Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek voorhuwelikse seks vermy?

Hoe kan ek voorhuwelikse seks vermy?

Jongmense vra . . . 

Hoe kan ek voorhuwelikse seks vermy?

“Toe ek 19 was, het ek seks gehad met ’n seun wat saam met my op skool was. Ek kan eenvoudig nie verduidelik hoe sleg dit my laat voel het nie. Ek het gevoel asof ek niks werd is nie.”—Laci. a

“VLUG vir die hoerery”, beveel die Bybel (1 Korintiërs 6:18). Vandag lyk dit egter asof min jongmense bereid is om die Bybel se woorde te gehoorsaam en hulle van seks te onthou totdat hulle getroud is. Party, soos Laci, het voor hulle begeertes geswig en het as gevolg daarvan pyn en gewetenswroeging verduur.

Dit is weliswaar nie maklik om ’n mens se seksuele drange te beteuel nie. Soos die handboek Adolescent Development sê, veroorsaak die hormoonveranderings van puberteit ’n onvermydelike “toename in seksuele drange”. Paul erken: “By tye kom gedagtes oor seks blykbaar sonder enige rede by my op.”

Maar Howard Kulin, ’n professor van pediatrie, sê: “Dit is ’n ernstige oorvereenvoudiging om net hormone die skuld te gee vir die gedrag van [adolessente].” Hy verduidelik dat sosiale faktore ook ’n rol speel. Ja, sosiale faktore—veral die invloed van portuurs—kan ’n kragtige uitwerking op ’n mens hê.

In haar boek A Tribe Apart, sê die skrywer Patricia Hersch dat “jongmense hulle eie gemeenskap gevorm het. . . . Aangesien dit in afsondering [van volwassenes] bestaan, word dit meer as net ’n portuurgroep; dit word ’n gemeenskap wat sy eie waardes, sedelike norme en reëls het.” Maar die “sedelike norme” en “reëls” waardeur talle jongmense hulle vandag laat rig, laat hulle dikwels toe om seksuele drange vrye teuels te gee, pleks dat hulle dit beteuel. Baie kan dus voel dat daar druk op hulle uitgeoefen word om voorhuwelikse seks te hê.

Dit is nietemin verstandig van jong Christene om vasbeslote te wees om alle vorme van hoerery te vermy, want hulle weet dat God dit as een van “die werke van die vlees” veroordeel (Galasiërs 5:19). b Maar hoe kan jy kuis bly wanneer jy voor groot druk te staan kom?

Kies wyse vriende

Interessant genoeg, terwyl sosiale druk ’n negatiewe invloed op jou kan hê, kan die regte soort vriende jou positief beïnvloed. Dit is soos die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word” (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). ’n Verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê dat “adolessente wat betekenisvolle verhoudings met ouers, ander besorgde volwassenes en portuurs het” en “in wie se lewe daar bestendigheid en perke is, . . . minder geneig sal wees om seksueel bedrywig te raak”.

Dit kan baie lonend wees om ’n betekenisvolle verhouding met jou ouers te hê. Joseph sê: “My ouers het my beslis gehelp om die druk te weerstaan om met seks te eksperimenteer.” Ja, godvrugtige ouers kan vir jou bestendigheid gee, asook perke wat op God se Woord gebaseer is (Efesiërs 6:2, 3). Hulle kan jou ondersteun in jou strewe om kuis te bly.

Jy sal dalk aan die begin ongemaklik voel om met hulle oor seksuele sake te praat. Maar jy sal moontlik verbaas wees oor hoe goed hulle jou gevoelens verstaan. Hulle was immers ook jonk. Daarom gee Sonja ander jongmense hierdie raad: “Gaan na jou ouers, en moenie verleë of skaam voel om met hulle oor seks te praat nie.”

Sê nou jou ouers lewe nie volgens Bybelstandaarde nie? Terwyl jy nog steeds aan hulle eer betoon, sal jy dalk iemand buite jou gesin vir leiding moet vra. Paul, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ryp Christenegpare is ’n groot hulp in hierdie opsig.” Kenji, ’n jong meisie wat ’n ongelowige ma het, sê ook: “Ek gaan altyd na geestelik opbouende volwassenes om raad te vra.” Maar sy waarsku: “Ek vermy diegene wat nie hoë sedelike standaarde het nie, selfs al beweer hulle dat hulle dieselfde godsdiensoortuigings het as ek.”

Soms is dit dalk nodig om op jou assosiasie in die Christengemeente te let. Die Bybel herinner ons dat daar in enige groot groep dikwels dié sal wees wat hulle nie eerbaar gedra nie (2 Timoteus 2:20). Wat moet jy doen as jy ontdek dat party van die jonges in jou gemeente as ’t ware “verberg wat hulle is”? (Psalm 26:4). Vermy noue omgang met hulle, en kies vriende wat jou besluit om sedelik rein te bly, sal ondersteun.

Verwerp skadelike propaganda

Jy moet ook stappe neem om jou te beskerm teen die stortvloed seksuele beelde en bedekte verwysings na seks wat deur middel van boeke, tydskrifte, musiekvideo’s, videospeletjies, rolprente en die Internet versprei word. Die media beeld voorhuwelikse seks uit as iets wat romanties, aangenaam en sonder risiko is. Wat is die uitwerking daarvan? Kenji, wat hierbo aangehaal is, erken: “Ek het na ’n program gekyk waarin ’n onverskillige houding teenoor seks uitgebeeld is en wat selfs ’n homoseksuele ondertoon gehad het. As gevolg daarvan het ek begin vergeet hoe ernstig Jehovah dit beskou.”

Die feit is dat gewilde vermaak die onaangename werklikhede van voorhuwelikse seks—ongewenste swangerskappe, voortydige huwelike en seksueel oordraagbare siektes—dikwels op vernuftige wyse verbloem. Moet dus nie mislei word deur dié “wat sê dat goed sleg is en sleg goed” is nie.—Jesaja 5:20.

Onthou die woorde van Spreuke 14:15: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” As jy seksueel suggestiewe of prikkelende beelde teëkom terwyl jy lees, op die Internet rondsnuffel of TV kyk, moet jy dadelik iets daaromtrent doen! Maak daardie boek toe, sit jou rekenaar af of verander die TV-kanaal! Dink dan aan iets anders—iets heilsaams (Filippense 4:8). Deur dit te doen, kan jy verkeerde begeertes onderdruk voordat dit tyd het om te ontwikkel.—Jakobus 1:14, 15.

Wees op jou hoede vir gevaarlike situasies

Gaan jy met iemand uit? Dan is dit belangrik dat jy op jou hoede moet wees. Die Bybel waarsku ons: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jeremia 17:9). Dit is maklik om toe te laat dat liefdesblyke tot seksuele wangedrag lei. Neem redelike voorsorg, soos om ’n geskikte chaperone te hê of in ’n groep uit te gaan. Vermy situasies waar julle alleen is en wat julle in die versoeking kan bring.

Maar miskien is jy verloof en voel jy dat sommige liefdesblyke gepas is. ’n WGO-verslag waarsku nietemin: “Wanneer hulle op trou staan, lyk dit asof die meeste vroue, selfs in konserwatiewe gemeenskappe, voorhuwelikse seks het.” c Stel dus beperkings op liefdesblyke en beskerm jou sodoende teen onnodige hartseer.

Hoewel dit dalk skokkend klink, word baie jongmense—veral jong meisies—gedwing of onder druk geplaas om seks te hê. Volgens een studie “het 60 persent van Amerikaanse adolessentemeisies wat seks voor die ouderdom van 15 gehad het, dit onwillig gedoen”. Aanranders gebruik dikwels fisiese krag om hulle slagoffers te oorweldig (Prediker 4:1). Die Bybel vertel byvoorbeeld vir ons dat koning Dawid se seun Amnon op sy halfsuster Tamar “verlief geraak” het, en deur haar te bedrieg, het hy haar gedwing om met hom seks te hê.—2 Samuel 13:1, 10-16.

Dit beteken nie dat dit onmoontlik is om te verhoed dat jy verkrag word of onder druk geplaas word om seks te hê nie. As jy op jou hoede is vir gevaar, situasies vermy wat jou in die versoeking kan bring en vinnig optree wanneer daar ’n bedreiging is, kan jy baie doen om jou te beskerm. d

“Verenig” jou hart

Ons hoop dat die wenke wat ons hier bespreek het, jou sal help in jou stryd om kuis te bly. Maar op die lange duur sal wat in jou hart is, bepaal hoe jy optree. Jesus het gesê “uit die hart kom . . . hoererye” (Matteus 15:19). Derhalwe moet jy die neiging weerstaan om óf ‘halfhartig’ (lou) óf “dubbelhartig” (skynheilig) te word wat hierdie baie belangrike kwessie betref.—Psalm 12:2; 119:113.

As jy ooit voel dat jou vasbeslotenheid verswak of dat daar ’n konflik in jou hart ontstaan, moet jy soos Dawid bid toe hy gesmeek het: “Verenig my hart om u naam te vrees” (Psalm 86:11). Daarna moet jy in ooreenstemming met jou gebed optree deur die Bybel en Bybelpublikasies te studeer en toe te pas wat jy daarin leer (Jakobus 1:22). Lydia sê: “Ek word gemotiveer om seksuele versoekings te weerstaan deur altyd te onthou dat ‘geen hoereerder of onreine enige erfenis in die koninkryk van God het nie’.”—Efesiërs 5:5.

Dit is dalk nie maklik om voorhuwelikse seks te vermy nie. Met Jehovah se hulp kan jy egter kuis bly en jouself en ander baie pyn en lyding spaar.—Spreuke 5:8-12.

[Voetnote]

a Name is verander.

b Sien die artikel “Jongmense vra . . . Wat is so verkeerd met voorhuwelikse seks?” in ons nommer van 22 Julie 2004.

c Sien hoofstuk 29 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

d Wenke in dié verband is gegee in die “Jongmense vra . . . ”-artikels “Seksuele teistering—Hoe kan ek my beskerm?” en “Hoe kan ek keer dat my kêrel my mishandel?” in ons nommers van 22 Augustus 1995 en 22 Junie 2004.

[Prent op bladsy 17]

Dit kan jou help om kuis te bly as jy jou gevoelens met jou ouers bespreek

[Prent op bladsy 18]

Dit is ’n beskerming om in ’n groep uit te gaan