Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Verstommende diversiteit in die oseane

“Internasionale mariene bioloë ontdek nou elke week meer as 30 nuwe spesies”, sê die Duitse koerant Leipziger Volkszeitung. Hierdie aankondiging is gedoen as deel van die eerste vorderingsverslag oor die Sensus van Mariene Lewe, ’n tien jaar lange projek wat in 2000 begin is, waarby ongeveer 300 wetenskaplikes van 53 lande betrokke is. Die navorsers meen dat “daar waarskynlik meer as tweemiljoen dier- en plantsoorte in die oseane is”, sê die koerant. “Meer as 95 persent van die diersoorte in die oseane is dalk nog onbekend.”

Dit word gewoonlik terugbesorg

Volgens The New York Times het mense gedurende 2002 meer as R150 miljoen na die “Verlore Goedere”-sentrum van die Metropolitaanse Polisie in Tokio, Japan, gebring. Hiervan is 72 persent aan die eienaars terugbesorg. Daar is ook honderdduisende ander artikels by hierdie groot “verlore goedere”-sentrum te vinde, onder meer selfone, sleutels, brille, speelgoed, sporttoerusting en—bo aan die lys—sambrele, waarvan 330 000 gedurende 2002 ingegee is. “Kinders word van kleins af geleer om enigiets wat hulle optel, vir die polisie te gee”, sê The Times. Tussen twee- en driehonderd mense kom elke dag na die sentrum om hulle besittings af te haal. Sommige verlore artikels, soos krukke en rolstoele, is ’n raaisel. “Ek wonder wat van die eienaars geword het”, sê Hitosji Sjitara, ’n amptenaar wat al lank by die “verlore goedere”-sentrum werk.

Laatkommers word vasgevat

’n Landwye stiptelikheidsveldtog is in Ecuador van stapel gestuur. Volgens die tydskrif Economist word daar geskat dat, buiten die ongerief wat dit veroorsaak, laatkommery Ecuador jaarliks R4,9 miljard kos—4,3 persent van die land se bruto binnelandse produk. “Meer as die helfte van alle openbare geleenthede begin laat”, sê die verslag. Die stiptelikheidsveldtog het ’n mate van sukses behaal. “Laatkommers word nie in vergaderinge toegelaat nie”, sê The Economist, en “’n plaaslike koerant publiseer elke dag ’n lys van openbare amptenare wat laat vir geleenthede opgedaag het”.

Jongmense en rekenaargebruik

Volgens ’n verslag deur die Amerikaanse Onderwysdepartement “gebruik sowat 90% van mense [in daardie land] tussen die ouderdomme van 5 en 17 rekenaars, en 59% van hulle gebruik die Internet—persentasies wat, in albei gevalle, hoër is as by volwassenes”, verduidelik The Wall Street Journal. Rekenaargebruik begin op ’n vroeë ouderdom. “Ongeveer driekwart van kinders gebruik reeds rekenaars teen die tyd dat hulle vyf jaar oud is, en die meeste van hulle gebruik die Internet teen die tyd dat hulle nege jaar oud is”, sê die verslag. Terwyl meer as die helfte van jongmense die Internet gebruik om met vriende te kommunikeer en speletjies te speel, “gebruik amper drie uit vier die Internet vir huiswerk”, sê die Journal. “Meisies, wat nie lank gelede nie rekenaars en die Internet minder gebruik het as seuns, het so te sê die verskil uitgewis.”

Gesonde Griekse dieet

“Wetenskaplikes by Harvard en die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Atene het die eetgewoontes van 22 043 Grieke byna vier jaar lank gemonitor en gevind dat ’n Mediterreense dieet die gevaar om aan kanker of hartsiekte te sterf met 25% of meer verminder”, berig Readers Digest. “Grieke eet baie neute, vrugte, groente, peulgroente, graankos en olyfolie, baie vis en matige hoeveelhede suiwelprodukte, drank en vleis.” Daar is al dikwels gewys op die gesondheidsvoordele wat ’n tradisionele Mediterreense dieet inhou.

Desperate straatkinders

Armoede het al meer as ’n miljoen Poolse kinders na die strate gedryf, sê die tydskrif Wprost. Hulle is gewoonlik tussen 8 en 15 jaar oud en “het reeds broodwinners geword”; hulle betaal die huur en voorsien kos vir hulle honger broers en susters—hulle gee selfs vir hulle drankverslaafde ouers geld. Hoewel hulle dalk aanvanklik geld op ’n wettige wyse verdien, wend die meeste hulle later tot “diefstal, drank- en dwelmhandel, afdreiging van hulle portuurs en prostitusie”. Volgens Marek Liciński van die Powiślańska-stigting vir Maatskaplike Sake “is die grootste probleem waarmee hierdie kinders te kampe het nie geweld of misdaad nie; dit is dat hulle nêrens ’n plek het wat hulle hulle eie kan noem of iemand het op wie hulle kan reken nie”.

Voedsel vir die vel

Voedselprodukte word al hoe gewilder as bestanddele in skoonheidsmiddels en gesondheidsbehandelings. Buiten sjokolade word bestanddele soos olyfolie gebruik. Duitsland se Frankfurter Allgemeine Sonntagszeitung berig dat “’n ontspannende kakao-borrelbad by kerslig, gevolg deur ’n massering met ’n warm kakao-emulsie en dan ’n kompres van sjokoladefondue om jou hele liggaam” glo help om veroudering van die vel te voorkom. Is dit waar? “Hoewel dit teoreties gesproke nie onmoontlik is dat kakao-ekstrak in rome kan help om veroudering te vertraag nie, is dit nie wetenskaplik bewys nie”, sê professor Volker Steinkraus van die Instituut van Dermatologie in Hamburg.

Vroue en pornografie

“In onlangse jare het die toeganklikheid, bekostigbaarheid en privaatheid van die Internet pornografie beslis aanloklik gemaak vir miljoene vroue”, sê die koerant Plain Dealer van Cleveland, Ohio, VSA. “Byna een uit drie besoekers aan pornografiese webwerwe is ’n vrou.” Een 42-jarige moeder het na pornografie begin kyk “om te probeer verstaan waarom haar gewese man daardeur gefassineer is. Sy het kort voor lank 30 uur per week op die Internet deurgebring om na prikkelende beelde te kyk.”

Slaapskuld is misleidend

“Mense wat met ’n matige slaaptekort saamleef, is dikwels nie bewus van hulle belemmerde denkvermoë nie en voel nie juis slaperig nie”, berig die tydskrif Science News. ’n Twee week lange studie van 48 vrywilligers tussen die ouderdomme van 21 en 38 het getoon dat die voortdurende slaaptekort hulle verstandelike vermoë, insluitende helderheid van verstand en reaksietyd, binne net ’n paar dae aangetas het. Almal het voorheen gemiddeld tussen sewe en agt uur per nag geslaap, maar hulle is vir die studie in vier groepe ingedeel. Lede van drie groepe is toegelaat om agt, ses of vier uur per nag te slaap. Die ander groep is drie dae lank nie toegelaat om te slaap nie. Toetse het ’n toenemende afname in verstandelike vermoë in die sesuur- sowel as die vieruurgroep getoon, maar daar was geen afname onder diegene wat agt uur lank geslaap het nie.