Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Olimpiese Spele keer terug na sy geboorteplek

Die Olimpiese Spele keer terug na sy geboorteplek

Die Olimpiese Spele keer terug na sy geboorteplek

DIE grawe van argeoloë het die hergeboorte van die Olimpiese Spele in hedendaagse tye ingelui. Vondste in eertydse Olimpië, Griekeland, het die Franse baron Pierre de Coubertin beweeg om hom te beywer vir die herlewing van die Spele. Gevolglik het die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 in Atene plaasgevind.

In die jare net voor 2004 het stootskrapers en hamerbore dit moontlik gemaak vir die Spele om na sy geboorteplek terug te keer. Die hoofstad van Griekeland het soos ’n groot bouterrein gelyk terwyl dit ter voorbereiding vir die Olimpiese Spele opgeknap is.

Die 28ste Olimpiade, soos die 2004 Olimpiese Spele amptelik genoem word, sal van 13 tot 29 Augustus in Atene plaasvind. Sowat 10 000 atlete van 201 lande, ’n rekordgetal, sal in 28 sportsoorte meeding. Sportnommers sal op 38 plekke gehou word en ’n hoogtepunt bereik in meer as 300 oorhandigingseremonies. Daar sal ongeveer 21 500 mediaverteenwoordigers wees, heelwat minder as die sowat 55- 000 hardwerkende lede van die veiligheidspersoneel.

Struikelblokke wat oorkom moes word

Atene wou al lank die Olimpiese Spele na sy geboorteplek terugbring. Omdat 1996 die honderdste bestaansjaar van die moderne Olimpiese Spele was, het dit na die beste jaar gelyk om dit weer in die land van sy herkoms te hou.

Atene se bod op die 1996-Spele was egter onsuksesvol. Die stad het blykbaar nie die infrastruktuur gehad wat vir die twee veeleisende weke van die Spele nodig was nie.

Hierdie terugslag het Griekeland en sy hoofstad aan die werk laat spring. Atene was vasbeslote om die situasie reg te stel. Toegerus met goeie bedoelings en ’n paar goed deurdagte planne, het die stad in 1997 weer ’n bod gemaak op die 2004 Olimpiese Spele. Dié keer is hulle bod aanvaar.

Atene het hom gereedgemaak vir ’n transformasie. Die begeerte om die gasheer vir die Spele te wees, het aanleiding gegee tot ongekende bedrywigheid en ontwikkeling. Oral het masjiene begin grawe om die infrastruktuur te verbeter en paaie en fasiliteite vir die Spele te bou. Selfs gedurende die snikhete naweke in die middel van die somer kon ’n mens graafmasjiene, hyskrane en mense oral hard sien werk.

In Maart 2001 het die eerste vliegtuig geland by Atene se nuwe internasionale lughawe, wat in sy kategorie as ’n wêreldklaslughawe beskou word. Verder is daar beplan om altesaam 120 kilometer nuwe paaie te bou en 90 kilometer van die bestaande paaie op te gradeer. Sowat 40 oorpaaie is by die nuwe padstelsel ingesluit om die verkeersvloei te vergemaklik. Die moltreinstelsel is uitgebrei, met voorsiening vir tremspore van nog 24 kilometer. ’n Twee-en-dertig kilometer lange voorstedelike spoorweg met etlike moderne treinstasies is ontwerp om verkeer van die middestad af te lei en lugbesoedeling te verminder.

Kortom, ’n poging is aangewend om Atene binne ’n paar jaar in ’n nuwe stad te omskep, met meer plantegroei, ’n skoner omgewing en ’n nuwe vervoerstelsel. Jacques Rogge, president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), het gesê: “Mense wat Atene voor die Spele geken het en Atene ná die Spele sien, sal die stad nie herken nie.”

’n Voorbereidingsmaraton

Namate die dag van die openingseremonie van die Olimpiese Spele nader gekom het, het die werk versnel. Rogge, die IOK-president, het die vooruitgang van die bouwerk en voorbereiding vergelyk met die syrtaki, Griekeland se tradisionele dans. Hy het grappenderwys gesê: “Ek sou dit vergelyk met ’n stuk musiek—soos die syrtaki. Dit begin baie stadig, maar word al hoe vinniger, en teen die einde kan jy nie meer bybly nie.”

In ooreenstemming met hierdie beskrywing het die Olimpiese Dorp—“die ruggraat van al die voorbereidings vir die Olimpiese Spele”—amper oornag in een van Atene se noordelike voorstede verrys. Hierdie dorp, wat ongeveer 16 000 atlete en spanbeamptes gedurende die Olimpiese Spele gaan huisves, is die grootste huisvestingsprojek wat tot nog toe in Griekeland onderneem is. Ná die Spele sal dit huisvesting vir ongeveer 10 000 mense verskaf.

Die organiseerders van die Olimpiese Spele het nie die verbintenis tussen die antieke geskiedenis en die moderne Spele oor die hoof gesien nie. Sommige oorhandigingseremonies sal in antieke Olimpië plaasvind. Ander belangrike argeologiese terreine sal ook spesiale aandag geniet tydens kulturele aanbiedings wat gedurende die Olimpiese Spele plaasvind. ’n Nuwe roeisentrum is gebou naby die plek waar die beroemde slag van Maraton plaasgevind het. En die maratonatlete sal kan sê dat hulle langs die oorspronklike roete gehardloop het. Die organiseerders van die Spele het presies dieselfde roete gekies as wat die Ateense soldaat gevolg het toe hy, volgens oorlewering, in 490 v.G.J. 42 kilometer van Maraton na Atene gehardloop het om aan te kondig dat die Perse verslaan is.

En die wenner van die goue medalje is . . . 

Wanneer die vuurwerkvertoning by die openingseremonie van die Spele begin, sal die Olimpiese Stadion, wat sitplek vir 75 000 mense het, die middelpunt van belangstelling wees. Vir baie is hierdie opgeknapte stadion die “juweel in die kroon” van die Olimpiese fasiliteite in Atene. Wat hierdie stadion uniek maak, is die dak, wat deur die beroemde Spaanse argitek Santiago Calatrava ontwerp is.

Die dak, wat ’n ingenieurswonder is, bestaan uit glaspanele wat altesaam 16 000 ton weeg en is ontwerp om ’n oppervlak van 10 000 vierkante meter te dek. Dit sal op twee kolossale boë rus, elk met ’n spanwydte van 304 meter en ’n hoogte van 80 meter—amper twee derdes die grootte van die hawebrug in Sydney, Australië! Die staalpype waaruit die boë bestaan, weeg tussen 9 000 en 10 000 ton elk en is volgens een boukundige “groot genoeg dat jy met ’n bus daardeur kan ry”. Die dak sal na verwagting twee keer swaarder as die Eiffel-toring in Parys wees.

Waarom is so ’n reusagtige dak nodig? Dink net aan hoe warm dit onder die skroeiende Augustusson in Atene word! Die glaspanele het ’n spesiale deklaag wat 60 persent van die sonlig weerkaats. Daar is ook ander redes. Die dak is ontwerp sodat dit die landmerk van die Spele sou wees. Soos die voormalige Griekse minister van kultuur, Evangelos Venizelos, dit gestel het, “is dit dié boukundige landmerk en simbool van die Olimpiese Spele in Atene”.

Ná die sluitingseremonie sal sulke landmerke mense herinner aan die harde werk wat nodig was om die gasheer vir so ’n ontsaglike gebeurtenis te wees. Ateners hoop dat die infrastruktuur wat vir die Olimpiese Spele voorberei is, die lewensgehalte in hulle stad sal verbeter. En soos altyd sal hulle hulle nie van stryk laat bring deur uitdagings nie—net soos wanneer hulle die syrtaki dans.

[Venster op bladsy 15]

Ideale word bevraagteken

Die organiseerders van die Olimpiese Spele beklemtoon graag die ideale wat met die Spele geassosieer word—“edele mededinging, sportmanskap, vrede, kultuur en opvoeding”. Aan die ander kant is daar onder meer die politiek, nasionalisme, kommersialisme en korrupsie.

Die Olimpiese Spele het nog altyd hoë televisiekyksyfers en winsgewende advertensiepakkette opgelewer, wat die borgskap van die Spele ’n kragtige bemarkingsmiddel maak. “Deesdae is daar groot geld by die Olimpiese Spele betrokke”, het die Australiese navorser Murray Phillips gesê, “en baie besluite word om strategiese kommersiële redes geneem.”

Ander keur die onverbloemde nasionalisme af wat by die Spele geopenbaar word. Pogings word aangewend om ’n Olimpiese wapenstilstand in te stel, waartydens vyandighede en oorlog gedurende die Spele gestaak sal word. Maar buiten die simboliese betekenis daarvan sal so ’n maatreël geen resultate oplewer nie tensy die redes vir die konflikte uit die weg geruim word. “Die Spele is ’n arena vir magspolitiek”, het die wetenskapprofessor Brian Martin opgemerk. Hy sê verder: “By die Olimpiese Spele word mededinging tussen atlete verander in mededinging tussen lande. Atlete kan nie deelneem nie tensy hulle land deelneem. Oorwinnings deur individue word as nasionale oorwinnings beskou, wat deur vlae en volksliedere gesimboliseer word . . . [Die Olimpiese Spele] het maar net nog ’n arena geword vir die voortsetting van geweld tussen individue in sportitems en tussen lande in die stryd om mag en status. . . . Die Olimpiese beweging is magteloos om sy oorspronklike doelwit te verwesenlik, naamlik om vrede te bevorder.”

[Prente op bladsy 15]

Atene se Olimpiese sportkompleks

Medaljeontwerp vir 2004

[Erkennings]

Lugfoto: AP Photo/Thanassis Stavrakis; medaljeontwerp: © ATHOC

[Prente op bladsy 16]

Atene se moltrein

Atene se internasionale lughawe

[Erkenning]

© ATHOC

[Prente op bladsy 17]

Olimpiese Dorp in aanbou

Agios Kosmas-seiljagvaartsentrum

[Erkenning]

© ATHOC/Photo: K. Vergas

[Prent op bladsy 16, 17]

Dak van die Olimpiese Stadion in aanbou

[Prent op bladsy 17]

’n Miniatuurmodel van die voltooide dak

[Erkenning]

© ATHOC

[Foto-erkenning op bladsy 14]

© ATHOC