Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bedrog—’n Wêreldwye probleem

Bedrog—’n Wêreldwye probleem

Bedrog—’n Wêreldwye probleem

WAYNE was sjarmant en saggeaard en het vir Karen na die ideale man gelyk. “Hy was alles waarvoor ek nog altyd gehoop en gebid het”, het Karen gesê. “Almal wat ons gesien het, het gedink dat ons volmaak by mekaar pas. Hy het gemaak asof hy my verafgod.”

Maar daar was ’n probleem. Wayne het vir Karen gesê dat hy derde in bevel van die Australiese Geheime Diens is. Hy wou bedank, maar hulle sou dit nie toelaat nie. Hy het te veel geweet. Hulle sou hom doodmaak! Die paartjie het saam ’n plan beraam. Hulle sou trou, hulle bates saamgooi, uit Australië padgee en na Kanada vlug. Karen het haar huis en al haar ander besittings verkoop en die geld aan Wayne toevertrou.

Hulle het getrou, soos hulle beplan het. Wayne het uit die land gevlug, maar Karen is agtergelaat en in die steek gelaat, met minder as dertig rand in die bank. Sy het gou uitgevind dat sy vasgevang is in ’n web van gekompliseerde leuens wat gespin is met die uitsluitlike doel om haar te beroof. Soos ’n toneelspeler het Wayne ’n rol vertolk—’n rol wat fyn uitgedink is om haar tot hom aangetrokke te laat voel. Sy agtergrond, sy belangstellings, sy persoonlikheid en sy kastige liefde vir haar was alles versinsels om haar vertroue te wen—’n vertroue wat haar meer as R1,32 miljoen uit die sak gejaag het. ’n Polisiebeampte het gesê: “Sy is emosioneel verkrag. Dit is eenvoudig ongelooflik hoe seer iemand gemaak kan word—en dan praat ons nie eers van die geld nie.”

“Ek voel emosioneel verward”, het Karen gesê. “Hy was nie die man wat hy voorgegee het hy is nie.”

Karen is maar een van die talle slagoffers van bedrog oor die hele wêreld. Dit is nie bekend hoeveel geld mense weens bedrog verloor nie, maar daar word geskat dat dit biljoene rande beloop, en dit neem elke jaar toe. Slagoffers soos Karen ly nie net ’n finansiële verlies nie, maar ervaar ook baie emosionele pyn in die wete dat iemand—dikwels iemand wat hulle vertrou het—van hulle misbruik gemaak het.

Voorkoming is die beste beleid

Bedrog word omskryf as “’n plan of opsetlike misleiding om geld te bekom deur van valse voorwendsels, voorstellings of beloftes gebruik te maak”. In die meeste gevalle bly bedrog ongelukkig ongestraf omdat dit dikwels moeilik is om te bewys dat iemand werklik doelbewus mislei is. Bowendien verstaan en gebruik baie swendelaars skuiwergate in die wet—hulle weet hoe om mense te bedrieg op maniere wat dit moeilik of onmoontlik maak om hulle geregtelik te vervolg. Wat meer is, dit verg baie tyd en geld om ’n strafsaak teen ’n swendelaar aanhangig te maak. Mense wat skuldig bevind word aan hulle misdade, is gewoonlik diegene wat miljoene rande gesteel het of wat iets so skokkends gedoen het dat dit groot opspraak verwek. Selfs wanneer ’n swendelaar gevang en gestraf word, sal hy of sy waarskynlik alreeds die gesteelde geld bestee of weggesteek het. Gevolglik kry slagoffers selde die geld terug wat hulle verloor het.

Kortom, as jy ’n slagoffer van bedrog word, sal jy waarskynlik min of niks daaromtrent kan doen nie. Dit is baie beter om te voorkom dat jy ’n slagoffer word as om ná die tyd aan ’n manier te probeer dink om jou geld terug te kry. ’n Wyse man het lank gelede geskryf: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan” (Spreuke 22:3). Die volgende artikel sal maniere bespreek waarop jy jou teen bedrog kan beskerm.