Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wil jy graag skorsieblomme proe?

Wil jy graag skorsieblomme proe?

Wil jy graag skorsieblomme proe?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

WANNEER die skorsieplante blom, lyk die groentetuin meer soos ’n blomtuin. Die mooi geel blom—met sy elegante, eenvoudige ontwerp—ruik na niks nie, maar dit laat beslis ons mond water. Bedoel ons dat mense werklik blomme eet? Ja. Trouens, volgens die tydskrif Cuadernos de Nutrición kan daar gesê word dat Mexiko die land is met die meeste resepte wat blomme as ’n bestanddeel het.

Wat die skorsieblom betref, dit word al eeue lank hier geëet. Van al die skorsiesoorte word die blom van die vingerskorsie waarskynlik die meeste geëet. As ons egter die groente ook wil geniet, moet ons sorg dat ons slegs die manlike blomme gebruik. Ons kyk eenvoudig na die stingel. As daar ’n piepklein skorsie aan is, beteken dit dat dit ’n vroulike blom is en dat ons dit liewer nie moet pluk nie.

Die ligte geur van die skorsieblom gaan goed saam met ’n verskeidenheid geregte. Ons soteer gewoonlik knoffel en uie en miskien ’n paar brandrissies. Wanneer dit alles gegeur en die knoffel deurskynend is, voeg ons ’n paar gewaste en gekapte blomme by, waarvan die stingels verwyder is. Ons bedek dan die mengsel en laat dit ’n paar minute prut. Vingerskorsies wat in blokkies gesny is, vars mieliepitte, ’n bietjie botter en geurige kruie kan ook by die blomme gevoeg word. Ons skep hierdie mengsel op ’n rou tortilla en vou dit toe. Dan maak ons die tortilla op die roosterplaat gaar en kry ons ’n heerlike skorsieblom-quesadilla.

Ons quesadilla is nie net smaaklik nie, maar is ook voedsaam, aangesien die skorsieblom klein hoeveelhede proteïen, kalsium, yster, tiamien, niasien, askorbiensuur en retinol bevat.

Ons maak ook ’n heerlike sop van hierdie blom. Ons volg eenvoudig die stappe hierbo, voeg aftreksel by en bedien dit dan warm. Ons sal dit dalk met ’n bietjie kaas en gebraaide repies tortilla garneer.

Baie ander geregte kan met hierdie veelsydige blom berei word. Maak dus gerus jou eie skorsieblomgereg. Jy sal beslis daarvan hou!