Afwesige vaders—’n Groeiende probleem
Afwesige vaders—’n Groeiende probleem
AL HOE meer vaders verlaat hulle gesinne. In die laat 1990’s het die koerant USA Today die Verenigde State “die wêreldleier in vaderlose gesinne” genoem. Maar die afwesigheid van vaders is ’n wêreldwye probleem.
In Brasilië het ’n 2000-sensusverslag aan die lig gebring dat 11,2 miljoen uit altesaam 44,7 miljoen gesinne ’n vrou as gesinshoof het. In Nicaragua het 25 persent van kinders net by hulle moeder gebly. In Costa Rica het die aantal kinders wat nie deur hulle eie vader erken word nie, gedurende die 1990’s van 21,1 persent tot 30,4 persent toegeneem.
Die statistieke uit hierdie drie lande is net ’n paar voorbeelde van ’n wêreldwye neiging. Kom ons kyk na nog ’n aspek van die probleem van afwesige vaders.
Teenwoordig maar onbeskikbaar
Sien asseblief die venster “Pappa, wanneer kom Pappa weer?” Nao, wat nou 23 jaar oud is, erken: “Voordat ek laerskool toe is, het ek my pa selde gesien. Toe hy eenkeer op pad uit was, het ek hom gesmeek: ‘Kom asseblief terug!’”
Dit is gesinsverhoudings soos dié van Nao en haar vader wat die Poolse skrywer Piotr Szczukiewicz laat sê het: “Die vader is blykbaar ’n belangrike ontbrekende faktor in die gesin.” Dit is waar dat baie vaders saam met hulle gesinne woon en hulle finansieel ondersteun. Maar soos die Franse tydskrif Capital dit gestel het, “is te veel vaders daarmee tevrede om broodwinners te wees, sonder dat hulle opvoeders is”.
Die vader is dikwels in die gesin, maar hy is nie betrokke by sy kinders se lewe nie. Sy aandag word deur ander dinge in beslag geneem. “Selfs al is [die vader] fisies teenwoordig”, sê die Franse tydskrif Famille chrétienne, “is hy dalk sielkundig afwesig.” Waarom is soveel vaders vandag verstandelik en emosioneel afwesig van hulle gesin?
Soos die bogenoemde tydskrif verduidelik, is ’n basiese rede die feit dat “hy nie die rol van ’n
vader of man verstaan nie”. Volgens baie vaders is die rol van ’n goeie vader bloot om ’n goeie broodwinner te wees. Soos die Poolse skrywer Józef Augustyn gesê het, “dink baie vaders dat hulle goeie ouers is omdat hulle geld vir die gesin voorsien”. Maar dit is slegs ’n deel van ’n vader se verantwoordelikheid.Die feit is dat kinders nie hulle vader se waarde meet aan hoeveel geld hy maak of hoeveel sy geskenke kos nie. Maar wat kinders graag wil hê—baie meer as materiële geskenke—is hulle vader se liefde, tyd en aandag. Dít is wat werklik vir hulle saak maak.
Kyk weer na jou lewenswyse
Volgens ’n verslag deur die Japannese Sentrale Raad vir Onderwys “moet vaders weer kyk na hulle lewenswyse, wat te veel om werk draai”. Die vraag is: Sal ’n vader ’n aanpassing maak ter wille van sy kinders? Die Duitse koerant Gießener Allgemeine het verslag gelewer oor ’n studie waarin die meeste vaders met wie ’n onderhoud gevoer is, geweier het om hulle kinders voor hulle loopbaan te stel.
Kinders kan baie seergemaak word deur hulle vader se skynbare gebrek aan besorgdheid oor hulle. Lidia, wat nou 21 jaar oud is, onthou baie goed hoe haar vader opgetree het toe sy ’n jong meisie in Pole was. Sy vertel: “Hy het nooit met ons gepraat nie. Ons het in verskillende wêrelde geleef. Hy het nie geweet dat ek in my vrye tyd na disko’s toe gegaan het nie.” Macarena, ’n 21-jarige van Spanje, sê eweneens dat toe sy ’n kind was haar vader “oor naweke saam met sy vriende uitgegaan het en ’n paar keer dae lank weggebly het”.
Stel gepaste prioriteite vas
Die meeste vaders besef dalk dat hulle te min tyd en aandag aan hulle kinders bestee. ’n Japannese vader van ’n tienerseun het gesê: “Ek hoop dat my kind my situasie sal verstaan. Ek dink altyd aan hom, selfs wanneer ek besig is.” Maar sal dit die probleem oplos as ’n vader bloot hoop dat sy kind sy afwesigheid sal verstaan?
Daar bestaan geen twyfel nie, werklike inspanning—ja opoffering—is nodig om ’n kind se behoeftes te bevredig. Dit is duidelik dat dit nie maklik is om vir kinders te gee wat hulle die nodigste het nie—naamlik liefde, tyd en aandag. Jesus Christus het gesê: “Die mens sal nie van brood [of, materiële voedsel] alleen lewe nie” (Matteus 4:4). Dit is ook waar dat meer as materiële dinge nodig is om kinders suksesvol groot te maak. Is jy, as ’n vader, bereid om iets op te offer wat moontlik vir jou baie kosbaar is—jou tyd of dalk selfs bevordering by die werk—sodat jy daar kan wees vir jou kinders?
Die Mainichi Daily News van 10 Februarie 1986 het vertel van ’n vader wat besef het hoe belangrik sy kinders werklik is. Dit het gesê: “’n Hooggeplaaste amptenaar van die Japannese Nasionale Spoorweë (JNS) het verkies om eerder te bedank as om van sy gesin geskei te wees.” Die koerant het toe die amptenaar aangehaal wat gesê het: “Die pos van direkteur-generaal kan deur enigiemand beklee word. Maar ek is die enigste vader wat my kinders het.”
Ja, die eerste stap om ’n goeie vader te word, is om te besef watter soort vader kinders nodig het. Kom ons kyk wat dit behels om hierdie soort vader te wees.
[Venster op bladsy 3]
“Pappa, wanneer kom Pappa weer?”
Dit was die vraag wat die vyfjarige Nao, ’n Japannese dogtertjie, haar vader gevra het net voordat hy eendag werk toe gegaan het. Hoewel hy by hulle gewoon het, het sy hom selde gesien. Hy het gewoonlik van die werk af gekom nadat Nao al in die bed was en werk toe gegaan nog voordat sy wakker geword het.