Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat beteken dit om die hoof van die huis te wees?

Wat beteken dit om die hoof van die huis te wees?

Die Bybel se beskouing

Wat beteken dit om die hoof van die huis te wees?

VOLGENS die Bybel is ‘die man die hoof van die vrou’ (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5:23). Maar baie mense wat beweer dat hulle die Bybel respekteer, meen dat hierdie beginsel van hoofskap nie net verouderd is nie, maar ook gevaarlik is. “As die opvatting dat vroue hulle ‘gedweë moet onderwerp’ [aan hulle mans] tot die uiterste gevoer word, kan dit tot fisiese sowel as emosionele mishandeling lei”, het een egpaar gesê. Ongelukkig is die misbruik van hoofskap aan die orde van die dag. “Vroueslanery”, sê een skrywer, “word in baie lande as heel natuurlik beskou—’n man se voorreg wat in liedjies, in spreekwoorde en tydens huweliksplegtighede bevorder word.”

Party doen aan die hand dat die Bybelbeginsel van hoofskap vir hierdie wrede gedrag verantwoordelik is. Verneder die Bybelse lering van hoofskap vroue en moedig dit gesinsgeweld aan? Wat beteken dit nou eintlik om die hoof van die huis te wees? a

Hoofskap is nie diktatorskap nie

Bybelse hoofskap is ’n liefdevolle reëling en is geensins sinoniem met diktatorskap nie. Dit was die minagting van goddelik ingestelde gesag wat daartoe gelei het dat mans vroue dikwels wreed oorheers het (Genesis 3:16). Sedert die tyd van Eden het mans dikwels hulle gesag misbruik en ander, insluitende vroue en kinders, wreed uitgebuit.

Dit was egter nooit deel van God se voorneme nie. Jehovah verafsku dié wat hulle gesag misbruik. Hy het Israelitiese mans veroordeel wat “verraderlik gehandel” het met hulle vrouens (Maleagi 2:13-16). Daarbenewens sê God dat ‘Sy siel beslis elkeen haat wat geweld liefhet’ (Psalm 11:5). Vroueslaners en ander wat hulle aan mishandeling skuldig maak, kan dus geensins die Bybel gebruik om hulle gewelddade te regverdig nie.

Wat behels behoorlike hoofskap?

Hoofskap is ’n reëling wat God as grondslag gebruik om orde in die heelal te handhaaf. Almal behalwe God is teenoor iemand aanspreeklik. Mans moet hulle aan Christus onderwerp, kinders moet hulle aan hulle ouers onderwerp en alle Christene moet hulle aan regerings onderwerp. Selfs Jesus is aan God onderworpe.—Romeine 13:1; 1 Korintiërs 11:3; 15:28; Efesiërs 6:1.

Onderworpenheid aan leierskap is noodsaaklik vir ’n ordelike, stabiele gemeenskap. So ook is onderworpenheid aan ’n gesinshoof noodsaaklik om ’n sterk, gelukkige en vreedsame gesin te bou. Die afwesigheid van ’n man of ’n vader in die gesin verander nie hierdie feit nie. In sulke gesinne is die moeder die hoof. As daar geen ouers is nie, sal die oudste kind of ’n ander familielid dalk die rol as hoof van die huis vervul. In alle gevalle strek dit gesinslede tot voordeel as hulle behoorlike respek betoon teenoor die een wat die leiding neem.

Die sleutel lê dus daarin dat ons nie die beginsel van hoofskap moet verwerp nie, maar eerder moet leer om hoofskap behoorlik uit te oefen en die regte beskouing daarvan te hê. Die apostel Paulus vermaan Christenmans om die hoof van hulle huisgesin te wees “soos die Christus ook die hoof van die gemeente is” (Efesiërs 5:21-23). Volgens Paulus se woorde is die manier waarop Christus met die gemeente gehandel het, dus die volmaakte standaard van hoofskap. Watter voorbeeld het Christus gestel?

Al het Jesus as die Messias en toekomstige Koning gesag van God ontvang en al was hy baie intelligenter en het hy meer lewensondervinding as sy dissipels gehad, was hy liefdevol, hartlik en medelydend. Hy was nooit ongevoelig, ontoegeeflik of veeleisend nie. Hy het nie sy gewig rondgegooi en almal voortdurend daaraan herinner dat hy die Seun van God is nie. Jesus was nederig van hart. Gevolglik was ‘sy juk sag en sy vrag lig’ (Matteus 11:28-30). Hy was dus genaakbaar en het na ander se menings geluister. Trouens, Paulus sê dat Jesus die gemeente so liefgehad het dat hy “homself daarvoor oorgegee het”.—Efesiërs 5:25.

Hoe kan ’n mens Jesus se hoofskap navolg?

Hoe kan gesinshoofde Christus se eienskappe navolg? ’n Verantwoordelike hoof stel belang in sy gesin se fisiese en geestelike welsyn. Hy doen alles in sy vermoë om die nodige tyd en aandag aan hulle behoeftes as individue en as ’n gesin. Hy stel sy huweliksmaat en sy kinders se belange voor sy eie b (1 Korintiërs 10:24; Filippense 2:4). Deur Bybelbeginsels en -leringe in sy daaglikse lewe toe te pas, verkry die man die respek en ondersteuning van sy vrou en kinders. Onder sy liefdevolle hoofskap kan hulle gesamentlike pogings om enige probleme die hoof te bied, suksesvol wees. As die man dus sy hoofskap op ’n skriftuurlike wyse uitoefen, bou hy ’n gelukkige gesin wat tot God se heerlikheid en eer strek.

’n Verstandige hoof is ook nederig. Wanneer dit nodig is, sal hy geredelik om verskoning vra, selfs al is dit vir hom moeilik om te erken dat hy verkeerd was. Die Bybel sê dat daar redding is “in die veelheid van raadgewers” (Spreuke 24:6). Ja, nederigheid sal ’n gesinshoof ook beweeg om na sy vrou en kinders se mening te luister sowel as om hulle mening te vra wanneer dit gepas is. Deur Jesus na te volg, sal ’n Christenhoof seker maak dat sy hoofskap sy gesin nie net vreugde verskaf en veiligheid bied nie, maar dat dit ook die Insteller van die gesinsreëling, Jehovah God, eer en verheerlik.—Efesiërs 3:14, 15.

[Voetnote]

a Hoewel hierdie artikel hoofsaaklik die rol van ’n man en vader in die gesin bespreek, kan enkelmoeders en weeskinders wat na hulle broers en susters moet omsien, ook baat vind by die beginsels wat vir gesinshoofde geld.

b Die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies, gee praktiese wenke oor hoe om liefdevol na ’n gesin om te sien.

[Prent op bladsy 26]

’n Man wat redelik is, neem die mening van sy vrou en kinders in ag