Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is so verkeerd met voorhuwelikse seks?

Wat is so verkeerd met voorhuwelikse seks?

Jongmense vra . . .

Wat is so verkeerd met voorhuwelikse seks?

“Ek wonder soms of voorhuwelikse seks regtig so verkeerd is, veral wanneer ek abnormaal voel omdat ek nog nie seks gehad het nie.”—Jordon. a

“Ek is onder druk om met seks te eksperimenteer. Ek dink dit is vir ons almal heel natuurlik om dit te doen”, sê Kelly. “Oral waar jy kyk”, sê sy verder, “gaan alles net oor seks!”

VOEL jy ook soos Jordon en Kelly? Die tradisionele gebruike en waardes wat voorhuwelikse seks vroeër ontmoedig het, het immers al amper verdwyn (Hebreërs 13:4). Volgens ’n opname in een Asiatiese land het die meerderheid van 15- tot 24-jarige mans gemeen dat dit nie net as aanvaarbaar beskou word om voorhuwelikse seks te hê nie, maar dat dit van hulle verwag word. Dit is geen wonder nie dat die meeste jongmense regoor die wêreld al seks gehad het voordat hulle 19 jaar oud is.

Dan is daar die jongmense wat nie geslagsomgang het nie, maar wel aan sogenoemde alternatiewe seksuele aktiwiteite deelneem, soos om mekaar se geslagsdele te streel (wat soms wedersydse masturbasie genoem word). ’n Verontrustende verslag in The New York Times toon dat “orale seks ’n algemene eerste seksuele ondervinding is; baie jongmense beskou dit as minder intiem, en minder gevaarlik, as geslagsomgang . . . [en] as ’n manier om swangerskap te vermy en ’n maagd te bly”.

Presies hoe moet ’n Christen voorhuwelikse seks beskou? En wat van sogenoemde alternatiewe vir geslagsomgang? Is dit vir God aanvaarbaar? Is dit veilig? En bly ’n mens regtig ’n maagd?

Wat hoerery behels

’n Gesaghebbende antwoord op hierdie vrae kan slegs van ons Skepper—Jehovah God—kom. En in sy Woord beveel hy ons om te “vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Wat beteken dit presies? Die Griekse woord wat as “hoerery” vertaal word, is nie beperk tot geslagsomgang nie, maar sluit verskillende wellustige dade in. As twee ongetroude mense dus orale seks het of mekaar se geslagsdele streel, is hulle skuldig aan hoerery.

Maar is hulle, in God se oë, nog maagde? In die Bybel word die woord “maagd” as ’n simbool van sedelike reinheid gebruik (2 Korintiërs 11:2-6). Maar dit word ook in fisiese sin gebruik. Die Bybel vertel ons van ’n jong vrou genaamd Rebekka. Dit sê dat sy ‘’n maagd was, en dat nog geen man met haar geslagsgemeenskap gehad het nie’ (Genesis 24:16). Dit is interessant dat die woord vir “geslagsgemeenskap” in die oorspronklike Hebreeus blykbaar ander dade ingesluit het buiten die normale geslagsomgang tussen ’n man en vrou (Genesis 19:5). As jongmense hulle aan enige vorm van hoerery skuldig maak, sal hulle dus, volgens die Bybel, beswaarlik as maagde beskou kan word.

Die Bybel vermaan Christene om nie net van hoerery te vlug nie, maar ook van alle vorme van onrein gedrag wat daartoe kan lei (Kolossense 3:5). b Ander sal jou dalk spot omdat jy hierdie standpunt inneem. “‘Jy weet nie wat jy mis nie!’ is iets wat ek deur my hele hoërskoolloopbaan gehoor het”, sê Kelly, ’n jong Christen. Maar voorhuwelikse seks is niks meer as die “tydelike genieting van sonde” nie (Hebreërs 11:25). Dit kan blywende fisiese, emosionele en geestelike skade veroorsaak.

Ernstige gevare

Die Bybel sê vir ons dat koning Salomo eenkeer ’n jong man gesien het wat verlei is om voorhuwelikse seks te hê. Salomo het die jong man vergelyk met “’n bul wat gaan om geslag te word”. ’n Bul wat geslag gaan word, weet blykbaar glad nie wat binnekort met hom gaan gebeur nie. Jongmense wat voorhuwelikse seks het, tree dikwels dieselfde op—dit lyk asof hulle nie juis daarvan bewus is dat hulle dade ernstige gevolge het nie of glad nie daarvan bewus is nie! Salomo het die volgende oor daardie jong man gesê: “Hy het nie geweet dat dit sy siel raak nie” (Spreuke 7:22, 23). Ja, jou “siel”—jou lewe—is op die spel.

Byvoorbeeld, elke jaar kry miljoene jongmense ’n seksueel oordraagbare siekte (SOS). “Toe ek uitvind dat ek herpes het, wou ek weghardloop”, sê Lydia. Sy sê: “Dit is ’n pynlike siekte wat nooit sal weggaan nie.” Wêreldwyd kom meer as die helfte van alle nuwe MIV-besmettings (6 000 per dag) onder diegene tussen die ouderdomme van 15 en 24 voor.

Vroue is veral vatbaar vir baie probleme wat met voorhuwelikse seks gepaardgaan. Trouens, vroue loop groter gevaar om SOS’e (sowel as MIV) op te doen as mans. As ’n jong meisie swanger raak, stel sy haarself en haar ongebore kind verder in gevaar. Waarom? Want ’n jong meisie se liggaam is moontlik nog nie gereed om veilig geboorte te kan gee nie.

Selfs as ’n tienermoeder ernstige gesondheidsprobleme vryspring, moet sy nog die gewigtige verantwoordelikhede dra wat daarmee gepaardgaan om ’n ouer te wees. Baie meisies vind dat dit baie moeiliker is om vir hulleself en ’n pasgebore baba te sorg as wat hulle gedink het.

Dan is daar die geestelike en emosionele gevolge. Koning Dawid se seksuele sonde het sy vriendskap met God in gevaar gestel en amper tot sy geestelike ondergang gelei (Psalm 51). En hoewel Dawid geestelik herstel het, moes hy vir die res van sy lewe die gevolge van sy sonde dra.

Vandag kan jongmense op soortgelyke wyse ly. Byvoorbeeld, toe Cherie net 17 jaar oud was, het sy fisies intiem geraak met ’n seun. Sy het gedink dat hy haar liefhet. Jare later is sy nog steeds spyt oor wat sy gedoen het. Sy sê: “Ek het Bybelwaarhede as vanselfsprekend aanvaar en moes die gevolge dra. Ek het Jehovah se guns verloor, en dit was verpletterend.” Trish, ’n jong meisie, erken ook: “Voorhuwelikse seks was die grootste fout van my lewe. Ek sal enigiets doen om net weer ’n maagd te wees.” Ja, emosionele wonde kan jare neem om te genees en kan spanning en hartseer veroorsaak.

Leer selfbeheersing aan

Jong Shanda vra ’n belangrike vraag: “Waarom het God vir jongmense seksuele begeertes gegee as hy weet dat hulle dit nie mag bevredig totdat hulle getroud is nie?” Dit is waar dat seksuele begeertes gedurende “die bloei van die jeug” besonder sterk kan wees (1 Korintiërs 7:36). Trouens, tieners ondervind moontlik skielike seksuele prikkeling, blykbaar sonder enige rede. Maar dit is nie iets slegs nie. Dit is ’n normale deel van die ontwikkeling van die voortplantingstelsel. c

Jehovah het weliswaar bedoel dat geslagsomgang genotvol moet wees. Dit is in harmonie met sy oorspronklike voorneme dat mense die aarde moet bewoon (Genesis 1:28). Nietemin het God nooit bedoel dat ons ons voortplantingsvermoë moet misbruik nie. “Elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry”, sê die Bybel (1 Tessalonisense 4:4). Om elke seksuele begeerte te bevredig, sou in sekere sin net so dwaas wees as om iemand te slaan elke keer wanneer jy kwaad is.

Geslagsomgang is ’n gawe van God, ’n gawe wat op die gepaste tyd geniet moet word—wanneer ’n mens getroud is. Hoe voel God wanneer ons geslagsomgang buite die huwelik probeer geniet? Wel, stel jou voor dat jy ’n geskenk vir ’n vriend gekoop het. Maar voordat jy dit vir daardie vriend kan gee, steel hy of sy dit! Sou dit jou nie ontstel nie? Stel jou dan voor hoe God voel wanneer iemand hom aan voorhuwelikse seks skuldig maak en die gawe wat God voorsien, misbruik.

Wat moet jy omtrent jou seksuele begeertes doen? Eenvoudig gestel, jy moet leer om dit te beheer. Onthou, “Jehovah sal niks goeds terughou van dié wat in onberispelikheid wandel nie” (Psalm 84:11). “Wanneer ek begin dink dat voorhuwelikse seks nie so verkeerd sou wees nie”, sê ’n jeugdige genaamd Gordon, “dink ek na oor die slegte gevolge wat dit vir my geestelikheid kan inhou en dan besef ek dat my verhouding met Jehovah te kosbaar is om dit ter wille van enige sonde prys te gee.” Dit is dalk nie maklik om selfbeheersing aan die dag te lê nie. Maar soos jong Adrian sê: “Dit laat jou met ’n skoon gewete en ’n goeie verhouding met Jehovah, wat jou in staat stel om aan die belangriker dinge aandag te gee, sonder enige skuldgevoelens of spyt oor iets wat jy in die verlede gedoen het.”—Psalm 16:11.

Daar is talle goeie redes waarom jy jou moet “onthou van hoerery” in al sy vorme (1 Tessalonisense 4:3). Toegegee, dit is nie altyd maklik nie. ’n Toekomstige artikel sal praktiese maniere bespreek waarop jy ‘jouself kuis kan bewaar’.—1 Timoteus 5:22.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Vir ’n bespreking van hoerery, onreinheid en losbandige gedrag, sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe ver is ‘te ver’?” in die Ontwaak! van 22 Oktober 1993.

c Sien “Jongmense vra . . . Waarom gebeur dit met my liggaam?” in die Ontwaak! van 8 Februarie 1990.

[Lokteks op bladsy 13]

Kan ’n jongmens wat hom of haar aan enige vorm van hoerery skuldig gemaak het, nog deur God as ’n maagd beskou word?

[Prent op bladsy 13]

Voorhuwelikse seks kan ’n godvresende jongmens se gewete skaad

[Prent op bladsy 14]

Diegene wat hulle aan voorhuwelikse seks skuldig maak, loop die gevaar om ’n seksueel oordraagbare siekte te kry