Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hou jou Skepper in gedagte”

“Hou jou Skepper in gedagte”

“Hou jou Skepper in gedagte”

“Hou jou Skepper in gedagte terwyl jy jonk is! In latere jare sal jy met sorge belas wees en sê: ‘Ek geniet die lewe nie meer nie.’”—Prediker 12:1, “Contemporary English Version”.

DIE bogenoemde vers uit die Bybel gee ’n mens baie stof tot nadenke. Jy is net eenmaal jonk. Later sal jy op jou adolessensiejare terugkyk, en jy sal óf baie tevrede óf baie spyt wees. Watter van die twee sal dit wees? Wat kan jy doen om ’n gelukkige toekoms te verseker?

“Hou jou Skepper in gedagte”, spoor die Bybel ons aan, soos hierbo aangehaal word. Hoe kan jy dit doen? Deur God se wette en beginsels, wat in sy Woord, die Bybel, uiteengesit is, getrou na te volg. Nee, dit beteken nie dat jy ’n oninteressante lewe van godsdiensfanatisme moet lei en jou alle genot moet ontsê nie. Inteendeel, as jy jou Skepper in gedagte hou, sal dit tot die grootste geluk moontlik lei. Hoe kan dit wees?

Ter toeligting, stel jou voor dat jy ’n motor en ’n bestuurderslisensie gegee word. Dit gee jou ’n opwindende nuwe vryheid wat jou groot genot kan verskaf. Dink net aan al die plekke waarheen jy kan ry! Maar jou nuutgevonde vryheid gaan met ’n ernstige verantwoordelikheid gepaard. Terwyl jy bestuur, moet jy die verkeersreëls gehoorsaam en op verkeersligte, spoedbeperkings en ander waarskuwingstekens let. Maak hierdie verantwoordelikheid dit vir jou minder lekker om te bestuur? Glad nie! Dit is in werklikheid ’n beskerming. Dit is tog nie lekker om ’n ongeluk te hê nie, of hoe?

Dit geld ook vir die vryheid wat jou Skepper, Jehovah God, jou gee. Namate jy tot volwassenheid groei, laat hy jou toe om te kies hoe jy jou lewe sal gebruik (Deuteronomium 30:19; Spreuke 27:11). Wat ’n ontsagwekkende voorreg is dit tog! Maar hierdie vryheid gaan ook met ernstige verantwoordelikhede gepaard. In sy Woord het Jehovah ‘verkeersreëls’ uiteengesit—standaarde waarvolgens hy wil hê jy moet lewe. Belemmer hierdie standaarde jou geluk? Glad nie! Hulle beskerm jou eerder teen die hartseer en pyn waardeur soveel jongmense vandag geteister word.

Federico, wat nou in sy vroeë dertigerjare is, weet dat dit waar is. As ’n jong man het hy gesien hoe sy skoolmaats by allerhande soorte bedrywighede betrokke raak wat hy geweet het hy moes vermy. “Dit het gelyk asof hulle pret het”, sê hy, “maar ek het nooit gedink dat hulle werklik gelukkig was nie.” Wanneer hy terugkyk, is Federico bly dat hy Bybelstandaarde gehad het wat hom gedurende sy adolessensie gehelp het. “Ja, ek het soos enige jongmens probleme gehad”, sê hy. “Maar die Bybel het my regtig beskerm. En daar was altyd ’n mede-Christen om my te help. Omdat ek Bybelbeginsels volg, is ek gelukkiger as wat ek ooit sou kon dink!”

Jehovah God wil hê dat jy gelukkig moet wees—werklik gelukkig. Dit behels veel meer as die blote skyn van pret wat maar net die onderliggende ellende verberg. Die Bybel sê: “Geniet jou jeug. Wees bly terwyl jy nog jonk is.” Maar dieselfde Bybelvers voeg ’n waarskuwing by. “Onthou”, sê dit, “dat God jou gaan oordeel oor alles wat jy doen.”—Prediker 11:9, Today’s English Version.

Hou jou Skepper in gedagte deur die vryheid wat hy jou gegee het, wyslik te gebruik. As jy dit doen, kan jy verseker wees dat jou Skepper jou in gedagte sal hou en dat hy jou die grootste geluk moontlik sal gee. Die Bybel sê: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:22.

Om jongmense te help om die probleme van adolessensie die hoof te bied, het Jehovah se Getuies ’n boek met 320 bladsye uitgegee met die titel Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk. Tot op hede is amper 34 miljoen eksemplare van hierdie boek al in 77 tale gedruk. Jy kan ’n eksemplaar hiervan kry deur met Jehovah se Getuies in jou omgewing in verbinding te tree.

[Prente op bladsy 8, 9]

Om jou te help om as ’n adolessent suksesvol te wees

Ruim tyd in om God se Woord te lees

Werk hard in die veldbediening

Vermy slegte omgang

Behou goeie kommunikasie met jou ouers

[Erkenning]

Voorblad van brosjure: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.