Die Genève-Bybel—’n Vergete vertaling
Die Genève-Bybel—’n Vergete vertaling
Deur Ontwaak!-medewerker in Nieu-Seeland
BESIT jy ’n klein Bybel wat jy gemaklik in jou hand kan hou en wat ’n maklik leesbare lettertipe het? Maak die formaat daarvan dit vir jou maklik om inligting te vind? As jy ja op hierdie vrae antwoord, is jy baie verskuldig aan die Genève-Bybel van 1560.
Vandag het min mense al van die Genève-Bybel gehoor. En tog was hierdie merkwaardige vertaling ’n blitsverkoper op sy dag. Die hooggeskatte tekstuele akkuraatheid daarvan, tesame met nuwe kenmerke in die aanbieding en uitleg, het dit die gunsteling onder die leserspubliek gemaak. Die Engelse toneelskrywers Shakespeare en Marlowe het dit gebruik wanneer hulle uit die Bybel aangehaal het.
Presies hoe het hierdie gewilde 16de-eeuse Engelse Bybel sy ontstaan gehad in die Franssprekende Switserse stad Genève? Watter unieke kenmerke het dit gehad? Wat het daartoe gelei dat dit in onbruik verval het? Hoe vind ons vandag nog daarby baat?
’n Bybel met nuwe kenmerke
Die Genève-Bybel is vertaal deur ’n groep godsdiensvlugtelinge wat onderdrukking en moontlike teregstelling in Engeland ontvlug het toe Maria Tudor in 1553 aan bewind gekom het. Hierdie geleerdes is in Genève se Protestante-gemeenskap verwelkom. Omdat Genève ’n goed gevestigde drukkersbedryf gehad het en sy inwoners daarvan gehou het om die Bybel te lees, het die vertaling en publisering van Bybels daar gefloreer.
Die Genève-Bybel, wat deur William Whittingham en sy assistente vertaal is, het in 1560 verskyn. Kort voor lank het mense in Engeland dit gretig gelees. Dit was makliker om te lees as ouer Bybels, en dit was die eerste Engelse Bybel met genommerde versindelings, ’n stelsel wat vandag algemeen gebruik word. Nog ’n kenmerk was die loopkoppe—’n paar sleutelwoorde boaan elke bladsy om lesers te help om spesifieke verse in die teks op daardie bladsy te vind. Daarbenewens is daar nie gebruik gemaak van die swaar Gotiese lettertipe nie, wat op geskrewe teks gebaseer is, maar in die meeste gevalle van ’n duidelike lettertipe soortgelyk aan wat vandag nog in Engelse Bybels verkies word.
Ouer Bybels, wat bedoel was om van preekstoele af gelees te word, is in folioformaat uitgegee, wat groot en onhandig was. Die Genève-Bybel was ’n praktiese uitgawe wat omtrent helfte so groot soos die foliobundels was. Hierdie kleiner Bybel was nie net geskik vir persoonlike lees en studie nie, maar was ook baie meer bekostigbaar.
Die strewe na tekstuele akkuraatheid
Die vertalers van die Genève-Bybel het veral noukeurig gelet op die gevoelswaarde en betekenis van die oorspronklike Hebreeus. God se naam, Jehovah, het op ’n paar plekke verskyn, onder meer in Eksodus 6:3; 17:5 en Psalm 83:18. Woorde wat die vertalers as noodsaaklike toevoegings beskou het, is in kursief aangedui, en teks wat ter wille van grammatikale duidelikheid bygevoeg is, het in vierkantige hakies verskyn.
Die Genève-Bybel het gou as die amptelike vertaling in Skotland gevestig geraak. In Engeland is dit ook algemeen gebruik, en dit is vermoedelik die vertaling wat in 1620 deur die Pelgrims op hulle beroemde reis geneem is na wat nou die Verenigde State is. Die Genève-Bybel is na ander Britse kolonies geneem—insluitende Nieu-Seeland, die mees afgeleë kolonie. Daar het ’n eksemplaar in 1845 deel van die goewerneur sir George Grey se versameling geword.
Die omstrede kantaantekeninge
Die uitvoerige aantekeninge in die Genève-Bybel het bygedra tot die blywende gewildheid daarvan onder lesers. Dit is aangebring omdat die vertalers besef het dat die Bybel ‘harde plekke’ het, dele wat moeilik is om te verstaan. Sulke kantaantekeninge was niks nuuts nie. Tyndale het dit in sy “Nuwe Testament” van 1534 gebruik. Buiten die kantaantekeninge het die Genève-Bybel illustrasies, voorwoorde en kaarte gehad—alles bedoel om begrip te verbeter. Die Bybel het ook genealogiese tabelle en opsommings ingesluit, asook ’n deel wat daaglikse Bybellees aanmoedig.
Hoewel die hiërargie van die Anglikaanse Kerk die hoë gehalte van die vertaling in privaat erken het, het hulle in die openbaar daarteen beswaar gemaak omdat hulle die toon van die kantaantekeninge as radikaal beskou het. Matthew Parker, die destydse aartsbiskop van Kantelberg, het dit “uiteenlopende skadelike aantekeninge” genoem. Koning Jakobus I het die aantekeninge as “baie partydig, onwaar, opruiend” beskou. Dit is ook geen wonder nie, want sommige van die aantekeninge het die “goddelike reg” van konings bevraagteken!
Waarom die Genève-Bybel in onbruik verval het
In 1604 het koning Jakobus goedkeuring gegee vir ’n nuwe vertaling, in die hoop dat dit Engeland vir ewig van die Genève-Bybel sou bevry. Die teologiese geskiedkundige Alister McGrath sê dat “die groeiende gewildheid van die Genève-Bybel die grootste struikelblok was wat die King James Version moes oorkom terwyl dit in die sewentiende eeu sy plek probeer vind het”. Die Genève-Bybel is baie jare lank deur die publiek verkies, en dit het die amptelike Bybel in Skotland gebly. Tot 1644 het nuwe uitgawes bly verskyn.
Volgens die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap toon ’n “ondersoek van [die] King James-Bybel van 1611 dat die vertalers . . . meer deur die Genève[-Bybel] beïnvloed is as enige ander Engelse vertaling”. Talle nuwighede in die aanbieding en vertaling van die Genève-Bybel is in die King James Version geïnkorporeer, onder meer bekende frases soos “Remember now thy Creator in the days of thy youth” en “Solomon in all his glory”.—Prediker 12:1; Matteus 6:29.
’n Blywende invloed
Hoewel die Genève-Bybel deur die Authorized Version, of King James Version, verdring is, beklee dit ’n belangrike plek in die literatuurgeskiedenis. Dit het nie net nuwe standaarde in vertaling en aanbieding gestel nie, maar dit bly ’n belangrike skakel in die ketting van hersiene Engelse Bybels. Dit het Bybellees en -studie bevorder onder ’n wye verskeidenheid mense wat andersins dalk nie toegang daartoe sou gehad het nie.
Omdat die Genève-Bybel die weg gebaan het vir die King James-Bybel, het dit ook verseker dat sekere Bybelfrases in die literatuur en in Engels opgeneem is. Hoewel die Genève-Bybel dus so te sê vergete is, het dit beslis sy merk gelaat.
[Prent op bladsy 12]
Eksodus 6:3, waar God se naam verskyn
[Prente op bladsy 13]
Loopkoppe
’n Illustrasie
Kantaantekeninge
[Erkenning]
Alle foto’s: Courtesy American Bible Society
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Alle foto’s: Courtesy American Bible Society