‘Wat gebeur met my?’
‘Wat gebeur met my?’
“Dit was asof ek eendag wakker geword het en alles verander het. Ek was ’n ander mens in ’n ander liggaam.”—Sam.
WAT is adolessensie? Eenvoudig gestel, dit is die lewenstadium tussen die kinderjare en volwassenheid. Dit is ’n tyd waarin jy dramatiese veranderinge ondergaan—fisies, emosioneel en selfs op sosiale vlak. Aan die een kant is die begin van adolessensie opwindend. Dit beteken immers dat jy besig is om volwasse te word. Aan die ander kant begin ’n mens gedurende hierdie lewenstadium nuwe gevoelens ervaar, en party daarvan kan verwarrend wees—selfs skrikwekkend.
Jy hoef adolessensie egter nie te vrees nie. Dit is weliswaar nie probleemvry nie. Maar dit gee jou ’n wonderlike geleentheid om ’n gelukkige oorgang na volwassenheid te maak. Kom ons kyk hoe dit gedoen kan word—deur eerstens van die probleme te ontleed waarmee adolessente te doen kry.
Die begin van puberteit
Gedurende adolessensie vind veranderinge in jou liggaam plaas wat jou vir voortplanting voorberei. Hierdie proses, wat puberteit genoem word, neem jare om te voltooi, en soos ons sal sien, het dit nie net ’n uitwerking op die ontwikkeling van jou voortplantingsorgane nie.
By meisies begin puberteit gewoonlik tussen die ouderdomme van 10 en 12, terwyl dit by baie seuns tussen 12 en 14 begin. Hierdie is egter net gemiddelde ouderdomme. Volgens The New Teenage Body Book
“het elkeen sy of haar eie spesiale biologiese klok wat bepaal wanneer die verskillende veranderinge wat met puberteit gepaardgaan, sal plaasvind”. Dit voeg by: “Wat as normaal beskou kan word, is baie uiteenlopend.” Daar is dus niks met jou verkeerd as jou puberteitsjare voor—of ná—jou portuurs begin nie.Wanneer dit begin, kan puberteit ’n uitwerking hê op hoe jy lyk, hoe jy voel en hoe jy die wêreld om jou beskou. Kom ons kyk na ’n paar van die fassinerende maar uitdagende aspekte van hierdie unieke lewenstadium.
‘Wat gebeur met my liggaam?’
Puberteit begin met ’n styging in hormoonvlakke, veral van estrogeen by meisies en testosteroon by seuns. Hormonale veranderinge is deels verantwoordelik vir die skynbaar wonderbaarlike fisiese transformasie wat daarop volg. Trouens, nadat puberteit begin, groei jou liggaam vinniger as gedurende enige ander tyd sedert jou babajare.
Op hierdie stadium begin jy geslagsryp word, maar dit is slegs een faset van fisiese ontwikkeling. Jy sal miskien ook vinnig opskiet. Hoewel jy moontlik omtrent vyf sentimeter per jaar gegroei het toe jy nog ’n kind was, is dit nie ongewoon dat jy gedurende die groeistadium van die puberteitsjare twee keer so vinnig groei nie.
Gedurende hierdie hele tydperk sal jy dalk ietwat ongemaklik met jouself voel. Dit is normaal. Onthou dat verskillende liggaamsdele waarskynlik teen verskillende tempo’s groei. Dit kan daartoe lei dat jy effens lomp is en maklik ongelukke maak. Maar wees geduldig—dit is nie hoe die res van jou lewe sal wees nie. Die lompheid van adolessensie sal verbygaan.
Tydens puberteit begin ’n meisie se maandstondes, wat ’n maandelikse uitskeiding van bloed, sekresies en weefselafval uit die baarmoeder is. a Die maandstonde gaan gewoonlik gepaard met krampe sowel as ’n daling in hormoonvlakke. Aangesien dit ’n fisiese sowel as emosionele uitwerking het, kan dit baie ontstellend wees as ’n meisie begin menstrueer. “Ewe skielik moes ek aan iets heel nuuts gewoond raak”, sê Teresa, wat nou 17 jaar oud is. “Dit het my emosies omgekrap, en dit was seer. En dit het elke maand gebeur!”
Daar is geen rede om bang te wees wanneer jy vir die eerste keer menstrueer nie. Dit is immers ’n aanduiding dat jou liggaam normaal funksioneer. Mettertyd sal jy leer om die onaangename aspekte van jou maandstonde te hanteer. Party vind byvoorbeeld dat gereelde oefening pynlike krampe kan verminder. Maar elkeen is anders. Jy sal dalk vind dat jy tydens jou maandstonde fisiese bedrywighede drasties moet verminder. Leer om na jou liggaam te “luister” en dit te gee wat dit nodig het.
Gedurende adolessensie word meisies sowel as seuns al hoe meer bewus van hulle voorkoms. “Dit was toe dat ek werklik begin bewus word het van my voorkoms en begin omgee het wat ander mense daarvan dink”, erken Teresa. “En ek vind dat ek nog steeds die meeste van die tyd gefrustreerd voel met my voorkoms”, sê
sy verder. “My hare wil nie saamwerk nie, my klere pas nie lekker nie en ek kan nie eens klere kry waarvan ek hou nie!”Jou liggaam sal jou dalk in ander opsigte ook frustreer. Jou sweetkliere word byvoorbeeld aktiewer tydens puberteit, wat jou moontlik meer sal laat sweet. As jy gereeld bad of stort en seker maak dat jou klere gewas is, sal dit jou help om liggaamsreuke te beheer. ’n Reuk- of sweetweerder kan ook help.
Gedurende puberteit word die oliekliere in jou vel ook aktiewer, wat puisies en aknee tot gevolg kan hê. “Dit lyk asof die puisies altyd uitslaan juis wanneer ek op my beste wil lyk”, kla ’n jong meisie genaamd Ann. “Is dit my verbeelding of weet puisies wanneer jy hulle die minste wil hê?” Aknee is ook vir Teresa ’n probleem. “Dit laat my lelik en selfbewus voel”, sê sy, “want wanneer mense na my kyk, dink ek dat hulle net my puisies raaksien!”
Seuns kan natuurlik ook velprobleme hê. Trouens, party deskundiges sê dat seuns selfs meer daartoe geneig is as meisies. Hetsy jy ’n jong man of ’n jong vrou is, jy kan daarby baat vind as jy die olierige dele van jou liggaam gereeld was, insluitende jou gesig, nek, skouers, rug en borskas. As jy ook jou hare gereeld was, kan dit help om te voorkom dat olies na jou vel versprei. Daar is ook spesiale produkte vir aknee en puisies. “My ouers het my gehelp om reinigers en salwe te vind”, sê Teresa. “Hulle het my ook gehelp om nie te veel gemorskos te eet nie. Wanneer ek nie gemorskos eet nie en wel baie water drink, verdwyn my aknee so te sê heeltemal.”
’n Ander fisiese verandering wat veral seuns raak, het te doen met die stem. Jou stembande sal waarskynlik tydens puberteit verdik en verleng, wat jou stem geleidelik dieper sal laat word. Met Bill het dit gebeur sonder dat hy eens daarvan bewus was. “Ek het nie besef dat my stem verander het nie”, sê hy, “behalwe dat mense nie meer gedink het ek is my ma of my suster wanneer ek die telefoon antwoord nie.”
’n Stem wat besig is om te verander, sal soms kraak—met ander woorde skielik van ’n lae na ’n hoë toon gaan. “Dit het my baie verleë laat voel”, sê Tyrone, met verwysing na sy tienerjare. “Wanneer ek ook al senuweeagtig of opgewonde geraak het, het dit gebeur. Ek het probeer om nie te emosioneel te raak nie, maar natuurlik het ek dit nie reggekry nie.” Tyrone sê verder: “Ná ’n jaar of miskien twee het dit nie meer gebeur nie.” As dit met jou gebeur, moenie moed verloor nie! Jou stem sal ook binnekort ophou kraak en sy nuwe, dieper toon behou.
‘Waarom voel ek so?’
Dit is nie vir adolessente ongewoon om uiteenlopende pynlike emosies te ondervind nie. Byvoorbeeld, jy sal dalk vind dat jy en jou beste kindervriende van mekaar vervreemd begin raak het. Nie omdat julle ’n groot uitval gehad het nie. Miskien het julle nie meer veel in gemeen nie. Selfs jou ouers—wat gewoonlik die eerstes was by wie jy vertroosting en beskerming gesoek het—lyk dalk skielik outyds en ontoeganklik.
Al hierdie dinge kan ’n tiener sosiaal afgesonder laat voel. “Volgens party navorsers word eensaamheid meer dikwels en meer intens deur adolessente ervaar as deur kinders of volwassenes”, sê een naslaanwerk. Omdat jy bang is dat ander jou as vreemd sal beskou, is jy moontlik
geneig om jou gevoelens en gedagtes te verberg. Of jy is miskien huiwerig om belangstelling in ander te toon omdat jy in jou diepste wese voel dat niemand jou werklik as ’n vriend wil hê nie.Die meeste adolessente, asook baie volwassenes, is soms eensaam. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat hierdie gevoelens mettertyd kan verbygaan. b Onthou, omdat jy ’n adolessent is, is amper alles omtrent jou besig om te verander. Jou beskouing van die lewe, van ander en selfs van jouself verander voortdurend. Trouens, die persoon wat jy in die spieël sien, kan by tye soos ’n wildvreemde lyk! Jy voel dalk soos Steve, 17, wat erken: “Dis baie moeilik om te sê dat jy jouself ken wanneer jy so vinnig verander.”
Een van die beste maniere om eensaamheid teë te werk, is om belangstelling in ander te toon. Dit kan dalk beteken dat jy ander moet leer ken wat nie deel van jou portuurgroep is nie. Weet jy van enige ouer mense wat ’n vriendelike besoek sal waardeer? Kan jy vir hulle takies verrig, veral as hulle hulp nodig het? Die Bybel moedig almal aan—jongmense en volwassenes—om ‘verruim te word’ in hulle liefde vir ander (2 Korintiërs 6:11-13). As jy dit doen, kan dit die weg baan tot wonderlike geleenthede.
Die bogenoemde Bybelvers bevat net een van baie beginsels wat Christenjongmense gehelp het om die uitdagings van adolessensie die hoof te bied. Terwyl jy die volgende artikel lees, dink aan hoe God se Woord ’n kragtige uitwerking op jou lewe kan hê namate jy tot volwassenheid groei.
[Voetnote]
a Aanvanklik kan die maandstonde een keer per maand of meer dikwels voorkom. Die hoeveelheid bloeding kan ook grootliks wissel. Jy hoef nie hieroor bekommerd te wees nie. Maar as jy vir ’n jaar of twee ongereelde maandstonde het, sal jy dalk ’n dokter moet raadpleeg.
b As jy chroniese eensaamheid ondervind of aan selfmoord dink, moet jy hulp kry. Praat onmiddellik met jou ouers of ’n ryp volwassene wat jy in jou vertroue kan neem.
[Venster op bladsy 6]
Ouers is nie volmaak nie
“As kind het ek gedink dat my ouers volmaak is. Maar toe ek ’n tiener word, het hulle amper, wel, minder slim geword. Wat ek bedoel, is dat ek besef het my ouers is nie volmaak nie, en dit het my ontstel. Ongelukkig het dit veroorsaak dat ek hulle menings en oordeel bevraagteken het. Maar deur dure ondervinding het ek weer groot respek vir hulle verkry. Nee, hulle is nie volmaak nie, maar hulle is dikwels reg. En selfs al is hulle nie reg nie, is hulle nog steeds my ouers. Ons word geleidelik meer soos vriende, en ek dink dit is wat gewoonlik met kinders en hulle ouers gebeur.”—Teresa, 17.
[Prent op bladsy 7]
Baie jongmense het hegte vriendskapsbande met ouer mense gesmee