Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ’n goeie vader te wees

Hoe om ’n goeie vader te wees

Hoe om ’n goeie vader te wees

’N ARTIKEL in die tydskrif Economist oor die agteruitgang van die gesinslewe is met hierdie treffende stelling ingelei: “Dit is maklik om kinders te hê; om ’n goeie vader te wees, is nie.”

Baie dinge in die lewe is moeilik om te doen, maar om ’n goeie vader te wees, is een van die moeilikste—asook belangrikste. Elke vader behoort die begeerte te hê om ’n goeie vader te wees, want sy gesin se welsyn en geluk is op die spel.

Waarom dit nie maklik is nie

Eenvoudig gestel, ’n vername rede waarom dit nie maklik is om ’n goeie vader te wees nie, is oorgeërfde onvolmaaktheid—van ouers sowel as hulle kinders. “Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af”, sê die Bybel (Genesis 8:21). Daarom het ’n Bybelskrywer erken: “In sonde het my moeder my ontvang” (Psalm 51:5; Romeine 5:12). Die neiging om weens oorgeërfde sonde te doen wat sleg is, is net een struikelblok wat dit moeilik maak om ’n goeie vader te wees.

Hierdie wêreld, of stelsel van dinge, is ook ’n groot struikelblok. Hoe so? Want, soos die Bybel verduidelik, “die hele wêreld lê in die mag van die bose”, wat geïdentifiseer word as “die een wat Duiwel en Satan genoem word”. Die Bybel noem Satan ook “die god van hierdie stelsel van dinge”. Dit is dus te verstane waarom Jesus gesê het dat sy volgelinge, soos hy, “geen deel van die wêreld” moet wees nie!—1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9; 2 Korintiërs 4:4; Johannes 17:16.

As ’n man ’n goeie vader wil wees, is dit noodsaaklik dat hy voortdurend bewus moet wees van sy oorgeërfde onvolmaaktheid, Satan die Duiwel en hierdie wêreld wat onder sy beheer is. Hierdie struikelblokke is nie denkbeeldig nie. Dit bestaan werklik! Maar waar kan ’n man leer hoe om dit te bowe te kom en hoe om ’n goeie vader te word?

Goddelike voorbeelde

Vir hulp om die bogenoemde struikelblokke te bowe te kom, kan ’n vader na die Bybel toe gaan. Wonderlike voorbeelde word daarin voorsien. Jesus het die beste voorbeeld geïdentifiseer toe hy sy volgelinge leer bid het: “Ons Vader in die hemele.” Die Bybel beskryf ons hemelse Vader met die eenvoudige stelling: “God is liefde.” Hoe moet ’n mensevader op hierdie liefdevolle voorbeeld reageer? “Word . . . navolgers van God”, het die apostel Paulus ons gemaan, “en gaan voort om in liefde te wandel.”—Matteus 6:9, 10; 1 Johannes 4:8; Efesiërs 5:1, 2.

As jy ’n vader is, kyk wat jy uit net een geval kan leer toe God met Jesus, sy Seun, gepraat het. Matteus 3:17 sê vir ons dat God se stem uit die hemel gehoor is toe hy ten tye van Jesus se waterdoop gesê het: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.” Wat kan ons hieruit leer?

Eerstens, dink aan die uitwerking wat dit op ’n kind het as ’n vader met trots vir iemand sê: ‘Dit is my seun’ of ‘Dit is my dogter’. Kinders floreer wanneer ’n ouer aan hulle aandag skenk, veral wanneer hulle geprys word. Dit sal ’n kind waarskynlik motiveer om harder te probeer om hierdie gunstige erkenning waardig te wees.

Tweedens, God het sy gevoelens oor Jesus uitgedruk deur na hom te verwys as “die geliefde”. Daardie liefdesbetuiging van sy Vader het Jesus se hart sekerlik verbly. Jou kinders sal ook bemoedig word as jy deur jou woorde—asook deur jou tyd, aandag en besorgdheid—toon dat jy hulle innig liefhet.

Derdens, God het vir sy Seun gesê: “Ek het jou goedgekeur” (Markus 1:11). Dit is ook noodsaaklik dat ’n vader dit doen, naamlik om vir sy kinders te sê dat hulle sy goedkeuring wegdra. ’n Kind sal weliswaar dikwels te kort skiet, soos met ons almal die geval is. Maar soek jy as ’n vader na geleenthede om jou goedkeuring uit te spreek vir die goeie dinge wat jou kinders doen of sê?

Jesus het goed geleer by sy hemelse Vader. Terwyl hy op aarde was, het hy deur sy woorde en voorbeeld presies getoon hoe sy Vader oor Sy aardse kinders voel (Johannes 14:9). Selfs toe Jesus besig was en onder druk verkeer het, het hy tyd opsygesit om met kinders te gesels. “Laat die jong kinders na my toe kom”, het hy vir sy dissipels gesê, “moet hulle nie probeer keer nie” (Markus 10:14). Vaders, kan julle die voorbeeld van Jehovah God en sy Seun in ’n groter mate navolg?

’n Goeie voorbeeld is noodsaaklik

Die belangrikheid daarvan om ’n goeie voorbeeld vir jou kinders te stel, kan nie oorbeklemtoon word nie. Jou pogings om “[aan te hou] om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed”, sal waarskynlik bitter min sukses behaal as jy jou nie self aan God se dissipline onderwerp en toelaat dat jou lewe daardeur gerig word nie (Efesiërs 6:4). Met God se hulp kan jy egter enige struikelblok oorkom en sy opdrag uitvoer om vir jou kinders te sorg.

Beskou die voorbeeld van Viktor Gutschmidt, een van Jehovah se Getuies in die voormalige Sowjetunie. In Oktober 1957 is hy tot tien jaar tronkstraf gevonnis omdat hy oor sy geloof gepraat het. Hy het sy twee dogtertjies saam met sy vrou, Polina, agtergelaat. Terwyl hy in die tronk was, is hy toegelaat om vir sy gesin te skryf, maar hy is verbied om enigiets oor God of enige godsdiensonderwerp te sê. Selfs in hierdie moeilike omstandighede was Viktor vasbeslote om ’n goeie vader te wees, en hy het geweet dat dit lewensbelangrik is om sy kinders van God te leer. Wat het hy dus gedoen?

“Ek het materiaal gevind in die sowjettydskrifte Die jong natuurkenner en Natuur”, vertel Viktor. “Op poskaarte het ek prente van diere en mense geteken en ’n verhaal of ’n ondervinding oor die natuur ingesluit.”

“Wanneer ons hierdie poskaarte ontvang het”, sê Polina, “het ons dit onmiddellik met Bybelonderwerpe verbind. Wanneer dit byvoorbeeld die prag van die natuur, woude of riviere gemeld het, het ek Jesaja hoofstuk 65 gelees”, wat vertel van God se beloftes om die aarde ’n paradys te maak.

Viktor se dogter Yulia vertel: “Dan het mamma vir ons gebid, en ons het gehuil. Hierdie kaartjies het ’n groot rol in ons opvoeding gespeel.” Gevolglik was “die meisies van kleins af baie lief vir God”, sê Polina. Wat is die gesin se situasie nou?

Viktor sê: “Albei my dogters is nou met Christen- ouer manne getroud, en hulle albei het geestelik sterk gesinne met kinders wat Jehovah getrou dien.”

Om ’n goeie voorbeeld te stel, verg dikwels nie net vindingrykheid nie, maar ook groot inspanning. Dit sal waarskynlik kinders se harte raak wanneer hulle sien dat hulle vader werklik hard probeer. ’n Seun wat baie jare in die voltydse bediening deurgebring het, het met waardering van sy vader gesê: “Soms was my pa so moeg ná werk dat hy skaars kon wakker bly, maar ons het nogtans ons Bybelstudie gehad, en dit het ons gehelp om te besef hoe belangrik dit is.”

Dit is duidelik dat dit noodsaaklik is om ’n goeie voorbeeld te stel—in woord en daad—as jy ’n goeie vader wil wees. Jy moet dit doen as jy die waarheid wil ondervind van die Bybelspreuk wat sê: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.”—Spreuke 22:6.

Onthou dus, dit is nie net wat jy sê wat saak maak nie; dit is veral wat jy doen—die voorbeeld wat jy stel. ’n Kanadese deskundige op die gebied van kleuteropvoeding het geskryf: “Die beste manier om ons kinders te kry om hulle te gedra [soos ons wil hê hulle moet,] is om self die gewenste gedrag aan die dag te lê.” Ja, as jy wil hê dat jou kinders geestelike dinge moet waardeer, is dit onontbeerlik dat jy dit self doen.

Ruim tyd in vir hulle!

Jou kinders moet jou goeie voorbeeld sien. Dit beteken dat jy tyd saam met hulle moet deurbring—baie tyd, nie net ’n bietjie hier en daar nie. Dit is verstandig om ag te slaan op die Bybel se raad om ‘tyd uit te koop’, dit wil sê om minder belangrike dinge prys te gee sodat jy by hulle kan wees (Efesiërs 5:15, 16). Wat is immers belangriker as jou kinders? ’n Grootskerm-TV, ’n professionele stel golfstokke, ’n pragtige huis, jou werk?

Mense sê soms: ‘Betaal nou of betaal later.’ Vaders wie se kinders ’n onsedelike weg ingeslaan het of wat ’n lewenswyse volg wat aan geestelikheid ontbreek, het dikwels diepe berou. Hulle betreur die feit dat hulle nie meer tyd saam met hulle kinders deurgebring het toe hulle werklik ’n vader nodig gehad het nie.

Onthou, dit is wanneer jou kinders klein is dat jy aan die gevolge van jou keuses moet dink. Die Bybel noem jou kinders “’n erfdeel van Jehovah”, iets wat God self aan jou toevertrou het (Psalm 127:3). Moet dus nooit vergeet dat jy teenoor God aanspreeklik is vir hoe jy hulle grootmaak nie!

Hulp is beskikbaar

’n Goeie vader is gretig om hulp te ontvang wat sy kinders tot voordeel sal strek. Nadat ’n engel vir Manoag se vrou gesê het dat sy ’n kind gaan hê, het Manoag tot God gebid: “Laat [hom] asseblief weer na ons toe kom en ons onderrig oor wat ons behoort te doen met die kind wat gebore sal word” (Rigters 13:8, 9). Net soos ouers van vandag het Manoag hulp nodig gehad, maar watter soort hulp? Kom ons kyk.

Brent Burgoyne, ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad, het opgemerk: “Een van die grootste geskenke wat jy ’n kind kan gee, is om hom of haar ’n waardestelsel te leer.” Dat kinders so ’n stelsel geleer moet word, blyk uit ’n verslag in Japan se Daily Yomiuri, wat gesê het: “[’n] Opname toon dat 71 persent van Japannese kinders vaders het wat nooit vir hulle gesê het dat hulle nie leuens moet vertel nie.” Is dit nie ’n hartseer situasie nie?

Wie kan ’n betroubare waardestelsel vir gesinne voorsien? Dieselfde persoon wat Manoag leiding gegee het—God self! God het hulp voorsien deur sy eie dierbare Seun, Jesus, te stuur as Leermeester—die titel wat mense gewoonlik gebruik het om hom aan te spreek. Die boek Leer by die Groot Onderwyser, wat lesse neem uit Jesus se onderrigting, is nou in baie tale beskikbaar as ’n hulpmiddel vir jou wanneer jy jou kinders leer.

Leer by die Groot Onderwyser verduidelik nie net waardes wat op God se Woord gegrond is nie, maar lig ook die geskrewe teks toe met meer as 160 prente waarby daar pertinente vrae verskyn. Byvoorbeeld, hoofstuk 22, met die titel “Hoekom ons nie leuens moet vertel nie”, bevat die prent wat ons op bladsy 32 van hierdie tydskrif kan sien. Op die bladsy waar hierdie prent verskyn, lees ons: “Miskien sê ’n seuntjie vir sy pa: ‘Nee, ek het nie die bal in die huis geskop nie.’ Maar sê nou hy het? Sal dit verkeerd wees om te sê hy het dit nie gedoen nie?”

Kragtige lesse word ook geleer in hoofstukke met die titels “Gehoorsaamheid beskerm jou”, “Ons moet versoekings weerstaan”, “’n Les om goedhartig te wees”, “Moet nooit ’n dief word nie!”, “Keur God alle partytjies goed?”, “Hoe om God gelukkig te maak” en “Hoekom ons moet werk”, om maar net ’n paar van die 48 lesse in die boek te meld.

Die voorwoord van hierdie boek sluit af met die woorde: “Kinders moet in die besonder gerig word na die Bron van alle wysheid, ons hemelse Vader, Jehovah God. Dit is wat Jesus, die Groot Onderwyser, altyd gedoen het. Ons hoop van harte dat hierdie boek jou en jou gesin sal help om julle lewens so te vorm dat dit vir Jehovah welgevallig sal wees, tot julle ewige seën.” a

As jy ’n goeie vader wil wees, is dit duidelik dat jy onder meer ’n goeie voorbeeld vir jou kinders moet stel, baie tyd saam met hulle moet deurbring en hulle moet help om te lewe volgens God se standaarde soos hy dit in die Bybel uiteengesit het.

[Voetnoot]

a My boek met Bybelverhale, Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk en Die geheim van gesinsgeluk is ander boeke wat Jehovah se Getuies voorsien om gesinne te help.

[Prent op bladsy 8]

Al was Viktor Gutschmidt in die gevangenis was hy ’n goeie vader

[Prente op bladsy 8, 9]

Terwyl Viktor vir sy geloof opgesluit was, het hy hierdie prentjies geteken om sy kinders te leer

[Prent op bladsy 9]

Viktor se dogters in 1965

[Prent op bladsy 10]

Vaders moet daadwerklik betrokke wees by hulle kinders se onderrigting