Die einde van vooroordeel
Die einde van vooroordeel
KAN ons neigings tot vooroordeel in onsself sien? Maak ons byvoorbeeld gevolgtrekkings oor iemand se karakter op grond van sy velkleur, nasionaliteit, etniese groep of stam—al ken ons hom nie? Of kan ons elke persoon weens sy of haar unieke eienskappe waardeer?
In Jesus se dag het mense wat in Judea en Galilea gewoon het, gewoonlik “niks met Samaritane te doen [gehad] nie” (Johannes 4:9). ’n Gesegde wat in die Talmoed opgeteken is, het ongetwyfeld die gevoel van baie Jode uitgedruk: “Mag ek tog nooit ’n Samaritaan sien nie.”
Selfs Jesus se apostels het moontlik ’n mate van vooroordeel teenoor Samaritane gekoester. By een geleentheid het ’n Samaritaanse dorpie hulle nie vriendelik ontvang nie. Jakobus en Johannes het gevra of hulle vuur op die onontvanklike mense moet laat neerdaal. Deur hulle te bestraf, het Jesus getoon dat hulle gesindheid verkeerd is.—Lukas 9:52-56.
Later het Jesus ’n gelykenis vertel van ’n man wat deur rowers aangeval is toe hy van Jerusalem af na Jerigo op pad was. Twee godsdienstige Jode wat verbygeloop het, wou die man nie help nie. ’n Samaritaan het egter gestop en die man se wonde verbind. Toe het hy gereël dat die man versorg word sodat hy van sy beserings kon herstel. Hierdie Lukas 10:29-37). Jesus se gelykenis het dié wat na hom geluister het, dalk gehelp om te besef dat hulle vooroordeel hulle vir ander se goeie eienskappe verblind het. ’n Paar jaar later het Johannes na Samaria teruggekeer en in baie van die dorpies daar getuig—dalk ook in die dorpie wat hy eenkeer wou hê vernietig moes word.—Handelinge 8:14-17, 25.
Samaritaan het bewys dat hy waarlik die man se naaste is (Die apostel Petrus moes ook onpartydig wees toe ’n engel hom die opdrag gegee het om met Kornelius, ’n Romeinse leëroffisier, oor Jesus te praat. Petrus was nie daaraan gewoond om met nie-Jode om te gaan nie, en die meeste Jode het glad nie van Romeinse soldate gehou nie (Handelinge 10:28). Maar toe Petrus God se leiding in die saak sien, het hy gesê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.
Waarom ons teen vooroordeel moet stry
Vooroordeel skend ’n grondbeginsel wat Jesus ander geleer het: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Sou enigiemand bloot weens sy geboorteplek, velkleur of agtergrond verag wou word? Vooroordeel skend ook God se standaarde van onpartydigheid. Die Bybel leer dat Jehovah “uit een mens elke nasie van die mense gemaak [het] om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:26). Alle mense is dus broers.
Daarbenewens oordeel God elkeen afsonderlik. Hy veroordeel nie iemand vir wat sy of haar ouers of voorouers gedoen het nie (Esegiël 18:20; Romeine 2:6). Selfs onderdrukking deur ’n ander nasie is nie ’n geldige rede om mense van daardie nasie te haat nie, wat waarskynlik geen persoonlike verantwoordelikheid vir die onreg dra nie. Jesus het sy volgelinge geleer om ‘hulle vyande lief te hê en te bid vir dié wat hulle vervolg’.—Matteus 5:44, 45.
Danksy hierdie leringe is eerste-eeuse Christene gehelp om hulle vooroordeel te bowe te kom en ’n unieke internasionale broederskap te word. Hulle het mekaar broer en suster genoem en het mekaar ook as broers beskou, al het hulle uit verskeie kulture gekom (Kolossense 3:9-11; Jakobus 2:5; 4:11). Die beginsels wat hierdie verandering moontlik gemaak het, kan vandag dieselfde voordele meebring.
Hoe om vandag teen vooroordeel te stry
Feitlik almal van ons het vooropgesette idees, maar dit hoef nie tot vooroordeel te lei nie. “Vooropgesette idees word slegs vooroordele as dit nie omgekeer kan word wanneer ’n mens aan nuwe inligting blootgestel word nie”, sê die boek The Nature of Prejudice. Vooroordeel kan dikwels oorkom word wanneer mense mekaar leer ken. Maar dieselfde boek sê dat “slegs die soort kontak wat mense dinge saam laat doen, waarskynlik daartoe sal lei dat hulle gesindheid verander”.
Dit is hoe John, ’n Nigeriër wat aan die Ibo-stam behoort, sy vooroordeel teen die Hausa-stam te bowe gekom
het. “Op universiteit”, sê hy, “het ek ’n klompie Hausa-studente ontmoet wat my vriende geword het, en ek het besef dat hulle goeie beginsels het. Ek en ’n Hausa-student het saam aan ’n taak gewerk, en ons het baie goed oor die weg gekom; daarenteen het ’n Ibo wat die vorige keer saam met my gewerk het, nie sy kant gebring nie.”’n Hulpmiddel om teen vooroordeel te stry
Volgens die verslag UNESCO Against Racism “kan opvoeding ’n nuttige hulpmiddel wees om teen nuwe vorme van rassisme, diskriminasie en uitsluiting te stry”. Jehovah se Getuies meen dat Bybelonderrig waarlik die beste hulpmiddel in hierdie verband is (Jesaja 48:17, 18). Wanneer mense die leringe daarin toepas, word agterdog deur respek en word haat deur liefde vervang.
Jehovah se Getuies het gevind dat die Bybel hulle help om hulle vooroordeel te oorkom. Trouens, die Bybel gee hulle die motivering sowel as die geleentheid om dinge saam met mense van verskillende kulture en etniese agtergronde te doen. Christina, wat in die eerste artikel van hierdie reeks aangehaal is, is een van Jehovah se Getuies. “Ons vergaderinge by die Koninkryksaal bou my selfvertroue op”, sê sy. “Ek voel veilig daar omdat niemand enige vooroordeel teenoor my koester nie.”
Jasmin, wat ook ’n Getuie is, onthou dat sy op negejarige ouderdom die eerste keer ’n slagoffer van rassisme was. Sy sê: “Donderdae was nog altyd vir my die maklikste dag van die week, want in die aand gaan ek na die Koninkryksaal toe. Daar betoon mense liefde aan my. Hulle laat my voel dat ek spesiaal is, nie dat ek verag word nie.”
Vrywilligerprojekte wat deur Jehovah se Getuies georganiseer word, bring ook mense van verskillende agtergronde bymekaar. Simon is in Brittanje gebore, hoewel sy gesin van die Karibiese Eilande af kom. Hy het baie vooroordeel verduur toe hy as ’n messelaar vir sekulêre boumaatskappye gewerk het. Maar dit het nie gebeur gedurende die jare wat hy saam met sy broers in die geloof op vrywilligerprojekte gewerk het nie. “Ek het saam met mede-Getuies van verskeie lande gewerk”, sê Simon, “maar ons het geleer om goed met mekaar oor die weg te kom. Van die beste vriende wat ek gemaak het, is mense van ander lande en ander agtergronde.”
Jehovah se Getuies is natuurlik onvolmaakte mense. Daarom sal hulle moontlik moet aanhou om te stry teen neigings tot vooroordeel. Maar die wete dat God onpartydig is, gee hulle ’n kragtige motivering om dit te doen.—Efesiërs 5:1, 2.
Daar is talle belonings as ’n mens teen vooroordeel stry. Wanneer ons met mense van ander agtergronde omgaan, word ons lewe verryk. Daarbenewens sal God binnekort, deur middel van sy Koninkryk, ’n mensegemeenskap tot stand bring waarin regverdigheid woon (2 Petrus 3:13). Dan sal vooroordeel vir ewig uit die weg geruim wees.
[Venster op bladsy 11]
Koester ek vooroordeel?
Vra jou die volgende vrae af om te sien of jy onwetend sekere vooroordele koester:
1. Neem ek aan dat mense van ’n sekere etniese agtergrond, gebied of nasie ongewenste eienskappe het, byvoorbeeld dat hulle onnosel, lui of suinig is? (Baie grappe bevorder hierdie soort vooroordeel.)
2. Is ek geneig om immigrante of mense van ’n ander etniese groep die skuld te gee vir my ekonomiese of maatskaplike probleme?
3. Het ek toegelaat dat my gebied se geskiedenis van vyandigheid teenoor ’n ander nasie my vyandiggesind teenoor mense van daardie nasie maak?
4. Kan ek elkeen wat ek ontmoet, as ’n individu beskou—ongeag sy velkleur, kultuur of etniese agtergrond?
5. Is ek gretig om mense te leer ken wie se kulturele agtergrond van myne verskil? Span ek my in om dit te doen?
[Prent op bladsy 8]
In sy gelykenis van ’n barmhartige Samaritaan het Jesus ons geleer hoe om vooroordeel te oorkom
[Prent op bladsy 8]
Petrus het by die huis van Kornelius gesê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie”
[Prent op bladsy 9]
Bybelleringe verenig mense van verskillende agtergronde
[Prent op bladsy 9]
Jehovah se Getuies pas toe wat hulle geleer het
[Prent op bladsy 10]
Christina—“Vergaderinge by die Koninkryksaal bou my selfvertroue op”
[Prent op bladsy 10]
Jasmin—‘Mense betoon liefde aan my. Hulle laat my voel dat ek spesiaal is, nie dat ek verag word nie’
[Prente op bladsy 10]
Simon, ’n vrywillige konstruksiewerker—“Ons het geleer om goed met mekaar oor die weg te kom”