Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Argeologie danksy smeltende gletsers

Gletsers wat terugtrek, bring baie oorblyfsels aan die lig wat vir geskiedkundiges van groot belang is, sê die Duitse nuustydskrif Der Spiegel. In 1999 het so ’n gletser die oorskot van ’n Indiaanse man wat 550 jaar gelede gesterf het, in die Kanadese Rotsgebergte aan die lig gebring. Die meeste oorblyfsels is egter in die Alpe gevind. Die oorskot van ’n man wat in 1949 verdwyn het, is byvoorbeeld onlangs gevind. Destyds is daar vermoed dat hy sy meisie en buite-egtelike kind in die steek gelaat het. Hy het in werklikheid in ’n gletserskeur geval, en die verloofringe was nog in sy sak. Volgens Harald Stadler, die hoof van gletserargeologie aan die Universiteit van Innsbruck in Oostenryk, is dit enige geskiedkundige se droom om voorwerpe te vind wat verband hou met Hannibal, die bekende Kartaagse bevelvoerder wat die Alpe met 37 olifante oorgesteek het. “’n Olifantbeen sal ’n opwindende vonds wees”, het hy gesê.

Tienerdobbelary

Volgens die Internasionale Sentrum vir Jeugdobbelary by McGill-universiteit “is meer as die helfte van Kanadese jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 17 terloopse dobbelaars, loop 10% tot 15% die risiko om ’n ernstige probleem te ontwikkel en is 4% tot 6% ‘patologiese dobbelaars’”, berig die National Post, ’n koerant van Toronto. Vir sommige kinders begin die probleem in hulle vroeë kinderjare wanneer hulle loterykaartjies as geskenke ontvang of op die Internet begin dobbel. Volgens navorsers het dit daartoe gelei dat meer Kanadese tieners nou by dobbelary betrokke raak as by enige ander verslawende gedrag, soos rook of dwelmmisbruik. Opvoedkundiges hoop dat programme in Kanadese hoërskole om tienerdobbelary te verhoed, die probleem onder beheer sal bring.

’n Hittegolf tref Frankryk

Gedurende die eerste 12 dae van Augustus 2003 het die temperatuur in Frankryk rekordhoogtes bereik. Parys het nog nooit—vandat die temperatuur sedert 1873 opgeteken is—so ’n warm somer ondervind nie. “Volgens [die Franse weerkundige diens] was dit die warmste en langste hittegolf wat hulle nog ondervind het”, berig die natuurtydskrif Terre sauvage. Binne net twee maande het een gletser in die Pireneë, op Frankryk se suidelike grens, byna 50 meter teruggetrek. “Die totale oppervlak van die Pirenese gletsers het binne 150 jaar van tussen 25 en 30 vierkante kilometer tot 5 vierkante kilometer gekrimp”, het die gletserkundige Pierre René gesê. Is dit ’n bewys van aardverwarming? Deskundiges se menings verskil. Maar sommige weerkundiges meen dat hittegolwe waarskynlik in die toekoms ’n algemener verskynsel sal word—’n kommerwekkende moontlikheid as ’n mens in ag neem dat die versengende hitte van verlede somer volgens skatting byna 15 000 sterfgevalle in Frankryk veroorsaak het.

Depressie by mans

“Een van die hartseerste dinge omtrent depressie is dat mense vandag nog onder die wanindruk verkeer dat dit meestal ’n ‘versteuring onder vroue’ is waarteen ‘regte mans’ geneties beskerm is”, sê The Star, ’n Johannesburgse koerant. “Spesialiste sê dat depressie by mans verborge bly omdat mans gesondheidsdeskundiges minder gereeld as vroue besoek en derhalwe minder geleenthede het om oor hulle probleme te gesels” en omdat dit vir hulle moeiliker is om oor hulle “emosionele probleme te praat”. Dokters is dus beter bekend met die simptome wat algemeen voorkom onder vroue wat aan depressie ly. “By vroue”, verduidelik JAMA, “is die simptome van depressie baie anders as by mans.” Wat is sommige van die algemene simptome van depressie by mans? Woede, moegheid, prikkelbaarheid, aggressie, agteruitgang in werkverrigting en ’n neiging van die lyer om hom van dierbares en vriende af te sonder. “Depressie”, voeg ’n Suid-Afrikaanse uitgawe van Reader’s Digest by, “gaan nie altyd met hartseer gepaard nie—veral nie by mans nie.”

Katolieke priesters en Bybelkennis

“Hoe goed ken priesters die Bybel?” Hierdie vraag is deur Andrea Fontana gevra, wat self ’n priester en die hoof van die Turynse Biskopskantoor vir Kategismus is. Fontana het in die Italiaanse Katolieke koerant Avvenire geskryf en gesê dat die vraag opgekom het toe “’n leek [hom] genader en gevra het of die bisdom enige Bybelstudiekursusse aanbied”. In die leek se gemeente “is die Heilige Skrif nooit gemeld nie”. Fontana het die vraag beantwoord en geskryf: “Ongelukkig is daar min [priesters] wat aanhou om die Bybel te bestudeer nadat hulle hulle kweekskoolkursusse voltooi het. . . . Sondagpreke is dikwels die enigste geleentheid wat baie van die getroues kry om iets omtrent die Bybel te hoor en beter daarmee vertroud te raak.” Die leek het gesê dat “hy met Jehovah se Getuies omgaan om meer te leer”.

Probleme wat met vetsug gepaardgaan

Vetsug neem toe in Amerika. Volgens skattings van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming het die aantal oorgewig Amerikaanse volwassenes toegeneem van 12,5 persent van die bevolking in 1991 tot 20 persent in 2003.’n Aantal sakeondernemings is deur hierdie toename geraak. “Net soos die lugrederye, wat in Mei [2003] gewaarsku is dat passasiers swaarder as tevore is en wat gevra is om hulle gewigskattings daarvolgens aan te pas, rus begrafnisondernemers hulle ook met nuwe gereedskap toe om plek te maak vir Amerikaners wat al hoe groter word”, sê The New York Times. ’n Kis van standaardgrootte is 61 sentimeter breed, maar daar is nou kiste beskikbaar wat tot 124 sentimeter breed en voldoende versterk is. “Grafkelders, grafte, lykswaens en selfs die standaardgraaf aan die laaigrawe wat begraafplase gebruik om grafte mee te grawe”, moes ook vergroot word. “Mense word al hoe groter, en bedrywe moet hulle hierby aanpas”, sê Allen Steadham, uitvoerende direkteur van ’n groep wat hulle beywer vir die regte van mense wat oorgewig is.

“Die Dooie See gaan dood”

“Die Dooie See gaan dood, en net ’n grootskaalse ingenieurspoging kan dit red”, sê ’n berig deur Associated Press. Die Dooie See—wat so genoem word omdat waterdiere weens die hoë soutinhoud nie daarin kan lewe nie—is op 400 meter onder seevlak die aarde se laagste watermassa. “Duisende jare lank is die balans [tussen hoë verdamping en invloeiende water] gehandhaaf deur die Dooie See se enigste waterbron, die Jordaanrivier”, sê die artikel. “Maar in onlangse dekades het Israel sowel as Jordanië van die Jordaanrivier se water gebruik vir die besproeiing van groot stroke landbougrond langs die smal rivier wat die twee lande skei, en hulle het sodoende die Dooie See van water beroof.” As niks daaromtrent gedoen word nie, sê ’n Israeliese studie, sal die watervlak aanhou daal met tot een meter per jaar, wat verwoestende gevolge sal inhou vir die omliggende gebied, met inbegrip van die diere en plante. ’n Droogte wat al vyf jaar duur, vererger reeds die Dooie See se probleme.