Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom sommige wetenskaplikes in God glo

Waarom sommige wetenskaplikes in God glo

Waarom sommige wetenskaplikes in God glo

DIE wetenskap ontrafel voortdurend nuwe geheime oor die heelal en die lewe wat op ons planeet floreer. Maar wetenskaplikes sowel as leke staan nog steeds voor basiese vrae soos: Hoe het die heelal tot stand gekom? Wat het voor die heelal bestaan? Waarom lyk dit of die heelal spesifiek ontwerp is om lewe te onderhou? Hoe het lewe hier op die aarde ontstaan?

Die wetenskap kan nog steeds nie werklik hierdie vrae beantwoord nie. Party mense twyfel of dit ooit sal kan. Gevolglik het baie gevoel dat hulle hulle beskouings en oortuigings moet heroorweeg. Kom ons ondersoek drie van die raaisels wat daartoe gelei het dat sommige wetenskaplikes nou die bestaan van ’n Skepper begin oorweeg.

’n Fyn ingestelde heelal—Per toeval?

Een belangrike vraag hou verband met die fyn instelling van ons kosmos. Waarom is die heelal toegerus met onveranderlike fisiese wette en met natuurlike konstantes wat in alle opsigte geskik is vir die onderhouding van ’n planeet soos ons s’n en al die lewe daarop?

Wat bedoel ons met fyn instelling? Beskou byvoorbeeld die presiese instelling van vier fundamentele fisiese kragte: elektromagnetisme, swaartekrag, sterk kernkrag en swak kernkrag. a Hierdie kragte het ’n uitwerking op alle voorwerpe in die heelal. Dit is so fyn ingestel en in sulke presiese ewewig dat selfs geringe veranderinge ’n lewelose heelal tot gevolg kan hê.

Vir talle denkende mense moet die verklaring beslis meer as net blote toeval wees. John Polkinghorne, wat vroeër ’n fisikus aan die Universiteit van Cambridge was, het tot hierdie slotsom gekom: “Wanneer ’n mens besef dat die natuurwette ongelooflik fyn ingestel moes wees om die sigbare heelal te kon voortbring, gee dit aanleiding tot die gedagte dat die heelal nie net toevallig ontstaan het nie, maar dat dit met ’n doel bestaan.”

Die Australiese fisikus Paul Davies het ’n soortgelyke punt gemaak: “Daar bestaan geen twyfel nie dat baie wetenskaplikes . . . die idee verwerp dat daar moontlik ’n God, of selfs ’n onpersoonlike skeppingsbeginsel, bestaan.” Hy het bygevoeg: “Self verwerp ek dit nie. . . . Ek kan nie glo dat ons bestaan in hierdie heelal ’n blote gril van die noodlot, . . . ’n toevallige afwyking in die groot kosmiese drama, is nie.”

Die uitdaging van kompleksiteit

’n Tweede probleem wat vandag vir wetenskaplikes ’n uitdaging inhou, het te doen met die verstommende kompleksiteit van die wêreld om ons. Gesonde verstand sê vir ons dat hoe komplekser ’n gebeurtenis is, hoe onwaarskynliker is dit dat dit per toeval sal plaasvind. Neem ’n voorbeeld.

Die vorming van DNS, die boustene van lewe, is afhanklik van tallose chemiese reaksies wat volgens haarfyn presisie moet plaasvind. Drie dekades gelede het dr. Frank Salisbury van die Universiteit van Utah, VSA, die kanse bereken dat ’n eenvoudige DNS-molekuul, wat noodsaaklik is vir die verskyning van lewe, vanself sou vorm. Volgens die berekeninge is die kanse so klein dat dit as wiskundig onmoontlik beskou word. b

Kompleksiteit is veral waarneembaar wanneer lewende organismes komplekse dele het wat nutteloos sou wees sonder ander komplekse dele. Kom ons kyk byvoorbeeld na voortplanting.

Volgens evolusionêre teorieë het lewende dinge aangehou om voort te plant terwyl hulle al hoe komplekser geword het. Maar die wyfie van ’n aantal spesies moes op die een of ander stadium voortplantingselle ontwikkel het wat bevrugting deur ’n mannetjie met komplementêre voortplantingselle vereis. Om die regte aantal chromosome aan hulle nageslag te gee, ondergaan die voortplantingselle van elke ouer ’n merkwaardige proses wat meiose genoem word, waardeur selle van elke ouer met die helfte van die gewone aantal chromosome gelaat word. Hierdie proses voorkom dat die nageslag te veel chromosome het.

Ander spesies sou natuurlik dieselfde proses moes ontwikkel. Hoe het die “eerste moeder” van elke spesie dan die vermoë ontwikkel om met behulp van ’n ten volle ontwikkelde “eerste vader” voort te plant? Hoe kon albei van hulle skielik die vermoë hê om die aantal chromosome in hulle voortplantingselle op die nodige wyse te halveer om ’n gesonde nageslag met eienskappe van albei ouers voort te bring? En as hierdie voortplantingseienskappe geleidelik ontwikkel het, hoe kon die mannetjie en wyfie van elke spesie oorleef het terwyl hierdie noodsaaklike eienskappe nog net gedeeltelik gevorm was?

Selfs met net een spesie is die kanse oneindig klein dat hierdie reproduktiewe onderlinge afhanklikheid per toeval sou ontwikkel het. Daar kan geen redelike verduideliking aangebied word waarom dit in een spesie na die ander sou ontwikkel het nie. Kan ’n teoretiese evolusieproses sulke kompleksiteit verklaar? Hoe kon toevallige, lukrake, doellose gebeurtenisse aanleiding gee tot sulke komplekse, onderling afhanklike stelsels? Lewende dinge besit talle eienskappe wat van beplanning getuig—en op ’n intelligente Beplanner dui.

Baie geleerdes het tot hierdie gevolgtrekking gekom. Byvoorbeeld, die wiskundige William A. Dembski het geskryf dat “intelligente ontwerp” in die “sigbare wêreld . . . slegs bevredigend verklaar kan word as dit aan intelligente oorsake toegeskryf word”. Die molekulêre biochemikus Michael Behe som die getuienis so op: “Jy kan ’n goeie Katoliek wees en in Darwinisme glo. Maar biochemie het dit baie moeilik gemaak om ’n denkende wetenskaplike te wees en daarin te glo.”

’n Onvolledige fossielverslag

’n Derde raaisel wat party wetenskaplikes dronkslaan, hou verband met die fossielverslag. As evolusie oor ontelbare eeue plaasgevind het, kan ons verwag om ’n mag der menigte oorgangsorganismes, of skakels, tussen die vernaamste lewende organismes te vind. Maar al die fossiele wat sedert Darwin se tyd gevind is, was in hierdie opsig teleurstellend. Die probleem met die ontbrekende skakels is juis dat hulle ontbreek!

’n Aantal wetenskaplikes het dus tot die slotsom gekom dat die getuienis ten gunste van evolusie te swak en teenstrydig is om te bewys dat lewe geëvolueer het. Die ruimtevaartingenieur Luther D. Sutherland het die volgende in sy boek Darwin’s Enigma geskryf: “Die wetenskaplike getuienis toon dat elke keer wanneer ’n fundamenteel verskillende lewensvorm, van eensellige protosoa tot die mens, op die aarde verskyn het, dit volledig was en dat die organe en strukture daarvan ten volle gevorm en heeltemal funksionerend was. Die onvermydelike afleiding wat uit hierdie feit gemaak kan word, is dat die een of ander soort intelligensie bestaan het voordat lewe vir die eerste keer op die aarde verskyn het.”

Aan die ander kant stem die fossielverslag volkome ooreen met die algemene volgorde waarin lewensvorme volgens die Bybelboek Genesis verskyn het. Donald E. Chittick, ’n fisiese chemikus wat sy doktersgraad aan die Universiteit van Oregon verwerf het, sê: “’n Noukeurige ondersoek van die fossielverslag sal ’n mens tot die gevolgtrekking lei dat diere volgens hulle soort voortgeplant het, soos Genesis sê. Hulle het nie van die een soort in die ander verander nie. Die getuienis wat ons vandag het, is, soos in Darwin se dag, in harmonie met regstreekse skepping, soos dit in die Genesisverslag beskryf word. Voortplanting onder diere en plante vind nog steeds volgens hulle soort plaas. Trouens, die konflik tussen paleontologie (die studie van fossiele) en Darwinisme is so sterk dat sommige wetenskaplikes begin glo dat die oorgangsvorme nooit gevind sal word nie.”

Waarop die getuienis dui

Die voorafgaande verteenwoordig slegs die puntjie van die ysberg van onbeantwoorde vrae wat diegene dronkslaan wat die getuienis verwerp dat daar ’n Skepper is. Sommige wetenskaplikes besef dat mense God nie op grond van onbetwisbare bewyse en goed deurdagte logika verwerp nie, maar op grond van hoopvolle veronderstellings en raaiwerk.

Die sterrekundige Allan Sandage het dus ná ’n leeftyd van lonende wetenskaplike navorsing en werk gesê: “Dit was my studie van die wetenskap wat my oortuig het dat die wêreld baie komplekser is as wat die wetenskap kan verduidelik. Dit is slegs deur middel van die bonatuurlike dat ek die raaisel van bestaan kan ontrafel.”

[Voetnote]

a Vir meer inligting, sien hoofstuk 2 van die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Hy het veronderstel dat hierdie molekuul die geleentheid gehad het om oor ’n tydperk van viermiljard jaar op 100 000- 000 000 000 000 000 (1020) potensieel lewensonderhoudende planete deur middel van natuurlike chemiese reaksies te ontwikkel. Wat is die kanse dat ’n enkele DNS-molekuul sou gevorm het? Volgens sy skatting, een in 10415!

[Venster op bladsy 6]

Vrae wat wetenskaplikes dronkslaan

◼ Waarom is die vier fundamentele fisiese kragte so verstommend fyn ingestel, waardeur die bestaan van die heelal en lewe moontlik gemaak word?

◼ Hoe kan die ongelooflike kompleksiteit van lewende organismes, wat dikwels nie vereenvoudigbaar is nie, verklaar word?

◼ Waarom is die fossielverslag onvolledig, en waar is die bewys van oorgangsorganismes, of skakels, tussen die vernaamste lewende organismes?

[Venster op bladsy 8]

Bloot toevallig?

Toe National Geographic onlangs die liefdevolle band tussen moeder en kind in ’n treffende voorbladfoto uitgebeeld het, het ’n leser aan die tydskrif geskryf: “Die moeder-en-kind-foto op die voorblad is ’n meesterstuk. Hoe enigeen na daardie lieflike babatjie kan kyk, wat net nege maande vantevore ’n piepklein eierselletjiewas, en kan dink dat hierdie wonderbaarlike ontwikkeling net ’n geval van blinde toeval was, gaan my verstand te bowe.”

Baie sal hiermee saamstem. Die skrywer en voormalige professor van kernfisika dr. Gerald Schroeder vergelyk die moontlikheid dat die heelal en lewe deur blote toeval ontstaan het met die moontlikheid dat iemand die lotery drie keer na mekaar wen: “Voordat jy die derde keer jou wengeld kan gaan haal, sal jy op pad tronk toe wees omdat jy gekonkel het. Die moontlikheid om drie keer na mekaar te wen, of drie keer in ’n leeftyd, is so klein dat dit onbeduidend is.”

[Prente op bladsy 7]

Die swak kernkrag laat ons son teen ’n bestendige tempo brand

Swaartekrag hou voorwerpe op die aarde

Die sterk kernkrag bind die kern van atome saam

Elektromagnetisme is die krag wat vir weerlig verantwoordelik is

As hierdie vier kragte nie fyn ingestel en in presiese ewewig was nie, sou geen lewe moontlik wees nie

[Prente op bladsy 7]

Hoe kon blinde kragte verantwoordelik wees vir iets wat so kompleks is soos ’n enkele sel met sy DNS, om nie eens te praat van ’n mens nie?

[Prente op bladsy 8]

Die fossielverslag kon nie bewys dat lewe geëvolueer het nie