Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sedelikheid—Waar kan jy dit vind?

Sedelikheid—Waar kan jy dit vind?

Sedelikheid—Waar kan jy dit vind?

ONS lewe in ’n wêreld waarin sedelike waardes verander. Oneerlike gebruike wat in die verlede veroordeel is, word vandag dikwels deur die vingers gesien. Diewe en swendelaars word baie keer deur die media verheerlik en as helde uitgebeeld. Gevolglik beantwoord baie mense aan die beskrywing in die Bybel: “Wanneer jy ’n dief gesien het, was jy selfs ingenome met hom.”—Psalm 50:18.

Maar swendelaars behoort glad nie bewonder te word nie. ’n Skrywer het gesê: “Wat swendelaars anders maak, is hulle aangebore vermoë, wat dikwels op ’n baie jong ouderdom ontdek word, om die mense om hulle te manipuleer. Daarbenewens laat hierdie manipulasie hulle nie skuldig of spyt voel nie. Inteendeel, dit gee hulle ’n sterk gevoel van genoegdoening—’n besonder aangename gevoel wat hulle aanspoor om aan te hou met hulle manipulasie om te kry wat hulle ook al wil hê, ongeag wat dit die gewer kos.”

Die publiek het natuurlik medelye met ’n weduwee wat van al haar spaargeld beroof is, maar min trane word gestort wanneer iemand geld van ’n groot sakeonderneming verduister of ’n versekeringsmaatskappy bedrieg. Baie redeneer dat sakeondernemings in elk geval ryk is. Maar hierdie bedrog raak nie net die sakeondernemings nie; hulle verliese word van die verbruiker verhaal. In die Verenigde State betaal die gemiddelde gesin byvoorbeeld meer as R6 500 per jaar aan bykomende versekeringspremies om die koste van bedrog te dek.

Baie mense maak ook van geleenthede gebruik om goedkoop namaaksels van produkte met bekende handelsname te koop, soos klere, horlosies, parfuum, skoonheidsmiddels en handsakke. Hulle besef dalk dat die nagemaakte goedere sakeondernemings jaarliks biljoene rande kos, maar hulle dink dat dit hulle nie raak nie. Uiteindelik moet verbruikers egter meer vir die ware Jakob betaal. Bowendien slaan misdadigers munt daaruit wanneer mense nagemaakte goedere koop.

’n Skrywer wat bedrog probeer bekamp, het geskryf: “Ek is oortuig dat die hoofrede waarom daar vandag soveel bedrog is, is dat ons samelewing uiters oneties is. ’n Ernstige agteruitgang in sedelike waardes het ’n kultuur van bedrog geskep. . . . Ons lewe in ’n samelewing wat nie sedelike waardes by die huis leer nie. Ons lewe in ’n samelewing wat nie sedelike waardes op skool leer nie, omdat onderwysers daarvan beskuldig sal word dat hulle sedelikheid leer.”

In teenstelling hiermee leer Jehovah se Getuies ander wel die sedelike standaarde van God se Woord en probeer hulle daarvolgens lewe. Hulle word deur beginsels soos die volgende gelei:

● “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Matteus 22:39.

● “Moet niemand verkul nie.”—Markus 10:19.

● “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk deur met sy hande goeie werk te doen, sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het.”—Efesiërs 4:28.

● “Ons [wil] ons in alles eerlik . . . gedra.”—Hebreërs 13:18.

Hoewel die Getuies nie selfvoldaan of eiegeregtig is nie, glo hulle dat die wêreld ’n baie beter plek sal wees om in te lewe as almal hierdie beginsels toepas. Hulle glo ook in God se belofte dat dit wel eendag die geval sal wees.—2 Petrus 3:13.

[Lokteks op bladsy 11]

Die wêreld sal ’n baie beter plek wees om in te lewe as almal die sedelike standaarde van God se Woord toepas

[Prent op bladsy 10]

Ware Christene volg Bybelbeginsels soos: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”