Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Wolke en olifante

Hoeveel weeg ’n wolk? Een cumuluswolk kan ongeveer 550 ton water bevat, berig ABC News. “Of as jy dalk ’n effens duideliker voorstelling wil maak . . . , dink aan olifante”, sê die weerkundige Peggy LeMone. As ons aanneem dat ’n olifant ongeveer ses ton weeg, dan sal die water in net een tipiese cumuluswolk soveel soos 100 olifante weeg. Al daardie water hang in die lug as piepklein druppeltjies wat op die stygende warmer lug dryf. In teenstelling met ’n donserige cumuluswolk kan ’n groot donderwolk water bevat wat soveel soos 200 000 olifante weeg. Wat van ’n orkaan? LeMone het geskat hoeveel die water in een kubieke meter van ’n orkaanwolk weeg en het daardie syfer met die totale volume van die orkaan vermenigvuldig. Wat was die resultaat? ’n Gewig gelykstaande aan veertigmiljoen olifante. “Dit beteken dat die water in een orkaan meer as al die olifante op die planeet weeg”, sê die verslag, “miskien selfs meer as al die olifante wat tot nog toe gelewe het.”

Wanneer jy jou tande moet borsel

As jy jou tande borsel onmiddellik nadat jy iets met ’n hoë suurgehalte gedrink of geëet het, kan dit die emalje beskadig, sê die koerant Milenio van Mexikostad. In ’n verslag oor ’n studie wat by die Universiteit van Göttingen in Duitsland gedoen is, waarsku die koerant dat kossoorte met ’n hoë suurgehalte “tandemalje tydelik verswak”. Gevolglik kan dit nadelig wees as jy jou tande onmiddellik ná middagete borsel. “Dit is raadsaam om ’n paar minute te wag sodat die tande kan herstel.”

Nuwe spesie gevind nadat habitat vernietig is

Toe ’n woud op die onbewoonde Carrizal-eiland in Venezuela se Caronírivier uitgekap is om vir ’n nuwe dam plek te maak, is ’n voël ontdek wat voorheen onbekend was, berig die Daily Journal van Caracas. ’n Klein blougespikkelde vink wat in die ondeurdringbare bamboesbosse op die eiland gewoon het, is later ontdek onder die voëleksemplare wat versamel is voordat die bome afgekap is. Natuurkenners hoop om nog voëls van die nuutontdekte spesie in ander nabygeleë habitats te vind. Intussen, sê die navorser Robin Restall, word die opgewondenheid oor “die ontdekking van die Carrizal-kanarie . . . gedemp deur die wete dat ons nou die plek vernietig het waar dit so lank vir ons weggekruip het”.

Hou jou snybord skoon!

Watter een is die veiligste—’n snybord van hout of een van plastiek? “Al twee borde is veilig mits jy dit baie skoon hou”, sê die UC Berkeley Wellness Letter. “Hetsy jy hout of plastiek gebruik om rou vleis en pluimvee op te sny, jy moet die bord agterna goed skrop met warm seperige water.” As die bord diep snye het of vetterig is, moet jy sorg dat jy dit goed skoonmaak. “Jy kan ’n bord ook ontsmet deur dit met ’n verdunde bleikmiddeloplossing (1 teelepel bleikmiddel in 1 liter water) af te spoel”, sê die Wellness Letter. Hande en messe moet ook deeglik gewas en afgedroog word.

Voorskoolse kinders en rekenaars

Party navorsers sê dat “langdurige rekenaargebruik in plaas daarvan om te speel soos in die verlede”, vir voorskoolse kinders min voordeel inhou en dat dit “tot sosiale onttrekking, konsentrasieprobleme, ’n gebrek aan kreatiwiteit en selfs neerslagtigheid en angstigheid kan lei”, berig die koerant Vancouver Sun. Rekenaars verander ’n kind se wêreld “van ’n driedimensionele en werklike omgewing in ’n wêreld wat deur ’n tweedimensionele virtuele werklikheid oorheers word”, sê die sielkundige Sharna Olfman. Navorsers beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers verbeeldingspeletjies met hulle kinders speel om hulle “woorde, kleure, vorms, syfers en goeie maniere [te leer] en hulle omtrent alledaagse gebeurtenisse” in te lig. Die sielkundige Jane Healy sê dat dit veral van geboorte tot op sewejarige ouderdom belangrik is dat kinders speel soos in die verlede. Sulke speletjies kan help om kinders te leer om aandag te skenk, terwyl rekenaargebruik die teenoorgestelde uitwerking kan hê.

Televisie—’n “verslawende dwelm”

“Kinders wat meer as twee uur per dag TV kyk, presteer swakker op skool”, berig die Spaanse koerant La Vanguardia. Hoewel die kinderspesialis Francisco Muñoz meen dat TV ’n kragtige opvoedkundige hulpmiddel kan wees, wys hy op die nadelige gevolge daarvan om te veel TV te kyk. Muñoz meen dat kinders wat baie TV kyk, swakker presteer omdat hulle “langer neem om volwassenheid te bereik en meer met abstrakte idees sukkel”. Hy sê ook: “Daar bestaan ’n duidelike verband tussen die programme, advertensies en musiekvideo’s waarna gekyk word en alkohol-, tabak- en dwelmgebruik onder adolessente.” Hoewel die kindersielkundige Paulino Castells erken het dat nie alle kinders die slegte gedrag sal naboots wat hulle op TV sien nie, het sy televisie ’n “verslawende dwelm” genoem as gevolg van “die vernietigende uitwerking wat dit op die verstande van jong kinders het”.

Lawaaierige klaskamers

Eggo’s en agtergrondgeraas in klaskamers maak dit vir leerlinge moeilik om in die klas te hoor, berig die Duitse tydskrif Der Spiegel. “Hoe moeiliker dit vir kinders is om te verstaan, hoe minder kan hulle onthou”, sê die sielkundige Maria Klatte. In party skole in Duitsland het navorsers geraasvlakke van tussen 70 en 90 desibel (dB) gemeet. “In werksplekke waar baie dinkwerk gedoen word, moet dit nie 55 dB oorskry nie”, verduidelik Gerhart Tiesler, ’n geraasnavorser. “In nywerhede word gehoorbeskerming aanbeveel vir vlakke wat 85 dB oorskry.” En hoe langer geluide in ’n klaskamer weergalm—hetsy dit ’n gepraat, ’n geskuif van stoele of ’n gehoes is—hoe moeiliker is dit om te konsentreer. Akoestiese plafonne help om geraas en weergalming te verminder, wat die senuwees en stemme van onderwysers en leerlinge spaar, maar baie skole kan nie bekostig om dit te installeer nie.

Supermarkte vervang tradisionele winkels

“Die vinnige toename in die aantal supermarkte oral in die ooste en suide van Afrika bedreig plaaslike markte en gevolglik die bestaansmiddel van boere in landelike gebiede”, sê die Duitse wetenskapnuusbrief wissenschaft-online. In Kenia is 200 supermarkte en 10 hipermarkte reeds verantwoordelik vir 30 persent van die kleinhandelvoedselverkope—wat gelykstaande is aan dié van 90 000 klein winkeltjies. Volgens Kostas Stamoulis van die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie sal vinnige verstedeliking en globalisasie “baie drastieser veranderinge in Afrika se voedselverskaffingstelsel meebring as wat ons in ontwikkelde lande gesien het”. Deskundiges hoop dat ’n ramp afgeweer kan word deur koöperasies te stig om ’n mark vir plaaslike produkte te skep en dat opleiding voorsien kan word om boere te help om die verandering te maak.