Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Iets beters as beroemdheid

Iets beters as beroemdheid

Iets beters as beroemdheid

SOOS VERTEL DEUR CHARLES SINUTKO

In 1957 is ek ’n kontrak van 13 weke aangebied om in Las Vegas, Nevada, VSA, vir ’n duisend dollar per week te sing, met die moontlikheid om ’n verdere 50 weke op te tree as die opvoerings suksesvol was. Dit sou ’n ekstra $50 000 beteken het—groot geld in daardie dae. Laat ek verduidelik wat hierdie winsgewende aanbod voorafgegaan het en waarom die besluit om dit te aanvaar of nie, so moeilik was.

MY PA, ’n Oekraïner, is in 1910 in Oos-Europa gebore. In 1913 het sy ma hom na die Verenigde State gebring, waar sy by haar man aangesluit het. My pa is in 1935 getroud, en ek is ’n jaar later in Ambridge, Pennsilvanië, gebore. Twee van my pa se ouer broers het om en by daardie tyd Jehovah se Getuies geword.

Toe ek en my drie broers nog jonk was en ons gesin naby New Castle, Pennsilvanië, gewoon het, het my ma die Bybel ’n rukkie saam met die Getuies gestudeer. Nie een van my ouers het destyds Getuies geword nie, maar my pa het gemeen dat sy broers die reg het om te glo wat hulle wil. Hoewel my pa ons grootgemaak het om patrioties te wees, het hy altyd opgekom vir die reg van ander om te aanbid soos hulle wil.

’n Sangloopbaan

My ouers het gemeen dat ek ’n natuurlike sangstem het, en hulle het dus alles in hulle vermoë gedoen om my sangloopbaan aan die gang te kry. Toe ek ses of sewe was, het my pa my dikwels op die kroegtoonbank van ’n nagklub laat staan om te sing en my kitaar te speel. Ek het die liedjie “Mother” gesing. Dit beskryf die eienskappe van ’n liefdevolle moeder en eindig met ’n hartroerende crescendo. Die mans in die kroeg, wat dikwels te veel gehad het om te drink, het dan gehuil en geld in my pa se hoed gegooi.

Ek het in 1945 my eerste radioprogram in New Castle op WKST gehad, waartydens ek countrymusiek gesing het. Later het ek ook gewilde liedjies van die Hit Parade gesing, ’n weeklikse netwerkradioprogram wat die week se toptientreffers gespeel het. My eerste televisieoptrede was in 1950 op Paul Whiteman se program. Sy verwerking van George Gershwin se “Rhapsody in Blue” is vandag nog welbekend. Kort daarna het my pa ons huis in Pennsilvanië verkoop, en ons het na die Los Angeles-omgewing in Kalifornië getrek in die hoop dat dit my loopbaan sou bevorder.

Danksy my pa se deursettingsvermoë het ek kort voor lank my eie weeklikse radioprogram in Pasadena gehad, asook ’n weeklikse halfuur lange TV-program in Hollywood. Ek het saam met Ted Dale se honderdmanorkes opnames by Capitol Records gemaak en ook ’n sanger op die CBS-radionetwerk geword. In 1955 het ek ’n musiekopvoering na die Tahoe-meer in Noord-Kalifornië geneem. Terwyl ek daar was, het my prioriteite in die lewe dramaties verander.

Ek kry my prioriteite reg

Ongeveer dié tyd het oom John—my pa se ouer broer wat ook van Pennsilvanië na Kalifornië getrek het—my die boek “Laat God waaragtig wees” gegee. a b Ek het dit saamgeneem na die Tahoe-meer. Ná ons laaste opvoering, wat lank ná middernag geëindig het, het ek die boek begin lees om te ontspan voordat ek gaan slaap. Ek was verheug om Bybelse antwoorde te vind op vrae waaroor ek al lank gewonder het.

Kort daarna het ek gereeld ná werk in die nagklub gesit en dikwels tot in die vroeë oggendure met ander vermaaklikheidskunstenaars gesels. Ons het onderwerpe bespreek soos die lewe ná die dood, waarom God goddeloosheid toelaat en of die mens homself en die aarde uiteindelik sal vernietig. ’n Paar maande later, op 9 Julie 1955, is ek by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies by Wrigley-stadion in Los Angeles gedoop as simbool van my toewyding om Jehovah God te dien.

Minder as ses maande later, op Kersoggend van 1955, het ’n mede-Getuie, Henry Russell, my genooi om Jack McCoy, wat in die vermaaklikheidsbedryf was, saam met hom te besoek. Henry was die musiekregisseur vir NBC. Wel, toe ons daar kom, het Jack, sy drie kinders en sy vrou kom sit om na ons te luister, al was hulle besig om hulle Kersgeskenke oop te maak. Hy en sy gesin het kort daarna Getuies geword.

Ek het in hierdie tyd met my ma gestudeer, en sy het Bybelwaarheid heelhartig aangeneem. Sy het uiteindelik een van Jehovah se Getuies geword en as ’n pionier, ’n voltydse evangeliedienaar, begin dien. Mettertyd is my drie broers ook gedoop, en hulle het ’n ruk lank aan die pionierdiens deelgeneem. In September 1956, toe ek twintig was, het ek ’n pionier geword.

Besluite in verband met werk

Ongeveer hierdie tyd het George Murphy, ’n persoonlike vriend van my agent, daarin belanggestel om my loopbaan te bevorder. George het gedurende die 1930’s en 1940’s in talle rolprente gespeel. In Desember 1956 het ek, danksy Murphy se konneksies, op die Jackie Gleason-program in New York-stad op CBS-TV verskyn. Dit het my loopbaan ’n groot hupstoot gegee, want die program het ongeveer 20 miljoen kykers gehad. Terwyl ek in New York was, het ek vir die eerste keer die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn besoek.

Nadat ek op die Gleason-program verskyn het, het ek ’n rolprentkontrak van sewe jaar met die MGM-ateljee geteken. Ek is ’n rol in ’n TV-reeks oor die Wilde Weste aangebied. Maar ná ’n ruk het my gewete my begin pla, aangesien ek die rol van ’n dobbelaar en gewapende rampokker moes speel—rolle wat onsedelikheid en ander onchristelike gedrag in ’n goeie lig stel. Ek het dus bedank. Die mense in die vermaaklikheidsbedryf het gedink dat ek van my verstand af is.

Dit bring ons by die winsgewende aanbod om in Las Vegas op te tree, wat aan die begin van die artikel gemeld is. Ek moes begin werk die week wat ons kringopsiener ons sou besoek. Ek moes óf toe die werk aanvaar óf die geleentheid heeltemal verbeur. Ek het regtig gemengde gevoelens gehad, omdat my pa so graag wou hê dat ek groot geld moes maak! Ek het gevoel dat hy verdien om vergoed te word vir alles wat hy gedoen het om my loopbaan te bevorder.

Ek het dus ons presiderende opsiener, Carl Park, genader, wat self ’n musikant was en in die 1920’s vir New York se radiostasie WBBR viool gespeel het. Ek het aan hom verduidelik dat ek die res van my lewe kan pionier sonder om oor geld bekommerd te wees as ek hierdie kontrak aanvaar. “Ek kan nie vir jou sê wat om te doen nie”, het hy gesê, “maar ek kan jou help om ’n besluit te neem.” Hy het gevra: “Sou jy gegaan het as die apostel Paulus ons gemeente hierdie week besoek het?” Hy het bygevoeg: “Wat dink jy wil Jesus hê jy moet doen?”

Dit is so duidelik, het ek gedink. Toe ek my pa vertel dat ek besluit het om nie die werk in Las Vegas te aanvaar nie, het hy gesê dat ek sy lewe verwoes. Daardie aand het hy met sy .38-rewolwer vir my gewag. Hy was van plan om my dood te skiet, maar hy het aan die slaap geraak—blykbaar omdat hy te veel gedrink het. Later het hy hom in die motorhuis probeer vergas. Ek het die nooddiens ontbied, en hulle kon hom weer bybring.

Omdat baie in ons gemeente van my pa se woedebuie geweet het, was hulle bang vir hom, maar ons kringopsiener, Roy Dowell, was nie. Toe Roy hom gaan sien, het my pa terloops genoem dat hulle met my geboorte vir my lewe gevrees het. My pa het God belowe dat hy my aan Sy diens sou toewy as ek bly lewe. Roy het hom gevra of hy al ooit gedink het dat God dalk nou van hom verwag om daardie belofte na te kom. Dit het die wind uit my pa se seile geneem. Toe het Roy gevra: “As die voltydse diens goed genoeg vir God se Seun was, waarom is dit nie goed genoeg vir jou seun nie?” Daarna het dit gelyk of my pa hom by my besluit berus het.

Intussen het Shirley Large in Januarie 1957 saam met haar pioniermaat uit Kanada by vriende kom kuier. Ek en Shirley het mekaar leer ken toe ek saam met haar en haar maat in die huis-tot-huis-bediening gewerk het. Kort daarna het Shirley my na die Hollywood Bowl vergesel, waar ek saam met Pearl Bailey gesing het.

Ek voer my besluit deur

Ek is in September 1957 genooi om as ’n spesiale pionier in die staat Iowa te dien. Toe ek my pa vertel dat ek besluit het om die toewysing te aanvaar, het hy net gehuil. Hy kon my nuwe beskouing van wat werklik waardevol is, nie verstaan nie. Ek het na Hollywood gery en al my kontrakte beëindig. Die beroemde orkes- en koorleier Fred Waring was een van dié met wie ek ’n kontrak gehad het. Hy het vir my gesê dat ek nooit weer as ’n sanger werk sou kry as ek nie my ooreenkoms nakom nie. Ek het dus aan hom verduidelik dat ek my sangloopbaan prysgee om meer in Jehovah God se diens te doen.

Meneer Waring het beleef geluister terwyl ek lank gepraat het en my toe verbaas met sy sagte antwoord: “Seun, ek is jammer dat jy so ’n goeie loopbaan prysgee, maar ek is al my hele lewe lank in die musiekbedryf en het geleer dat die lewe nie net om musiek draai nie. Mag God jou pogings seën.” Ek onthou nog dat ek met trane van blydskap huis toe gery het, omdat ek besef het dat ek vry was om die res van my lewe aan Jehovah se diens te wy.

“Waar is jou geloof?”

Ek het in Strawberry Point, Iowa, ’n dorp met ongeveer 1 200 inwoners, saam met my pioniermaat, Joe Triff, begin gedien. Shirley het kom kuier, en ons het oor trou gepraat. Ek het niks spaargeld gehad nie, en sy ook nie. Al die geld wat ek gemaak het, is deur my pa beheer. Ek het dus verduidelik: “Ek wil met jou trou, maar hoe sal ons lewe? Al wat ek het, is my spesialepionier-toelae van $40 per maand.” Sy het op haar gewone kalm, reguit manier gesê: “Maar Charles, waar is jou geloof? Jesus het gesê dat hy vir ons alles sal byvoeg as ons eers die koninkryk en sy regverdigheid soek” (Matteus 6:33). Dit het die deurslag gegee. Ons is op 16 November 1957 getroud.

Ek het ’n Bybelstudie gehad met ’n boer net buite Strawberry Point wat ’n houthuisie van vier by vier meter in die woud op sy eiendom gehad het. Dit het nie elektrisiteit, lopende water of ’n badkamer gehad nie. Maar as ons wou, kon ons verniet daar bly. Dit was primitief, maar ons het gereken dat ons heeldag in die bediening is en net ’n plek nodig het om te slaap.

Ek het by ’n nabygeleë fontein water geskep. Ons het die huisie met ’n houtstoof verhit en by ’n paraffienlamp gelees; Shirley het op ’n paraffienstoof kos gemaak. Ons het ’n ou wasbalie gebruik om in te bad. Snags het ons na die wolwe geluister en baie gelukkig gevoel dat ons bymekaar kon wees en Jehovah saam kon dien waar Christenbedienaars nodig was. Bill Malenfant en sy vrou, Sandra, wat nou by die wêreldhoofkwartier in Brooklyn dien, was spesiale pioniers in Decorah, Iowa, sowat 100 kilometer van ons af. Hulle het nou en dan ’n dag saam met ons in die velddiens deurgebring. Mettertyd was daar ’n klein gemeente van sowat 25 in Strawberry Point.

Die reisende werk

In Mei 1960 is ons genooi om aan die kringwerk, die reisende bediening, deel te neem. Ons eerste kring was in Noord-Carolina, en dit het die stede Raleigh, Greensboro en Durham sowel as baie plattelandse dorpies ingesluit. Ons lewensomstandighede het verbeter omdat ons by baie gesinne gebly het wat elektrisiteit en selfs ’n toilet in die huis gehad het. Maar die waarskuwings van diegene wat ’n buite-toilet gehad het, was nie gerusstellend nie. Hulle het ons gewaarsku om versigtig te wees vir die mokassin- en ratelslange op die paadjie!

Vroeg in 1963 is ons na ’n kring in Florida oorgeplaas, waar ek ernstige hartsakontsteking opgedoen het en amper dood is. Ek sóú heel moontlik doodgegaan het as Bob en Ginny Mackey van Tampa my nie gehelp het nie. c Hulle het my na hulle dokter geneem en selfs al ons rekeninge betaal.

Ek maak gebruik van my vroeë opleiding

In die somer van 1963 is ek genooi om in New York te gaan werk in verband met ’n groot byeenkoms van Jehovah se Getuies wat daar gehou sou word. Ek het saam met Milton Henschel, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies, na ’n radiogeselsprogram gegaan wat deur Larry King aangebied is. Meneer King is nog steeds ’n vooraanstaande geselsprogramaanbieder op televisie. Hy was baie beleef en het ná die program ongeveer ’n uur lank vrae oor ons werk gevra.

Daardie somer was Harold King, ’n sendeling wat pas uit ’n tronk in Kommunistiese China vrygelaat is, ’n gas by die Getuies se wêreldhoofkwartier. Een aand het hy vir ’n gehoor van sowat 700 party van sy ondervindinge vertel en verduidelik hoe sy geloof deur meer as vier jaar van alleenopsluiting versterk is. Terwyl hy in die tronk was, het hy liedere geskryf oor onderwerpe wat met die Bybel en die Christelike bediening verband hou.

Daardie onvergeetlike aand het ek saam met Audrey Knorr, Karl Klein en Fred Franz—wat reeds baie lank ’n Getuie was en ’n opgeleide tenoorstem gehad het—“Van huis tot huis” gesing, ’n lied wat later ingesluit is in die liedereboek van Jehovah se Getuies. Nathan Knorr, wat destyds die leiding in die werk van die Getuies geneem het, het my gevra om dit die volgende week by die “Ewige Goeie Nuus”-byeenkoms by die Yankee-stadion te sing, wat ek toe gedoen het.

Ondervindinge in die reisende werk

Terwyl ons in Chicago, Illinois, gedien het, het twee onvergeetlike dinge gebeur. Eerstens het Shirley vir Vera Stewart, wat in die middel-1940’s vir haar en haar ma in Kanada getuig het, by ’n kringbyeenkoms gesien. Shirley, wat destyds 11 jaar oud was, was verheug om van God se beloftes in die Bybel te hoor. Sy het vir Vera gevra: “Dink jy ek kan in daardie nuwe wêreld lewe?” Vera het geantwoord: “Ek kan nie sien hoekom nie, Shirley.” Hulle het al twee daardie presiese woorde onthou. Sedert daardie eerste ontmoeting met Vera het Shirley geweet dat sy Jehovah wil dien.

Tweedens het ’n Getuie my gevra of ek onthou dat ons in die winter van 1958 ’n 22-kilogram-sak aartappels op ons stoep gevind het. Ek het dit goed onthou. Ons het dit gevind nadat ons een aand deur ’n sneeustorm huis toe gesukkel het! Hoewel ons nie geweet het waarvandaan dit gekom het nie, het ons natuurlik gedink dat dit ’n voorsiening van Jehovah is. Weens die sneeu kon ons vyf dae lank nie uitgaan nie, maar ons het gelukkig aartappelpannekoeke, gebraaide aartappels, gebakte aartappels, kapokaartappels en aartappelsop gehad om te eet! Ons het geen ander kos gehad nie. Die Getuie het ons nie geken of geweet waar ons woon nie, maar hy het gehoor dat pioniers daar naby dit moeilik het. Hy het gesê dat iets hom beweeg het om te probeer uitvind waar hierdie jong egpaar woon. Boere weet alles van hulle bure, en dit was dus nie lank voordat hy die pad na ons huisie beduie is en die aartappels deur die sneeu gedra het nie.

Dankbaar oor die keuses wat ek gemaak het

Teen 1993, ná 33 jaar in die reisende werk, het my gesondheid so agteruitgegaan dat ek daardie diensvoorreg moes prysgee. Ek en Shirley het verswakte spesiale pioniers geword, wat ons vandag nog is. Hoewel ek jammer is dat ek nie meer die energie het om die reisende werk te doen nie, is ek bly dat ek my energie op dié manier gebruik het.

My drie broers het ander keuses gemaak. Al drie het uiteindelik besluit om materiële rykdom na te jaag, en nie een van hulle dien Jehovah op die oomblik nie. In 1958 is my pa gedoop. Hy en my ma het talle mense gehelp om Jehovah te leer ken, hulle lewe aan Hom toe te wy en gedoop te word. Albei van hulle is in 1999 oorlede. My besluit om wêreldse beroemdheid en rykdom van die hand te wys, het dus heel moontlik die lewe beteken vir my pa en vir baie aan wie hy en my ma Bybelwaarheid verkondig het. Ek wonder dikwels: ‘Sou ek Jehovah nog gedien het as ek nie die keuses gemaak het wat ek wel gemaak het nie?’

Sowat vyf jaar nadat ek met die kringwerk opgehou het, het my gesondheid verbeter en kon ek meer in die bediening doen. Ek dien nou as die presiderende opsiener van ’n gemeente in Desert Hot Springs, Kalifornië. Ek het ook die voorreg om as ’n plaasvervanger in die kringwerk en op spesiale komitees te dien en soms die Pionierdiensskool aan te bied.

Shirley is vandag nog my beste vriend. Ek verkies niemand se geselskap bo hare nie. Ons het gereeld interessante geestelike gesprekke, aangesien ons albei opgewonde raak oor Bybelwaarhede wat ons bespreek. Ek onthou nog met waardering hoe sy meer as 47 jaar gelede heel kalm gevra het: “Maar Charles, waar is jou geloof?” As jong Christenegpare mekaar maar net so ’n vraag sou vra, wonder ek hoeveel van hulle ook moontlik die vreugde en seëninge sou hê wat ons in die voltydse bediening gehad het.

[Voetnote]

a John Sinutko was ’n getroue Getuie van Jehovah tot sy dood in 1996 toe hy 92 jaar oud was.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

c Bob Mackey se lewensverhaal oor sy stryd teen verlamming verskyn in die Awake! van 22 Februarie 1975, op bladsye 12-16.

[Prent op bladsy 20]

Oom John in 1935, die jaar toe hy gedoop is

[Prent op bladsy 22]

Ons houthuisie

[Prent op bladsy 23]

My ouers, in 1975. Hulle het tot hulle dood getrou gebly

[Prent op bladsy 23]

Saam met Shirley vandag