Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer besorgdheid oor jou voorkoms ’n obsessie raak

Wanneer besorgdheid oor jou voorkoms ’n obsessie raak

Wanneer besorgdheid oor jou voorkoms ’n obsessie raak

WANNEER die meeste van ons in die spieël kyk, sien ons dinge wat ons voel verbeter kan word. Daarom trek ons ons klere reg, kam ons ons hare of sit ons ’n bietjie grimering aan voordat ons met ons dag se bedrywighede voortgaan. Hierdie besorgdheid oor ons voorkoms is normaal en gepas. Maar by sommige mense gaan hierdie besorgdheid tot uiterstes oor en lei dit tot ’n toestand wat liggaamsdismorfiese steurnis, of LDS, genoem word.

The Merck Manual of Diagnosis and Therapy definieer LDS as “beheptheid met ’n tekortkoming in ’n persoon se voorkoms, wat groot ontsteltenis veroorsaak of inbreuk maak op die persoon se sosiale lewe, werk of op ander belangrike gebiede van die lewe”. a Omdat mense wat daaraan ly, dalk dink dat hulle ’n sekere gebrek het of ’n geringe defek oordryf, is hulle beskouing van hulleself ook al denkbeeldige lelikheid genoem.

Professor J. Kevin Thompson van die Universiteit van Suid-Florida, in die Verenigde State, sê dat LDS waarskynlik seldsaam is en “dat tussen 1,0-2,0% van die algemene bevolking en 10-15% van psigiatriese buitepasiënte moontlik daaraan ly”. Maar hy voeg by: “Volgens party navorsers word dit al hoe algemener namate diagnostiese metodes om die probleem te identifiseer, verbeter en namate die gemeenskap selfs meer behep raak met hulle voorkoms.” Hoewel die toestand onder mense van alle ouderdomme kan voorkom, begin dit gewoonlik in die tienerjare. Onder volwassenes lyk dit of ewe veel mans as vroue daaraan ly. Dit is in skerp teenstelling met eetversteurings, wat baie algemener onder vroue voorkom.

Die morbiede beheptheid met ’n mens se voorkoms wat kenmerkend is van mense met LDS, lei gewoonlik daartoe dat hulle op kompulsiewe wyse in die spieël kyk, en in sommige gevalle lei dit selfs tot sosiale afsondering. Wat nog erger is, is die feit dat die “ontsteltenis en ontwrigting wat met die versteuring gepaardgaan, tot herhaalde hospitalisasie en selfmoordneigings kan lei”, sê die Merck Manual. Dit is nie verbasend dat party wat daaraan ly, kosmetiese chirurgie ondergaan nie. “Ek raai hulle gewoonlik af om dit te doen”, sê dr. Katharine Phillips, wat ’n boek oor LDS geskryf het. “Chirurgie kan nie ongedaan gemaak word nie”, verduidelik sy, “en die meeste mense wat LDS het, voel in elk geval dat dit onsuksesvol was.” b

Soms ontwikkel LDS op ’n vroeë ouderdom. Die George Street Journal c vertel van ’n sesjarige seuntjie “wat geglo het dat sy tande geel is, sy maag ‘vet’ is en dat sy hare nie reg lyk nie. Niemand anders kon hierdie ‘gebreke’ sien nie. Hy het sy hare elke oggend amper ’n uur lank geborsel, en as hy dit nie kon kry om ‘reg’ te lyk nie, het hy dit weer natgemaak en van voor af begin, wat dikwels daartoe gelei het dat hy laat was vir skool.” Eendag toe hy by die dokter se spreekkamer opdaag, het hy selfs gehurk om na sy weerkaatsing in die chroom van ’n stoel te kyk.

Moenie dat die wêreld jou gesindheid bepaal nie

Glanstydskrifte, koerante en televisieadvertensies bombardeer mense met beelde van die ideale liggaam. Die adverteerders se redenasie is eenvoudig: Beeld ’n sekere voorkoms as die norm uit, en mense sal van hulle swaar verdiende geld afstand doen om so te lyk. Voeg ’n bietjie portuurdruk en miskien ’n paar onnadenkende aanmerkings van familie of vriende daarby, en dit is glad nie verbasend dat party mense ongebalanseerd raak oor hulle voorkoms nie. d Dit spreek vanself dat ’n ongebalanseerde gesindheid moontlik nog lank nie ’n obsessiewe psigiatriese versteuring is nie.

Behalwe dat dit nie waar is nie, is dit ook abnormaal om te dink dat ander glad nie in jou sal belangstel omdat jy nie pragtig of aantreklik is nie. Mense kies nie gewoonlik vriende op grond van hulle fisiese voorkoms nie. Dit is waar dat ’n mens se voorkoms dalk aanvanklik ’n faktor kan wees, maar persoonlikheid, sedelike standaarde en beginsels is die ware sement van vriendskap. In sommige opsigte is elkeen van ons soos ’n boek—dit het dalk ’n aantreklike omslag, maar as die inhoud oninteressant is, sal lesers dit kort voor lank neersit. As die boek egter interessant is, sal dit mense boei, ongeag die omslag. Skenk dus gerus aandag aan jou persoonlikheid. Dit is wat God se Woord, die Bybel, jou aanspoor om te doen.—Spreuke 11:22; Kolossense 3:8; 1 Petrus 3:3, 4.

En laat ons eerlik wees, ons voorkoms verander namate ons ouer word. Wat ’n droewige toekoms sou op almal van ons wag as die lewe, vriendskap en geluk van ’n jeugdige en aantreklike voorkoms afgehang het! Tog kan dit in ons geval baie anders wees. Hoe so?

Blywende prag

Spreuke 16:31 sê: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word.” In Jehovah God se oë—en in die oë van almal wat sy beskouing het—word mense wat ouer word in God se diens nie minder aantreklik nie. Trouens, weens hulle rekord van ywer en godvrugtige toegewydheid is hulle grysheid ’n pragtige kroon. Sulke dierbare mense verdien ons liefde en diepe respek.—Levitikus 19:32.

Daarbenewens sal Jehovah in die komende nuwe wêreld wat hy belowe het, die uitwerking wat oorgeërfde sonde op al sy lojales, oud en jonk, gehad het, ongedaan maak. Met elke dag wat verbygaan, sal hulle sien en voel hoe hulle liggaam verbeter totdat hulle uiteindelik die toppunt van fisiese volmaaktheid bereik (Job 33:25; Openbaring 21:3, 4). Wat ’n opwindende vooruitsig is dit tog! Wil jy onder hulle wees? Indien wel, moet jy die aandag vestig op die soort prag wat werklik saak maak en nie toelaat dat die oppervlakkige, en dikwels gevoellose, denke van die wêreld jou gesindheid bepaal nie. As jy dit doen, sal jy baie gelukkiger en aantrekliker wees.—Spreuke 31:30.

[Voetnote]

a “Beheptheid met ’n mens se fisiese voorkoms is ’n algemene simptoom van ’n aantal psigiatriese versteurings”, sê The Medical Journal of Australia. Dit sluit depressie, obsessief-kompulsiewe steurnis en eetversteurings, soos anorexia nervosa, in. Gevolglik kan LDS moeilik wees om te diagnoseer.

b Sien asseblief die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek kosmetiese chirurgie ondergaan?” in die Ontwaak! van 22 Augustus 2002. Natuurlik sal iemand wat ’n ernstige psigiatriese versteuring het, dalk die hulp van ’n geestesgesondheidsdeskundige nodig hê.

c ’n Publikasie van Brown-universiteit, Rhode-eiland, VSA.

d Vir verdere inligting, sien asseblief die hoofstuk “Hoe belangrik is die uiterlike?” in die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.