Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Olie Ek wou net graag my dankbaarheid uitspreek vir die reeks “Olie—Sal dit ooit opraak?” in die Ontwaak! van 8 November 2003. Ek het nog nooit die skokkende statistieke gesien wat julle aangehaal het in verband met oliestortings nie. As die mens sulke dinge doen, is dit geen wonder dat die aarde in so ’n slegte toestand is nie! Dit laat my uitsien na die toekoms wanneer Jehovah eens en vir altyd ’n einde aan hierdie dinge sal maak en die aarde in ’n paradys sal omskep!

T. T., Verenigde State

Die artikels is op ’n interessante en onbevooroordeelde wyse aangebied. Hoewel ek ’n fisikadoktoraat in prosesingenieurswese het, het ek nog nooit gehoor van die abiogeniese teorie aangaande die oorsprong van petroleum nie. Gewoonlik word net die biogeniese teorie geleer, naamlik dat olie die produk is van biologiese materiale wat ontbind.

E. B., Frankryk

Ek woon ’n tegniese kollege by, en dit is moeilik om handboeke te kry met illustrasies wat die werking van masjinerie verduidelik. Dit is waarom die illustrasie wat toon hoe olie vervaardig word, my beïndruk het. Dit het die artikel makliker gemaak om te verstaan.

M. I., Japan

Julle moes julle reeks deegliker nagevors het. Julle het nagelaat om te noem dat die eerste kommersiële olieboorgat in Noord-Amerika deur James Miller Williams in Ontario, Kanada, gesink is—’n jaar voor Edwin Drake se boorgat in Titusville, Pennsilvanië, VSA.

G. Y., Kanada

“Ontwaak!” antwoord: Daar is heelwat debatte oor hierdie saak. ’n Petroleumgeoloog wat al oor die geskiedenis van olie geskryf het, het vir “Ontwaak!” gesê dat die ligging van die eerste boorgat “in geheimsinnigheid gehul” is. “The Canadian Encyclopedia” som dit dus soos volg op: “Daar word van Williams sowel as van E. L. Drake van Pennsilvanië gesê dat hy die eerste olieboorgat in N[oord]-Amerika geboor het.”

Aardrykskunde Ons hele gesin hou van artikels wat oor aardrykskunde handel. Die artikel “Die magtige Amasone—’n lewensaar vir miljoene” (8 November 2003) het ons dus gefassineer. Hoewel ons op skool van die Amasone geleer het, het ons nie besef dat ‘dit in net 30 sekondes die mensdom se dors vir ’n dag kan les’ nie! Ons is bly dat sulke artikels ons in staat stel om afgeleë lande te “besoek”.

V. G., Slowakye

Dankie vir die pragtige artikel “Praag—Kom besoek ons historiese juweel” (8 November 2003). Ek het dit baie geniet om oor hierdie historiese stad te lees—dit was asof ek self daar was! Dankie ook vir die wonderlike foto’s.

L. Z., Rusland

Ons moes by die skool ’n opstel skryf en ’n stad op so ’n manier beskryf dat ’n mens dit graag sal wil besoek. Ek het my opstel gegrond op die artikel oor Praag en het die beste punte in die klas gekry. Dankie!

O. C., Frankryk

Ongelowige familielede Dankie vir die artikel “Die Bybelse beskouing: Wanneer geliefdes nie soos jy glo nie” (8 November 2003). As die enigste Christen in ’n gesin van ses kinders, sukkel ek al jare lank om in hierdie situasie gebalanseerd te wees. Die tekste in hierdie artikel was so insiggewend!

R. G., Verenigde State

Ek het net onlangs die Bybel begin studeer. Maar die bietjie wat ek reeds geleer het, probeer ek aan my geliefdes, wat nie gelowiges is nie, meedeel. Aangesien ek net 16 jaar oud is, het my familie my verbied om gedoop te word, maar ek hoop om dit eendag te doen. Hierdie artikel sal my help om druk van my familie die hoof te bied.

J. G., Verenigde State