Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wêreld van musiek in jou hande

’n Wêreld van musiek in jou hande

’n Wêreld van musiek in jou hande

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

“DIE allerwonderlikste musiekinstrument”—dit is hoe party die klavier beskou. Dit is veelsydig en gevoelvol en is ewe tuis in die wêreld van klassieke musiek, jazz en populêre musiek. Dit oorheers die konsertverhoog as ’n majestueuse solo-instrument, en tog kan dit ’n sagte begeleiding vir selfs ’n skaam sanger voorsien. Dit is soos ’n “eenmanorkes”, maar kan maklik saam met omtrent enige instrument gespeel word. Dit is al as “die musikale ekwivalent van die kunstenaar se palet” beskryf en was die inspirasie vir van die pragtigste musiek wat nog geskryf is. Wie het die klavier uitgevind, en waarom is dit vandag nog gewild? a

Die klavier se voorlopers

Die harp en die lier is van die vroegste handgeplukte snaarinstrumente (Genesis 4:21). Later was daar die dulsimer, waarvan die speler die snare met klein hamertjies geslaan het. Gedurende die Middeleeue is daar in Europa instrumente ontwikkel met ’n klawerbord om die snare te pluk of te slaan, waarvan die gewildste die klavichord en die klavesimbel was. Die klavichord was ’n reghoekige doos met ’n deksel, en sy snare is van onder geslaan deur klein metaalstafies wat tangente genoem is. Dit kon met gevoel gespeel word, maar die sagte klank daarvan is maklik deur ander instrumente en deur sangers oorskadu. Die groter klavesimbel, wat min of meer soos die moderne vleuelklavier lyk, het lang snare gehad wat met veerpennetjies of plektrums gepluk is. Dit het ’n sterk, resonerende klank voortgebring maar sonder enige variasie in klanksterkte.

Teen 1700, toe nuwe dramatiese, gevoelvolle musiek gekomponeer is, wou musikante ’n klawerbordinstrument hê wat soos die klavichord met gevoel gespeel kon word, maar wat die klanksterkte van die klavesimbel gehad het.

Die klavier word gebore

Die Italiaanse instrumentmaker Bartolomeo Cristofori het die basiese ontwerp van die klavesimbel met die hameraksie van die klavichord gekombineer en klein, leerbedekte houthamertjies gebruik om die snare te slaan. Hy het sy uitvinding die gravicembalo col piano e forte (klavesimbel met sag en hard) genoem, wat verkort is tot die pianoforte, soos die klavier ook genoem kan word. Hier was ’n klawerbordinstrument met ’n voller, ryker klank, wat sag of hard gespeel kon word.

Ongelukkig het Cristofori nie in sy leeftyd gesien hoe suksesvol sy nuwe instrument was nie. Omdat min mense belangstelling daarin getoon het, het hy weer klavesimbels begin maak. Byna 30 jaar ná Cristofori se eerste klavier, het die Duitse orrelbouer Gottfried Silbermann weer na die ontwerp gekyk en sy eie klaviere begin bou. Vakmanne in Duitsland en Oostenryk het verder geëksperimenteer en hulle daarop toegespits om ’n kleiner, ligter model te bou, wat ’n reghoekige klavier genoem is.

In Engeland was ’n ander groep klaviermakers aan die werk. Hulle het in die laat 1750’s uit Duitsland geëmigreer. Een van hulle, Johannes Zumpe, het ’n weergawe van die reghoekige klavier ontwikkel wat goed verkoop het. Sébastien Érard van Frankryk en ander klaviermakers in Europa en Amerika het verdere verbeteringe aangebring. Die skerpsinnige Skotse kabinetmaker John Broadwood het besef dat die klavier ideaal sou wees vir die jong dames uit die nuwe welvarende middelklas. Kort voor lank het sy maatskappy baie reghoekige en vleuelklaviere vervaardig.

Die volgende uitdaging was om ’n kompakte klavier te ontwerp wat die voortreflike klank van ’n vleuelklavier gehad het. Klaviere is dus gebou met die snare wat vertikaal loop, nie horisontaal nie, en hulle het al hoe groter geword. Die vertikale snare van een Broadwood-model het 2,7 meter bo die klawerbord uitgestyg; maar aangesien dit besonder topswaar was, was dit te gevaarlik om daarop te speel! ’n Ander staanklavier, wat die girafklavier genoem is, was in werklikheid ’n vleuelklavier wat op sy kop gedraai is met sy stert in die lug. John Isaac Hawkins, ’n Engelsman, het in 1800 die eerste suksesvolle staanklavier ontwerp deur die onderste punt van die snare naby die vloer te plaas. Dit het uiteindelik tot die uitfasering van die reghoekige klavier gelei.

Komponiste ontdek die klavier

Intussen het komponiste die klavier begin ontdek. Toe die jong Wolfgang Amadeus Mozart in 1777 Johann Stein se werkswinkel in Beiere besoek het om die nuwe instrument op die proef te stel, was hy beïndruk. Hy het kort daarna begin musiek skryf daarvoor, en binne vier jaar niks minder nie as 15 klavierkonserte gekomponeer! Maar dit was Ludwig van Beethoven wat ’n paar jaar later baie gedoen het om die moontlikhede van hierdie nuwe instrument bekend te stel. Hy het die klavier laat lewe, dit as ’t ware laat sing. Hier was die instrument waarvoor die musiekwêreld gewag het, en ’n nuwe golf romantiese, passievolle musiek het oor die wêreld gespoel. Frédéric François Chopin, “die digter van die klavier”, het daarin die volmaakte medium gevind om uiting te gee aan gedagtes en gevoelens. Franz Liszt het opwindende oorspronklike musiek geskryf wat die klavier na ’n orkes laat klink het. Hy het gehore ook in vervoering gehad met sy meesterlike uitvoerings.

Ongelukkig het die klavier se houtraam en dun snare die harde, passievolle musiek van ’n volle konsert met moeite deurstaan. Klaviermakers het dus begin om ysterversterkings by te voeg totdat hulle ’n ysterraam wat in een stuk gegiet is, vervolmaak het. Gevolglik kon hulle dikker snare en swaarder hamertjies gebruik om groter klanksterkte voort te bring. Die ietwat onverfynde klank is reggestel deur die hamertjies met vilt te bedek. Langer snare wat skuins oor korteres gespan is, het die klank verder verbeter en ook ruimte bespaar. Die moderne klavier is gebore, en daarmee saam het tientalle groot pianiste gekom wat geesdriftige gehore na konsertsale laat stroom het, gretig om na hulle groeiende repertoire van klaviermusiek te luister. Intussen moes klaviermakers in Europa en Amerika so vinnig as wat hulle kon instrumente massaproduseer om in die fenomenale aanvraag te voorsien.

Klaviere oral

Aan die begin van die 20ste eeu móés elke huis eenvoudig die nuwe statussimbool hê, of enigiemand in die huis daarop kon speel of nie. Klavierspelers was in aanvraag om klante en reisigers te vermaak, agtergrondmusiek vir die nuwe stilprente te voorsien en om aan ’n groeiende aantal entoesiastiese amateurs lesse te gee. Gesinsamekomste het rondom die klavier plaasgevind. Amateurs het hulle eie musiekkonserte aangebied. Nuwe klaviermusiek het gereeld verskyn. Opvallend verskillende speelstyle het ook ontwikkel—die aansteeklike, gesinkopeerde ragtime, die stadige ritme van die blues, die polsende maatslag van die boogie-woogie.

Ná die Eerste Wêreldoorlog was daar ’n insinking. Van ’n produksiehoogtepunt van 600 000 wêreldwyd in 1910 het klavierverkope geleidelik afgeneem. Die grammofoon, radio, platespeler en uiteindelik televisie het oorgeneem as tuisvermaak. Maar die wêreld het nie die laaste van die klavier gesien nie. Nuwe tegniese vooruitgang ná die Tweede Wêreldoorlog het ’n oplewing laat plaasvind. Teen 1980 het die produksiesyfer tot meer as 800 000 geklim. Vandag se ligter klaviere word van plastiek en allooie gemaak, en hulle wit klawers word met ’n sintetiese materiaal bedek in plaas van ivoor. Japan het een van die wêreld se grootste klaviervervaardigers geword en in China, waar dit “die koningin van die instrumente” genoem word, het die klavier baie gewild geword.

Wil jy graag leer klavier speel?

In die geval van party instrumente moet ’n mens baie oefen voordat jy selfs ’n klank kan voortbring, maar druk ’n paar note in die regte volgorde op ’n klavier en jy maak al klaar musiek! ’n Paar mense het die gawe om op gehoor te speel. Maar die meeste mense vind dat hulle gou uit eenvoudige, doen-dit-self-gidse kan leer om ’n deuntjie met hulle regterhand te speel terwyl die linkerhand die begeleiding voorsien. Stel jou voor hoe ingenome jy sal wees as jy ’n geliefkoosde melodie self met behulp van bladmusiek kan speel! Sal jy ’n roerende mars, ’n pragtige wals of moontlik ’n geliefkoosde ballade kies? Miskien speel jy ritmiese Latyns-Amerikaanse musiek of dalk ’n bietjie jazz. Hoe lekker is dit tog om saam met ’n vriend ’n duet te speel! Dink ook hoeveel genot jy aan ander kan verskaf as jy ’n groepie vriende begelei terwyl hulle sing of op ander instrumente speel. Maak dit jou nie lus om self te probeer klavier speel nie?

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 November 2002, bladsye 19-21.

[Venster op bladsy 21]

Die pianola

Vir mense met min klawerbordondervinding was die pianola die antwoord. Dit was ’n kombinasie van ’n musiekdoos en ’n klavier, en sy klawers het vanself op en af beweeg, geaktiveer deur gate in ’n bewegende rol papier. In die vroeë modelle van die 1890’s het ’n meganisme vooraan die klavier die klawers met houtvingers afgedruk terwyl die speler die pedale getrap het. In latere modelle was die meganisme in die klavier ingebou. Die meer gevorderde “reproduksieklavier” het die werklike uitvoerings van groot pianiste herskep, en hulle opgeneemde klavierrolle is gereproduseer om, soos hedendaagse CD’s, plate of bandopnames, verkoop te word. Teen 1925 is meer pianolas as konvensionele instrumente in die Verenigde State vervaardig. Maar as gevolg van die koms van die radio en die grammofoon het die pianola teen die 1930’s amper heeltemal verdwyn.

[Erkenning]

Culver Pictures

[Venster/Diagram op bladsy 22, 23]

Hoe ’n vleuelklavier werk

Meer as 200 parallelle snare van styfgespande staaldraad bring 88 note voort. Kort, dun snaartjies wat vinnig vibreer, bring hoë note voort, terwyl lang, dik snare, wat dikwels met koper omhul is, basnote voortbring. Al die note, buiten die laagste basnote, word deur twee of drie snare voortgebring wat eenders gestem word.

Wanneer ’n speler ’n klawer (1) op ’n klavier druk, laat hefbome ’n viltbedekte hamer teen een of meer snare van daardie klawer se noot slaan en oombliklik weer terugskiet. As die speler sy vinger op die klawer hou, hou die snaar aan om te vibreer sodat die klank stadig wegsterf. Wanneer die speler sy vinger van die klawer (2) afhaal, druk ’n demper teen die snaar om die klank te demp. As die regterpedaal onderaan die klavier getrap word, lig dit al die dempers op en laat dit die opeenvolgende note ineenvloei.

Die snare span oor strokies hout wat bruggies (3) genoem word en vas is aan die klankbord (4) van hout. Dit vibreer saam met die snaar en versterk die noot se klank en resonansie grootliks. Die houtkas buiteom tree soos ’n klankkas op en versterk die klank verder.

Die snare word met staalpenne (5) aan ’n raam van gietyster geheg. Die raam van ’n vleuelklavier moet sterk genoeg wees om ’n gekombineerde trekspanning van 30 ton te kan weerstaan.

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Demper

Snaar

Hamer

Klawer afgedruk

Klawer in normale posisie

[Prent]

Die oudste van Cristofori se klaviere wat nog bestaan, 1720

[Erkenning]

The Metropolitan Museum of Art, The Crosby Brown Collection of Musical Instruments, 1889. (89.4.1219) Photograph ©1983 The Metropolitan Museum of Art