Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Pigmeë word met Bybelwaarheid bereik

Pigmeë word met Bybelwaarheid bereik

Pigmeë word met Bybelwaarheid bereik

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KAMEROEN

In meer as 230 lande oor die hele wêreld probeer Jehovah se Getuies “alle soorte mense” met die boodskap van God se Koninkryk bereik (1 Timoteus 2:4; Matteus 24:14). Onder hulle is die Afrika-pigmeë, klein mense wat gemiddeld tussen 1,2 en 1,4 meter lank is. Die meeste van hulle woon diep in die woude van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, die Kongo-streek en suidoostelike Kameroen.

Die eerste opgetekende ontmoeting tussen pigmeë en besoekers het plaasgevind toe die Egiptiese farao Neferirkare ’n ekspedisie gestuur het om die bron van die Nylrivier te vind. Die ekspedisie het vertel dat hulle in die woude in die binneland van Afrika op mense afgekom het wat klein van gestalte is. Later het die Griekse skrywer Homerus en die filosoof Aristoteles albei van pigmeë melding gemaak. Europeërs het in die 16de en 17de eeu met hierdie mense in aanraking gekom.

In hedendaagse tye getuig Jehovah se Getuies in die woude van Afrika. Hoewel pigmeë gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer het, was pogings om na belangstellendes onder hulle terug te gaan in die meeste gevalle tevergeefs. Dit is omdat pigmeë elke paar maande na ’n ander plek trek.

Dit is bekend dat pigmeë vreedsame, sku mense is, en volgens skatting is daar tussen 150 000 en 300 000 van hulle in Afrika. Regerings, internasionale organisasies en kerke het spesiaal vir hulle skole gebou, asook huisies wat by hulle lewenswyse pas. Maar al die pogings om hulle te oorreed om hulle op een plek te vestig, het grotendeels misluk.

’n Merkwaardige uitsondering in Kameroen is Janvier Mbaki, die eerste pigmee waarvan ons weet wat hier ’n Getuie geword het. Hy het die Bybel se boodskap aangeneem nadat hy die geïllustreerde boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, sowel as ander publikasies, gelees het. a Janvier is in 2002 gedoop en dien nou as ’n pionier, soos Jehovah se Getuies hulle voltydse evangeliedienaars noem. Hy is ook ’n bedieningskneg in die Christengemeente in Mbang, ’n dorpie in die suidoostelike deel van die land. Die tyd sal leer of nog pigmeë in Kameroen sal besluit om Jehovah te aanbid, die enigste ware God, wat vir “alle soorte mense” lief is.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Prent op bladsy 24]

Janvier Mbaki—die eerste pigmee in Kameroen waarvan ons weet wat ’n Getuie geword het—neem aan die bediening deel