeste sal doen om te toon in watter opsig jy dalk verkeerd is”. Dit, het hy gesê, “is ons verantwoordelikheid as wetenskaplikes, beslis teenoor ander wetenskaplikes, asook, dink ek, teenoor leke”.
Hoe dikwels kom ons evolusioniste teë wat frases soos “dalk verkeerd” met betrekking tot hulle teorieë gebruik? Ongelukkig lyk dit of sulke beskeidenheid iets seldsaams onder hulle is. In werklikheid behoort beskeidenheid en integriteit meer wetenskaplikes te laat erken dat die wetenskap, wat beperk is tot die studie van die fisiese heelal, nie juis in ’n goeie posisie is om vrae oor die bestaan van ’n Skepper te beantwoord nie. Maar wat van godsdiensleiers wat die skeppingsleer voorstaan?
’n Algemene probleem onder godsdiensyweraars
Beskeidenheid en integriteit is ook onder godsdiensleiers iets seldsaams. Waar is die integriteit wanneer daar beweer word dat die Bybel dinge leer wat dit glad nie leer nie? Waar is die beskeidenheid wanneer persoonlike beskouings en geliefkoosde tradisies bo die Bybel gestel word? Dit is presies wat baie aanhangers van die skeppingsleer gedoen het.
Aanhangers van die skeppingsleer sê byvoorbeeld dikwels dat die ganse heelal ongeveer 6 000 jaar gelede in ses letterlike dae van 24 uur geskep is. Met hierdie soort leringe verdraai hulle die Bybel, wat sê dat God die hemel en die aarde “in die begin” geskep het—op ’n onbekende tydstip voordat die meer spesifieke “dae” van die skepping begin het (Genesis 1:1). Dit is betekenisvol dat die woord “dag” volgens die Genesisverslag op meer as een manier verstaan kan word. In Genesis 2:4 word al ses dae wat in die vorige hoofstuk beskryf is, een dag genoem. Dit is logies dat dit nie letterlike dae van 24 uur was nie, maar lang tydperke. Elkeen van hierdie tydperke was klaarblyklik duisende jare lank.
Godsdiensleraars misgis hulle alte dikwels net soveel wanneer hulle oor geloof praat. Party gee blykbaar te kenne dat geloof behels dat ’n mens vas glo aan iets waarvoor daar geen grondige bewys is nie. Vir talle denkende mense klink dit meer soos liggelowigheid. Die Bybel definieer geloof heeltemal anders: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Ware geloof is dus nie blote liggelowigheid nie. Dit is op redelike waarborge, op onweerlegbare bewyse, of getuienis, gebaseer.
Op watter getuienis is geloof in God dan gebaseer? Daar is twee bewysgronde, wat albei baie oortuigend is.
’n Ondersoek van die getuienis
Die apostel Paulus is beweeg om te skryf dat God se “onsigbare eienskappe . . . van die wêreld se skepping af duidelik gesien [word], omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Wyse manne en vroue neem al duisende jare lank getuienis van God se bestaan in die sigbare wêreld waar.
Soos ons gesien het, kan die wetenskap ’n nuttige instrument hiervoor wees. Hoe meer ons oor die kompleksiteit en orde van die heelal leer, hoe meer rede het ons om ontsag te hê vir die Een wat dit alles ontwerp het. Party wetenskaplikes is bereid om sulke getuienis te aanvaar en vind dit oortuigend. Hulle sal ongetwyfeld erken dat die wetenskap hulle gehelp het om God te vind. Ander wetenskaplikes sal blykbaar nie deur enige hoeveelheid getuienis oortuig word nie. Wat van jou?
As jy bereid is om die getuienis oor hierdie saak te ondersoek, spoor ons jou aan om dit te doen. Die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? is bedoel om jou te help in hierdie lewensbelangrike soeke na antwoorde. a Verder sal dit jou help om ’n tweede versameling van bewyse vir die bestaan van God te oorweeg: die Bybel.
Die Bybel bevat baie getuienis dat dit deur ’n bomenslike intelligensie geïnspireer is. Dit bevat Matteus 24:3, 6, 7; Lukas 21:10, 11; 2 Timoteus 3:1-5). Mense kan nie betroubare voorspellings van die toekoms maak nie. Wie behalwe God kan so iets doen?
byvoorbeeld baie profesieë, of geskiedenis wat vooruit geskryf is. Party hiervan beskryf die einste toestande wat in ons hedendaagse wêreld bestaan! (Maar die Bybel help ons nie net om die vraag te beantwoord of God bestaan nie. Dit leer ons ook wat sy persoonlike naam is, beskryf sy persoonlikheid en vertel hoe hy deur die jare heen belangstelling in die mensdom getoon het. Dit openbaar selfs wat hy vir ons in gedagte het. Die wetenskap is magteloos om ons te help om antwoorde op enige van hierdie gebiede te vind. Ja, die wetenskap kan nie vir ons blywende hoop gee nie. Dit kan ons ook nie behoorlike sedes en waardes gee nie.
’n Grondslag vir sedes en waardes
Ongelukkig lyk dit of die neiging van die wetenskap soos dit vandag deur party beoefen word, sedes, waardes en standaarde ondermyn. Die bioloog Richard Dawkins, wat die idee van God verwerp, het gesê: “In ’n heelal van blinde fisiese kragte en genetiese replisering gaan sommige mense seerkry, gaan ander die geluk aan hulle kant hê en gaan jy geen redelike verduideliking of geregtigheid daarin vind nie.” Klink dit vir jou na ’n taamlik sombere beskouing van die wêreld? Dink jy nie dat die mensegemeenskap sedewette nodig het wat goeie gedrag beloon en oortredings straf nie?
Dít is ’n uiters belangrike verskil tussen die Bybel se beskouing van die mens en die beskouing van ateïstiese evolusioniste. God se Woord beklemtoon dat die mens ’n spesiale plek in die skepping beklee; evolusie gee te kenne dat die mens die toevallige produk van blinde prosesse in die natuur is. Die Bybel verduidelik dat die mens na die beeld van ’n regverdige en liefdevolle God gemaak is en in staat is om ’n sedelike en goeie lewe te lei; evolusie, met die klem wat dit plaas op die stryd om oorlewing, kan nie verklaar waarom mense liefde en onbaatsugtigheid openbaar nie.
Evolusie kan geen ware hoop of doel in die lewe bied nie. Die Bybel vertel ons van die Skepper se grootse voorneme vir ons toekoms. Hy het sy voorneme duidelik bekend gemaak: “Ek sal julle met ’n hoopvolle toekoms seën.”—Jeremia 29:11, Contemporary English Version.
Leer oor die Skepper
’n Wyse psalmis is beweeg om nederig te erken: “Weet dat Jehovah God is. Ons is deur hom gemaak, nie deur onsself nie” (Psalm 100:3). Vir baie denkende mense maak hierdie beskeie erkenning oneindig meer sin as hedendaagse teorieë wat sê dat menselewe die produk van die toeval is.
Die moderne wetenskap bevorder soms die verwaande beskouing dat menslike redenasies en kennis ons belangrikste wegwyser moet wees. Ongelukkig het georganiseerde godsdiens dikwels dieselfde fout begaan. Maar menslike kennis is beperk en sal beperk bly. Al het die apostel Paulus uitgebreide kennis oor geestelike sake gehad, het hy nederig gebly. Hy het hierdie realistiese verklaring gemaak: “Nou sien ons ’n dowwe weerkaatsing in ’n spieël . . . Die kennis wat ek nou het, is onvolledig.”—1 Korintiërs 13:12, The Jerusalem Bible.
Ware geloof in God hang natuurlik nie af van die moderne wetenskap nie. Maar die wetenskap kan die geloof versterk van die waarnemer wat onderskeidingsvermoë het. Ware geloof en geestelikheid is noodsaaklik vir ’n vol en gelukkige lewe (Matteus 5:3). As jy die Bybel gebruik om ’n intieme kennis van Jehovah en sy voorneme met die mens en die aarde te verkry, sal jy uitvind wat die lewe werklik sinvol maak sowel as ’n vaste grondslag vir hoop vind.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prente op bladsy 9]
Hulle eie woorde
Baie wetenskaplikes sê sonder enige aarseling dat hulle in ’n Skepper glo. Hoewel party ’n vae idee het oor wie God is, stem hulle nogtans saam dat die getuienis op ’n intelligente Ontwerper dui. Let op die volgende kommentare:
“As ’n wetenskaplike kyk ek na die wêreld om my en sien ek ingenieursmeganismes wat so merkwaardig kompleks is dat ek tot die slotsom moet kom dat intelligente ontwerp vir hierdie komplekse orde verantwoordelik is.”—ANDREW MCINTOSH, WISKUNDIGE, WALLIS, VERENIGDE KONINKRYK
“Die kompleksiteit van die natuur dui onteenseglik op ’n Skepper. Elke biologiese en fisiese stelsel getuig van merkwaardige kompleksiteit wanneer ’n mens dit eers verstaan.”—JOHN K. G. KRAMER, BIOCHEMIKUS, KANADA
“Die orde in die lewende wêreld is duidelik waarneembaar. Dit is deur ’n bomenslike Krag tot stand gebring wat ek God noem. Dit is in hierdie opsig dat geloof en wetenskaplike waarheid ooreenstem. Dit word glad nie daardeur weerspreek nie, maar vul dit eerder aan en gee ons ’n eenvoudiger begrip van ons heelal.”—JEAN DORST, BIOLOOG, FRANKRYK
“Ek kan my nie die heelal en menselewe sonder ’n intelligente begin voorstel nie, sonder ’n bron van geestelike ‘welwillendheid’ wat nie deur materie en die fisiese wette beperk word nie.”—ANDREI DMITRIJEWITSJ SAKHAROF, KERNFISIKUS, RUSLAND
“Elke dier is in die een of ander opsig uniek ontwerp vir sy besondere omgewing, en ek kan nie anders as om die kompleksiteit van die ontwerp aan ’n Skepper, eerder as aan blinde evolusionêre kragte, toe te skryf nie.”—BOB HOSKEN, BIOCHEMIKUS, AUSTRALIË
[Venster/Prente op bladsy 10]
’n Beoordeling van die Genesisverslag
Gerald Schroeder, ’n voormalige professor van kernfisika, skryf: “Die Bybel vertel in een-en-dertig verse, in ’n paar honderd woorde, van gebeurtenisse wat oor sestienmiljard jaar strek. Dit is gebeurtenisse waaroor wetenskaplikes al letterlik miljoene woorde geskryf het. Die hele ontwikkeling van dierelewe word in agt sinne van die Bybel opgesom. Wanneer die bondigheid van die Bybelverslag in ag geneem word, is die ooreenstemming tussen die verklarings en tydsverloop in Genesis 1 en die ontdekkings van die moderne wetenskap verstommend, veral wanneer ons besef dat al die verduidelikings in hierdie deel van die Bybel honderde, selfs duisende, jare gelede opgeteken is en dus glad nie deur die ontdekkings van die moderne wetenskap beïnvloed is nie. Dit is die moderne wetenskap wat met die Bybel se verslag van ons oorsprong ooreenstem.”—THE SCIENCE OF GOD—THE CONVERGENCE OF SCIENTIFIC AND BIBLICAL WISDOM.
[Prente]
Die Bybel beskryf ses skeppingstydperke
[Prent op bladsy 12]
Die Bybel bevat kragtige bewyse dat dit deur God geïnspireer is