Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om jou te beskerm teen bedrog

Hoe om jou te beskerm teen bedrog

Hoe om jou te beskerm teen bedrog

JY HET moontlik al mense hoor sê: “’n Mens kan nie ’n eerlike man kul nie.” Soos baie ander sêgoed is hierdie een ook onwaar. Daar is elke dag eerlike mense wat ’n rat voor die oë gedraai word; eerlikheid op sigself beskerm hulle nie. Van die slimste mense in die wêreld beraam planne en voer dit deur om mense van hulle geld te beroof. Meer as honderd jaar gelede het ’n skrywer gesê: “Soms word ’n bedrogspul so goed uitgevoer dat dit dwaas sou wees om nie daardeur mislei te word nie.”

Bedrog het ’n lang geskiedenis wat tot die tuin van Eden teruggevoer kan word (Genesis 3:1-5). Ou skelmstreke het baie variasies, en nuwe skelmstreke word voortdurend uitgedink. Hoe kan jy jou dan beskerm? Jy hoef nie te probeer om al die maniere te leer ken waarop misdadigers mense bedrieg nie. ’n Paar basiese voorsorgmaatreëls sal baie daartoe bydra om te voorkom dat jy ’n slagoffer word.

Beveilig persoonlike inligting

As iemand jou tjekboek of kredietkaarte steel, kan hy dit gebruik om goed mee te koop. As hy inligting aangaande jou bankrekening steel, sal hy dalk tjeks in jou naam kan aanvra en uitskryf. As hy genoeg persoonlike inligting in die hande kry, kan hy jou identiteit aanneem. Nadat ’n misdadiger jou identiteit gesteel het, kan hy geld uit jou bankrekening trek, jou kredietkaart vir betalings gebruik en lenings in jou naam aangaan. a Jy kan selfs in hegtenis geneem word vir ’n misdaad wat jy nie gepleeg het nie!

Om jou teen hierdie soort bedrog te beskerm, moet jy versigtig wees met alle persoonlike dokumente, wat jou bankstate, tjekboeke, bestuurderslisensie en identiteitsdokument insluit. Weier om persoonlike of finansiële inligting aan ander te gee, tensy daar ’n geldige rede is waarom hulle dit moet hê. Dit is veral belangrik wanneer dit kom by kredietkaartnommers en inligting oor jou bankrekening. Gee slegs jou kredietkaartnommer aan iemand wanneer jy iets daarmee wil koop.

Swendelaars wat as asblikgrouers bekend staan, krap in vullis rond op soek na sulke inligting. Dit is raadsaam om papiere waarop persoonlike gegewens verskyn, te verbrand of te versnipper en dit nie net weg te gooi nie. Dit sluit gebruikte tjeks en state van jou bank en makelaar in sowel as ou kredietkaarte, bestuurderslisensies en paspoorte. Dit is ook verstandig om ongevraagde kredietkaartaansoekvorms wat jy deur die pos ontvang, te vernietig, aangesien dit persoonlike inligting bevat wat iemand anders dalk sal misbruik.

Lê gesonde verstand aan die dag

Baie gevalle van bedrog berus op die belofte van onrealisties hoë opbrengste uit beleggings. ’n Algemene kitsrykwordskema is die piramideskema. Hoewel daar baie variasies van hierdie bedrogspul is, is die algemene strategie dat beleggers ander beleggers werf en dan ’n kommissie daarvoor ontvang. b Kettingbriewe werk op dieselfde manier en vra jou om geld aan die mense boaan ’n lys te stuur. Jy word verseker dat jy duisende rande sal ontvang wanneer jou naam bo uitkom.

Piramideskemas stort altyd ineen omdat dit onmoontlik is om aan te hou om nuwe lede te werf. Kyk na die volgende berekening. As vyf mense ’n piramide begin en elkeen nog vyf werf, sal die aantal nuwe lede 25 wees. As hulle elkeen ook vyf werf, sal daar 125 meer wees. Wanneer die werwing die negende vlak bereik, sal daar byna tweemiljoen mense wees wat meer as negemiljoen ander sal moet werf! Diegene wat piramideskemas begin, weet al te goed dat daar ’n versadigingspunt is. Wanneer hulle vermoed dat daardie punt naby is, verdwyn hulle met die geld. Jy sal waarskynlik jou geld verloor, en diegene wat jy gewerf het, sal hulle verlore geld dan van jou probeer terugkry. Onthou, in ’n piramideskema moet iemand anders geld verloor sodat jy geld kan maak.

Bied iemand jou ’n geleentheid om maklik geld te maak of om ’n reusewins op ’n belegging te maak? Hier is ’n waarskuwing: As ’n aanbod te goed lyk om waar te wees, is dit gewoonlik. Moenie dink: “Hierdie geval is anders” en sommer die bewerings van advertensies en aanbevelings van tevrede kopers glo nie. Hou in gedagte dat mense nie sake doen met die doel om geld weg te gee of geheime te deel wat jou ryk kan maak nie. As iemand beweer dat hy spesiale kennis het waarmee jy ’n fortuin kan maak, moet jy jou afvra: ‘Waarom gebruik hy dit nie om homself ryk te maak nie? Waarom mors hy sy tyd om dit aan my te probeer verkoop?’

Gestel daar word vir jou gesê dat jy ’n kompetisie of ’n prys gewen het. Moenie opgewonde raak nie—dit kan ’n bedrogspul wees, waarmee baie mense al gevang is. ’n Vrou in Engeland het byvoorbeeld ’n brief uit Kanada ontvang wat gesê het dat sy ’n prys gewen het, maar dat sy administrasiegeld van R165 moet stuur. Nadat sy die geld gestuur het, het sy ’n oproep uit Kanada ontvang om te sê dat sy die derde prys ter waarde van R1,6 miljoen in ’n lotery gewen het, maar dat sy ’n persentasie van daardie bedrag as verdere administrasiegeld moet betaal. Sy het R16 000 gestuur en niks in ruil daarvoor ontvang nie. As jy vir ’n “gratis geskenk” of ’n prys moet betaal, is dit ’n bedrogspul. Vra jou af: ‘Wat is die moontlikheid dat ek ’n prys gewen het in ’n kompetisie waarvoor ek nie ingeskryf het nie?’

Doen net sake met mense wat ’n goeie naam het

Dink jy dat jy kan aanvoel wanneer iemand oneerlik is? Wees versigtig! Swendelaars weet hoe om ander se vertroue te wen. Hetsy verkopers eerlik of oneerlik is, hulle weet dat jy mense sover moet kry om jou te vertrou voordat jy ’n produk aan hulle kan verkoop. Dit beteken natuurlik nie dat jy almal moet wantrou nie, maar ’n redelike mate van agterdog is belangrik as jy jou teen bedrog wil beskerm. Moenie op jou gevoel vertrou wanneer jy probeer vasstel of iemand eerlik is nie, maar wees eerder op die uitkyk na twee onmiskenbare tekens wat dikwels kenmerkend is van bedrog: Eerstens, lyk die aanbod te goed om waar te wees, en tweedens, probeer die verkoper druk op jou uitoefen om vinnig ’n besluit te neem?

Op die Internet is daar baie aanbiedings wat te goed is om waar te wees. Hoewel daar talle nuttige goedere en dienste op die Internet aangebied word, stel dit misdadigers ook in staat om slagoffers vinnig te bedrieg en anoniem te bly. Het jy ’n e-posrekening? Indien wel, sal jy moontlik vind dat jy rommelpos—ongevraagde kommersiële e-pos—ontvang. Hoewel ’n eindelose verskeidenheid goedere en dienste deur middel van rommelpos aangebied word, is baie daarvan bedrieglik. As jy op ongevraagde e-pos reageer deur vir die een of ander produk of diens geld te stuur, sal jy waarskynlik niks in ruil daarvoor ontvang nie. As jy wel iets ontvang, kan jy feitlik seker wees dat dit nie die geld werd sal wees wat jy daarvoor betaal het nie. Die beste raad is: Moet nooit iets koop by iemand wat vir jou rommelpos stuur nie.

Dit geld ook vir diegene wat iets oor die telefoon aan jou wil verkoop. Hoewel baie wettige sakeondernemings telefoonverkope doen, word mense elke jaar deur middel van bedrieglike telefoonbemarking van biljoene rande beroof. Daar is geen manier om te weet of verkoopspraatjies vertrou kan word as jy bloot praat met iemand wat jou bel nie. ’n Swendelaar kan hom selfs as ’n verteenwoordiger van ’n bank of kredietkaart-beskermingsagentskap voordoen. Jy het goeie rede om agterdogtig te wees as iemand jou bel en sê dat hy by ’n bank of maatskappy werk waar jy ’n rekening het, en inligting vra wat hulle veronderstel is om alreeds te hê. As dit gebeur, kan jy sy telefoonnommer vra. Skakel dan terug nadat jy seker gemaak het dat dit werklik die nommer van die bank of agentskap is.

Dit is verstandig om nie jou kredietkaartnommer of enige ander persoonlike inligting oor die telefoon aan ’n vreemdeling te gee nie. As iemand jou bel om iets aan jou te verkoop wat jy nie wil hê nie, kan jy beleef sê: “Jammer, ek doen nie oor die telefoon sake met mense wat ek nie ken nie.” Lui dan af. Daar is geen rede om ’n ongewenste gesprek te voer met ’n vreemdeling wat jou moontlik wil bedrieg nie.

Doen net sake met sakeondernemings en mense wat ’n goeie naam het. Daar is baie wettige maatskappye waarmee jy veilig oor die telefoon en op die Internet sake kan doen. Vra, indien moontlik, ’n onafhanklike agentskap om die verkoopspersoon, die maatskappy en die belegging na te gaan. Vra inligting oor die belegging en lees dit sorgvuldig deur om seker te maak dat dit eg is. Moenie toelaat dat iemand druk op jou uitoefen om vinnig ’n besluit te neem nie.

Stel dit op skrif

Nie alle bedrog begin as bedrog nie. ’n Eerlike sakeonderneming kan misluk. Wanneer dit gebeur, raak diegene wat dit bestuur, dalk paniekerig en wend hulle hulle tot bedrog om vir hulle verliese te vergoed. Jy het ongetwyfeld al gehoor van sakebestuurders wat gelieg het oor inkomste en wins en wat dan, wanneer die sakeonderneming misluk het, met die res van die geld verdwyn het.

Voordat jy enige groot belegging maak, moet jy die besonderhede op skrif kry sodat jy jou teen bedrog en misverstande kan beskerm. Enige kontrak wat jy onderteken, moet al die voorwaardes van die belegging en die beloftes wat gemaak is, uiteensit. Jy moet ook besef dat niemand kan waarborg dat alles volgens plan sal verloop nie, ongeag hoe veilig ’n belegging lyk (Prediker 9:11). Daar bestaan per slot van rekening nie werklik iets soos ’n risikovrye belegging nie. ’n Ooreenkoms moet dus skriftelik uiteensit wat elkeen se pligte en verantwoordelikhede sal wees indien die sakeonderneming misluk.

Deur bewus te wees van die eenvoudige beginsels wat ons kortliks bespreek het en dit toe te pas, is die kans kleiner dat jy ’n slagoffer van bedrog sal word. ’n Eertydse Bybelspreuk gee waardevolle raad. Dit sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). ’n Swendelaar kies maklike teikens, diegene wat geneig is om alles te glo wat hy sê. Ongelukkig neem baie mense geen voorsorgmaatreëls teen bedrog nie.

[Voetnote]

a Sien die Ontwaak! van 22 Maart 2001, bladsye 19-21.

b ’n Piramideskema word omskryf as ’n “veelvlakkige bemarkingsprogram waarin mense toetreegeld betaal vir die geleentheid om ander te werf om dieselfde te doen”. Sulke skemas het gewoonlik geen produkte nie.

[Lokteks op bladsy 7]

As ’n aanbod te goed lyk om waar te wees, is dit gewoonlik

[Venster/Prent op bladsy 6]

Raad vir slagoffers van bedrog

Slagoffers van bedrog word gewoonlik oorweldig deur skaamte, skuldgevoelens, verleentheid en woede teenoor hulleself. Moenie jouself blameer nie. Jy is die slagoffer; die persoon wat jou bedrieg het, is die skuldige. As jy ’n fout begaan het, moet jy dit erken en dan aangaan met jou lewe. Moenie tot die gevolgtrekking kom dat jy dom is nie. Onthou dat swendelaars dit regkry om hoogs intelligente mense te bedrieg—staatshoofde, bankbestuurders, sakeleiers, finansiële bestuurders, prokureurs en ander.

Slagoffers van bedrog word nie net van geld of besittings beroof nie, maar ook van selfvertroue en eiewaarde. Wanneer iemand deur ’n “vriend” bedrieg word, word sy vertroue geskend. Dit maak seer om bedrieg te word. Gee jouself tyd om die pyn te verwerk. Dit is dikwels nuttig om die saak met iemand te bespreek wat jy in jou vertroue kan neem. Gebed kan ook baie vertroostend wees (Filippense 4:6-8). Jy moet egter besef dat jy op die een of ander tyd moet probeer om daarvan te vergeet. Waarom sou jy die ellende verleng? Stel positiewe doelwitte en streef daarna om dit te bereik.

Wees versigtig vir swendelaars wat mense bel en hulle hulp aanbied om die geld terug te kry wat hulle verloor het. Hulle doel is om hierdie mense weer te beroof.

[Venster/Prent op bladsy 8, 9]

Rommelposbedrog e-posbedrog—Ses algemene metodes

1. Piramideskemas: Dit lyk dikwels na geleenthede om baie geld te maak sonder om hard daarvoor te werk of baie geld te bestee. In een skema ontvang jy ’n rekenaar of ’n ander elektroniese toestel as jy betaal om by ’n klub aan te sluit en dan ander lede werf. ’n Ander variasie is die kettingbrief. Kettingbriewe is feitlik altyd onwettig. Die meeste mense wat daarin belê, verloor hulle geld.

2. Werk-tuis-skemas: In een vorm van hierdie skema word jy die geleentheid gebied om artikels soos juwele, speelgoed of kunshandwerkstelle aanmekaar te sit. Jy belê geld in die materiaal en bestee tyd om die produk aanmekaar te sit, maar vind dan uit dat die mense wat vir jou die werk aangebied het, nie jou produk wil koop nie omdat dit nie aan hulle standaarde voldoen nie.

3. Bedrog in verband met gesondheid en dieet: ’n Oorvloed produkte word op die Internet aangebied, soos pille wat jou help om gewig te verloor sonder dat jy oefen of ’n dieet volg, geneesmiddels vir impotensie en room om haarverlies teë te werk. Saam met hierdie aanbiedings is daar dikwels aanbevelings van tevrede kopers. Algemene frases in hierdie advertensies sluit uitdrukkings in soos “wetenskaplike deurbraak”, “wondermiddel”, “geheime formule” en “eeue-oue bestanddeel”. Die waarheid is dat die meeste van hierdie produkte nie werk nie.

4. Beleggingsgeleenthede: Kenmerkend van hierdie soort bedrog is die hoë opbrengskoerse wat dit bied, met min of geen risiko nie. ’n Algemene vorm hiervan behels dat ’n mens in ’n buitelandse bank belê. Beleggers word gelok deur die versekering dat diegene wat met hulle geld werk, belangrike kontakte in die finansiële wêreld en eerstehandse inligting het.

5. Herstel van kredietwaardigheid: Swendelaars bied aan om negatiewe inligting van jou kredietrekord te verwyder sodat jy aan die vereistes voldoen om ’n kredietkaart, motorlening of betrekking te kry. Ten spyte van hulle versekerings kan hulle nie doen wat hulle belowe nie.

6. Vakansieprysaanbiedings: Jy ontvang ’n e-posboodskap wat jou gelukwens omdat jy ’n spotgoedkoop vakansie gewen het. Party sê dat jy spesiaal gekies is. Onthou dat dieselfde kennisgewing moontlik aan miljoene ander gestuur is en dat die verblyf wat jy sal kry, jou baie minder sal bied as wat geadverteer is.

[Erkenning]

Bron: Amerikaanse Federale Handelskommissie

[Prent op bladsy 7]

Piramideskemas stort altyd ineen

[Prent op bladsy 9]

Enige kontrak wat jy onderteken, moet al die voorwaardes van die belegging en die beloftes wat gemaak is, uiteensit