Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Eksotiese vrugte uit die Amasone

Eksotiese vrugte uit die Amasone

Eksotiese vrugte uit die Amasone

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

AÇAÍ, BACURI EN CUPUAÇU. Weet jy wat hierdie woorde beteken? Miskien, as jy in Brasilië woon. Dit is die name van drie eksotiese vrugte uit die Amasone-streek. Brasiliane geniet die unieke geure van hierdie vrugte veral in bevrore nageregte. Maar dit het ook ander gebruike. Kom ons leer meer oor hierdie merkwaardige vrugte uit die oerwoud.

Die voedsame açaí

Die açaí-boom (Euterpe oleracea), ’n slank tropiese palmboom, floreer in bedompige vloedvlaktes en moerasse en veral in die mondings van die Amasone- en Tocantins-rivier in die staat Pará. Langs Brasilië se Atlantiese kus kom dit van die staat Pará tot die staat Bahia voor. Wanneer jy in ’n gebied is waar açaí groei, staan jy heel moontlik in water en tap die sweet jou af. Die açaí-palm se dun maar stewige stam word tot 23 meter hoog en het ’n blaarkroon.

Van Augustus tot Desember dra die palm ses tot agt swaar trosse açaí, en elkeen bestaan uit tussen 700 en 900 vrugte, wat so groot soos kersies is. Maar hoe pluk ’n mens die açaí, wat hoog in die boom groei? Party klimmers gebruik blare van korter açaí-bome en maak ’n gordel daarvan. Die klimmer sit sy voete in die gordel en druk daarmee teen die boomstam. Met sy voete stewig teen die stam, vat hy die stam bo sy kop vas en trek hy homself op; só klim hy dan teen die boomstam op totdat hy bo uitkom. Daar kap hy ’n tros af. Gooi hy dit net ondertoe? Nee, want dit sou die vrugte beskadig. Hy klim af soos hy opgeklim het, maar dié keer balanseer hy die vrugte.

Hoe word açaí voorberei? Eduardo, ’n jong man van Pará, verduidelik: “My ma sit die açaí in ’n pot warm water. Dan roer sy die vrugte totdat die vel en die dun laag donkerblou vleis van die groot sade afkom.” Die vrug bevat baie kalorieë en is ryk aan yster, kalsium, fosfor, kalium en vitamien B1 en B2. Omdat açaí soveel voedingswaarde het, is dit te verstane waarom dit so gewild is onder atlete en waarom moeders dit so graag vir hulle kinders gee! Baie Brasiliane geniet dit om ’n drankie te drink wat van açaí, water, suiker en kassawestysel gemaak word. Eduardo hou van açaí as ’n geurmiddel op gedroogde garnale en maniok. En wanneer açaí in warm water fyngestamp en deur ’n sif gegooi word, lewer dit ’n dik, aromatiese vloeistof wat as ’n sap bedien word. Maar dit is nie al waarvoor açaí gebruik word nie.

Daar kan nog veel meer met die açaí-palm gedoen word. Palmkool, ’n sagte, wit stof wat in die eindknop van die boom gevind word, is ’n gunstelinglekkerny wat in slaaie gebruik word. Van die wortels word parasietmiddels gemaak, en van die vesels word besems gemaak. Die blare dien as dierevoer of word gebruik om papier van te maak, en die boomstam is ook uiters geskik vir boudoeleindes.

Die bacuri en die cupuaçu

Die bacuri (Platonia insignis) is ’n sierboom wat tussen 20 en 30 meter hoog word. Sy boonste takke is in die vorm van ’n onderstebo tregter. Die vrug is ovaalvormig en is omtrent net so groot soos ’n lemoen, met ’n dik, lemmetjiegeel skil. Die wit, klewerige vleis, waarin die sade sit, het ’n soetsuur smaak en ’n lekker geur. Die sappige vleis is ryk aan fosfor, yster en vitamien C. Brasiliane sit bacuri in strope, jellies, gestoofde vrugte en drankies. Die olierige, rooiswart sade word nie weggegooi nie, maar word gebruik om verskillende velkwale te behandel. Die geel hout van die bacuri-boom word vir bouwerk gebruik.

Die cupuaçu (Theobroma grandiflorum) is verwant aan die bekender kakaoboom (Theobroma cacao). Die vet in cupuaçu-sade is soortgelyk aan kakaobotter, waarvan sjokolade gemaak word. Hoewel die cupuaçu natuurlik voorkom in die bedompige omgewing van die Amasone-bekken, word dit regoor Brasilië verbou. Die boom het baie goed in die kusstaat Espírito Santo aangepas.

Die cupuaçu kry eers ’n kastaiingbruin bas, wat sterk genoeg is om as timmerhout gebruik te word. Dan, in sy agtste jaar, dra die boom trosse blomme en vrugte. Donsige, bruin, ovaalvormige vrugte hang van die lang takke wat met roeskleurige blare bedek is. Elke vrug weeg tussen een en een en ’n half kilogram. Aanvanklik sal jy dalk jou neus optrek weens die sterk reuk. Maar die wit, welriekende, surerige vleis is ideaal om sorbet en ander nageregte mee te maak.

As jy Brasilië ooit besoek, kan jy gerus die verskeidenheid vrugtegeure hier geniet. In roomyswinkels in Brasilië se groter stede is daar al hoe meer tropiese geure om van te kies. Ja, name soos jaca, umbu, biribá, buriti, mangaba, murici, sapoti, cajarana, graviola, maracujá, of jabuticaba is dalk tongknopers. Maar dit sal beslis jou mond laat water!

[Prent op bladsy 15]

“AÇAÍ”

[Erkenning]

André Valentim/Tyba/BrazilPhotos

[Prent op bladsy 15]

’n “Açaí”-plukker klim ’n boom

[Erkenning]

Lena Trindade/BrazilPhotos

[Prente op bladsy 16]

“BACURI”, met boom links

[Erkenning]

Bacuri-vrug: Geyson Magno/Ag. Lumiar

[Prent op bladsy 17]

“CUPUAÇU”

[Prente op bladsy 17]

Heerlike “cupuaçu”-roomys, met die boom op die agtergrond

[Erkenning]

Agtergrond: Silvestre Silva/Reflexo