Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kos tussen die dorings

Kos tussen die dorings

Kos tussen die dorings

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

KOM saam met my na ’n gebied in Suid-Afrika wat die Noorsveld genoem word. Hierdie halfdor streek kry sy naam van die doringagtige vetplante wat noorse, of euforbias, genoem word en volop daar voorkom. Soos in die bygaande prent gesien kan word, word daar in dié gebied met vee geboer, soos hierdie Angorabokke, wat baie waardevol is weens hulle wit wol wat as sybokhaar bekend staan. Hiervan word ’n fyn maar sterk materiaal gemaak wat gebruik word om ’n verskeidenheid artikels, van modieuse klere tot matte, te vervaardig. Maar hoe bly die diere in hierdie droë streek aan die lewe?

Die groepies noorsstingels, waar jy die bokke sien loop, is ’n sleutel tot hulle oorlewing. Hierdie spesifieke soort noors, Euphorbia coerulescens, voorsien in meer as 40 persent van die bokke se winterdieet. Maar die bokke moet versigtig wees dat hulle hulle nie seermaak wanneer hulle tussen die venynige dorings wei nie. Dit word makliker om te wei wanneer hulle leer om die dorings met hulle horings af te breek.

Ná goeie reëns eet die bokke die plante wat om die groepies noorse groei. Maar dit is ook gevaarlik. In sy boek oor die Noorsveld skryf die boer Jurgen Currie: “As ’n Angorabok met sy oulike stringetjies gekartelde hare dit waag om aan die sagte plante te eet wat onder en binne-in die Noorse groei, kan sy hare in die dorings verstrengel raak.” Dit kan sy dood beteken. “As die somerson op sy warmste is, sal so ’n bok binne twee uur dood wees”, verduidelik die Noorsveld-boer.

Van tyd tot tyd is daar strawwe droogtes in die Noorsveld. Dan is die noorse lewensbelangrik. Boere ry met snymasjiene deur die noorse en kap die plante in klein stukkies op. Dit is veiliger en makliker vir die bokke om hierdie opgekapte stingels te eet. Wilde diere neem ook aan die fees deel. “Tydens droogtes”, verduidelik Currie, “maak die koedoe van hierdie lewenslyn gebruik. ’n Mens sien hulle dikwels langs die pad op die wit kolle waar die Noorse opgekap is; hulle vrees vir die mens het verdwyn omdat hulle kos nodig het.”

Hoewel dit kleiner is, is ’n ander soort noors, Euphorbia ferox, oortrek met soveel venynige dorings dat die meeste diere nie die eetbare stingels kan bykom nie. Omdat hierdie noorse teen droogte bestand is, is hulle ook lewensbelangrik. Wanneer die reën wegbly, gaan die boere en hulle werkers van die een groepie noorse na die volgende en brand die dorings af met blaaslampe of op ander maniere. Dit is uitputtende werk. “Nadat die dorings afgebrand is”, verduidelik die boek Veld Plants of Southern Africa, “eet die vee graag die stingels. . . . Springbokke leer ook vinnig om ‘gebrande noorse’ te eet, en hulle word baie mak en wei dikwels . . . na aan die persoon wat die noorse brand.”

Terwyl ons sit en kyk hoe die bokke tussen die noorse wei, kan ons nie anders as om ons te verwonder oor die diversiteit wat in Jehovah se skepping waargeneem kan word nie. Hoewel die noorse onaantreklik en dodelik lyk, is hulle lewensonderhoudend vir baie diere in hierdie droë streek.

[Prent op bladsy 24]

Hierdie spesifieke soort noors voorsien in meer as 40 persent van die bokke se winterdieet

[Prente op bladsy 25]

Noorse in blom, en die gevaarlike dorings van naderby beskou