Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die kleinste hond in die wêreld

Die kleinste hond in die wêreld

Die kleinste hond in die wêreld

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

IS JY op soek na ’n metgesel wat ’n ekstrovert is en nogtans tevrede is om op jou skoot of aan jou sy stil te lê terwyl jy lees? ’n Metgesel wat min eet, min ruimte nodig het en wat jy nie elke dag vir oefening hoef uit te neem nie? Dan sal jy dit dalk geniet om ’n Chihuahua te hê, die kleinste erkende honderas in die wêreld. a

Chihuahuas is goeie waghonde omdat hulle alarm sal maak wanneer dit nodig is. Trouens, Chihuahuas is dapper. Hulle word nie in die minste deur groter honde afgeskrik nie.

Die Chihuahua het ’n kenmerkende ronde kop, helder oë wat wyd uitmekaar is, ’n parmantige uitdrukking en regop ore wat sywaarts draai wanneer die hond rustig is. Hulle het kort, sagte hare of lang, gladde hare en kan rooi, blond, blou of sjokoladekleurig wees, en hulle kan effekleurig wees of vlekke of kolle hê. ’n Unieke kenmerk van die meeste jong Chihuahuahondjies is die sagte plek bo-op die kop, soortgelyk aan dié van ’n pasgebore baba.

Herkoms van die Chihuahua

Hoewel daar baie verskillende teorieë is oor die herkoms van die Chihuahua as ’n ras, is hy blykbaar ’n afstammeling van ’n klein hond wat die Techichi genoem word. Hierdie honde is in die negende eeu G.J. deur die Tolteke van Mexiko aangehou. Bewyse hiervan kan gesien word by ’n klooster in Huejotzingo. Franciskanermonnike het dit met klippe gebou wat van die piramides van Cholula geneem is. Op die klippe is daar antieke snywerk van honde wat baie soos die hedendaagse Chihuahua lyk.

Later het die Asteke die Tolteke verower, en die aristokrasie het hierdie klein honde, veral die bloues, voorwerpe van aanbidding gemaak. Die honde kon glo die geeste van die dooies op hulle reis deur die doderyk lei. Montezuma II, die laaste heerser van die Asteke, het baie van die Chihuahua gehou. Daar word gesê dat hy honderde van hulle gehad het, elkeen met sy eie oppasser. Geraamtes van Chihuahuas is al in mensegrafte op die grens tussen Mexiko en die Verenigde State gevind.

Wyle Thelma Gray, ’n geskiedkundige en kenner van Chihuahuas, het na aanleiding van navorsing wat sy gedoen het, tot die slotsom gekom dat die inheemse hond van die Asteke gekruis is met ’n klein soort terriër wat deur die Spaanse veroweraars oorgebring is. Die grondslag is dus gelê vir die hedendaagse Chihuahua, wat nog kleiner is. Hulle word Chihuahuas genoem omdat Amerikaanse reisigers wat Mexiko in die middel van die negentiende eeu besoek het, dié honde in die staat Chihuahua teëgekom het en van hulle na die Verenigde State teruggeneem het. Omtrent dieselfde tyd het Carlotta, keiser Maximiliaan van Mexiko se vrou, tot die Chihuahua se internasionale gewildheid bygedra deur die honderas na Europa te neem.

’n Chihuahua as troeteldier

Chihuahuas is huishonde en is ideaal vir mense wat in woonstelle bly en vir bejaardes, gestremdes of diegene wat nie die huis kan verlaat nie. Hulle floreer op baie aandag en menslike aanraking. Maar omdat hulle so klein is, moet ’n mens versigtig wees. Hulle kan ernstig beseer word of doodgaan as ’n mens per ongeluk op hulle trap, op hulle sit of hulle te hard druk. Hulle moenie sonder toesig op hoë oppervlakke, soos beddens en banke, gelos word nie, aangesien hulle geen sin vir hoogte het nie en maklik kan afspring en ’n been kan breek. Om hierdie redes word Chihuahuas nie aanbeveel as troeteldiere vir jong kindertjies nie.

En tog is die Chihuahua nie so pieperig as wat ’n mens dalk dink nie. Om die waarheid te sê, dit is een van die rasse wat die langste lewe, tot laat in hulle tienerjare. Hierdie hondjies is energiek en spelerig, tog kan hulle al die oefening kry wat hulle nodig het deur daagliks met hulle speelgoed te speel. Maar aangesien die Chihuahua vinniger kalorieë verbrand as groter honderasse en ’n baie klein spysverteringstelsel het, is hulle geneig om aan ’n bloedsuikertekort te ly. Hulle het dus klein, gereelde maaltye en baie rus nodig. Dit is normaal vir hierdie honde om te bewe. Trouens, ’n Chihuahua bewe wanneer hy opgewonde, angstig, ontevrede of bang is—nie net wanneer hy koud kry nie.

Die Chihuahua is getrou, gretig om jou tevrede te stel en is baie maklik om op te lei. “As jy bereid is om die verantwoordelikheid te aanvaar om vir ’n Chihuahua te sorg, is daar”, volgens die boek A New Owner’s Guide to Chihuahuas, “min honderasse wat veelsydiger, vriendeliker en aanpasbaarder is.” Baie mense het al gevind dat die piepklein Chihuahua ’n uitstekende metgesel is.

[Voetnoot]

a Die Chihuahua is die enigste “natuurlike” dwerghond, dit wil sê die enigste klein hond wat nie uit groter honde van dieselfde ras geteel is nie.

[Prent op bladsy 15]

’n Katjie en ’n jong Chihuahuahondjie

[Erkenning]

© Tim Davis/CORBIS

[Prent op bladsy 15]

’n Volwasse Chihuahua