Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die soort vader wat kinders nodig het

Die soort vader wat kinders nodig het

Die soort vader wat kinders nodig het

KINDERS het ’n vader nodig wat hulle liefhet, wat daar is vir hulle en wat alles in sy vermoë doen om hulle te help om verantwoordelike, betroubare volwassenes te word. Die feit dat kinders hierdie soort vader nodig het, word nie genoeg beklemtoon nie.

Dit is weliswaar moeders wat babas in die wêreld bring, en die belangrikheid daarvan om ’n goeie moeder te wees, kan nouliks oorbeklemtoon word. Maar The Wilson Quarterly het opgemerk dat die vader se rol net so belangrik is en gesê: “Die agteruitgang van vaderskap is ’n vername rede vir baie van die ontstellendste probleme wat die Amerikaanse samelewing teister”—en ons kan byvoeg, die res van die wêreld.

Die Brasiliaanse koerant Jornal da Tarde meld ’n studie waarin bevind is dat baie gedragsprobleme onder jongmense—soos aggressie, bandeloosheid, swak prestasie op skool en onverskilligheid—dikwels “as gevolg van ’n afwesige vader” is. En die Italiaanse boek Gli imperfetti genitori (Die onvolmaakte ouers), deur Marcello Bernardi, beklemtoon dat kinders verkieslik twee ouers moet hê om suksesvol te ontwikkel.

Die gesinslewe kan verbeter word

Selfs al het ’n nalatige vader bygedra tot die probleme in die gesin of al was hy grotendeels verantwoordelik daarvoor, beteken dit nie dat sake nie reggestel en die gesinslewe nie verbeter kan word nie. Maar hoe? Wat moet die vader doen?

Dit is duidelik dat kinders ’n gesinstruktuur nodig het, ’n gevoel dat iemand wat hulle welsyn op die hart dra, in beheer is. Wanneer daar nie in hierdie behoefte voorsien word nie, wat vandag dikwels die geval is, het dit ’n nadelige uitwerking op kinders se lewe. Maar die situasie is nooit hopeloos nie, of daar nou ’n vader in die prentjie is of nie. Die Bybel sê in Psalm 68:5: “’n Vader van vaderlose seuns . . . is God in sy heilige woonplek.” a

Hoe om hulp te verkry

Die feit dat God se hulp noodsaaklik is vir sukses en dat dit verkry kan word, kan duidelik gesien word uit die situasie wat beskryf is deur Lidia, die meisie van Pole wat in die vorige artikel gemeld is. Hoe was hulle gesinslewe? Hoe het hierdie gesin God se hulp ontvang?

Franciszek, Lidia se vader, erken dat hy sy gesin verwaarloos het toe sy kinders klein was, net soos sy dogter vertel het. Hy sê: “Ek het nie omgegee wat ons kinders doen nie. Ek het geen geneentheid getoon nie, en daar was geen band tussen ons nie.” Daarom het hy nie geweet dat Lidia, toe sy maar 14 was, en sy jonger seun en dogter na wilde partytjies toe gegaan, gerook, gedrink en soms by bakleiery betrokke geraak het nie.

Uiteindelik het Franciszek besef waarby sy kinders betrokke is, en dit het hom so geskok dat hy iets daaromtrent gedoen het. “Ek het tot God gebid vir hulp”, sê hy. Dit is interessant dat Jehovah se Getuies kort daarna aan sy deur geklop het, en hy en sy vrou het ingestem om die Bybel te studeer. Mettertyd het die ouers Bybelleringe in hulle lewe begin toepas. Watter uitwerking het dit op die kinders gehad?

Franciszek verduidelik: “Hulle het opgemerk dat ek nie meer gedrink het nie en ’n beter vader was. Hulle wou Jehovah se Getuies beter leer ken. Hulle het ook die Bybel begin studeer en bande met slegte vriende gebreek.” Die seun, Rafał, sê van sy vader: “Ek het hom as ’n vriend liefgekry.” Hy voeg by: “Die straatbende was skielik nie meer belangrik nie. Ons was besig met geestelike dinge.”

Franciszek is nou ’n Christen- ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies, en hy is nog steeds betrokke by sy gesin en elkeen se geestelike vooruitgang. Sy vrou en Lidia is pioniers, voltydse evangeliedienaars. Rafał en sy jonger suster, Sylwia, neem heelhartig daaraan deel om die Bybel te studeer, by Christelike vergaderinge kommentaar te lewer en vir ander van hulle geloof te vertel.

Sy dade het met sy woorde ooreengestem

Kyk ook wat met Luis, Macarena se vader, gebeur het. Sy is die 21-jarige meisie van Spanje wat in die eerste artikel aangehaal is. Luis het die voorbeeld van sy vader gevolg, wat ’n alkoholis was. Soos Macarena gesê het, het hy dae lank saam met sy vriende verdwyn. Boonop het hy sy vrou soos ’n bediende pleks van ’n gewaardeerde metgesel behandel. Hulle huwelik was feitlik op die rotse, en vir Macarena en die jonger kinders was die situasie traumaties.

Mettertyd het Luis egter ingestem om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Hy verduidelik: “Ek het begin om tyd saam met my vrou en kinders deur te bring. Ons het gesels, saam geëet en die Bybel saam gestudeer. Ons het ook saam takies in en om die huis gedoen en saam ontspan.” Macarena sê: “Ek het die teenwoordigheid begin aanvoel van ’n goedhartige vader wat ware belangstelling in sy gesin getoon het.”

Wat belangrik is, is dat Luis sy gesin nie net aangemoedig het om God te dien nie, maar dat sy dade met sy woorde ooreengestem het. Hy het “’n florerende sakeonderneming prysgegee”, verduidelik Macarena, “want dit het te veel van sy tyd in beslag geneem en hy wou meer aandag aan sy gesin gee”. Die resultaat was merkwaardig. “Sy voorbeeld het my geleer hoe om my oog eenvoudig te hou en geestelike dinge eerste te stel”, sê Macarena. Tans dien sy as ’n pionier, en haar moeder en die jonger kinders is ywerige lede van die Christengemeente.

Die spoorwegdirekteur se besluit

Dit is duidelik dat kinders die soort vader nodig het wat besluite maak met sy kinders se welsyn in gedagte. Die tienerseun van Takesji Tamoera, die Japannese direkteur wat in die vorige artikel gemeld is, het met slegte maats deurmekaar geraak en dit het gelyk of hy in groot moeilikheid gaan beland. Dit was in 1986, die jaar toe Takesji besluit het om uit sy verantwoordelike posisie by die Japannese Nasionale Spoorweë te bedank. Hoe voel Takesji nou oor sy besluit, meer as 18 jaar later?

“Dit is moontlik die beste besluit wat ek ooit gemaak het”, het hy onlangs gesê. “Dit het wondere verrig om meer tyd saam met my seun deur te bring en dinge saam te doen, onder andere om die Bybel saam met hom te studeer. Ons het vriende geword, en hy het sy slegte assosiasie beëindig en hom beter begin gedra.”

Takesji se vrou het ’n paar jaar vroeër een van Jehovah se Getuies geword, en dit was haar voorbeeldige gedrag wat haar man beweeg het om die Bybel te ondersoek en meer betrokke te raak by die gesin. Uiteindelik het hy, sy seun en sy dogter almal Getuies geword. Takesji en sy seun dien nou as ouer manne in hulle onderskeie gemeentes, en sy vrou en dogter is pioniers.

Vaders het hulp nodig

Baie vaders weet nie wat om vir hulle kinders te doen nie, al besef hulle dat hulle hulle kinders verwaarloos. Die volgende opskrif het in die Spaanse koerant La Vanguardia verskyn: “42 persent van [Spaanse] ouers erken dat hulle nie weet hoe om hulle tienderjarige kinders groot te maak nie.” Dieselfde kan egter gesê word van die vaders van laerskoolkinders en kleuters. In teenstelling met wat baie dink, het hierdie jonger kinders ook die teenwoordigheid en aandag van ’n toegewyde vader nodig.

Wat is daar nog te leer oor hoe om ’n goeie vader te word? Wie is die beste voorbeelde vir vaders, en wat kan by hulle geleer word? Ons slotartikel sal hierdie vrae ondersoek.

[Voetnoot]

a Sien asseblief die hoofstuk “Enkelouergesinne kan welslae behaal!” in die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prente op bladsy 7]

Vaders wat in hulle kinders se behoeftes voorsien het

Franciszek en sy gesin

Luis en sy gesin

Takesji en sy gesin