Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om jou hond op te lei

Hoe om jou hond op te lei

Hoe om jou hond op te lei

Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko

“MY HOND wil nie kom as ek hom roep nie.” “My hond blaf so baie dat die bure kla.” “My hond spring altyd teen my en my gaste op.” In al hierdie gevalle vra gefrustreerde troeteldiereienaars: “Wat kan ek doen?”

Die antwoord is waarskynlik om jou hond te leer om basiese bevele te gehoorsaam. Dit is natuurlik die beste om daarmee te begin wanneer jou hond nog klein is. Maar selfs ouer honde kan geleer word. Marcos, ’n professionele hondeafrigter in Mexiko, sê: “Die jongste honde wat ons kry om af te rig, is vier maande oud, en die oudste is vyf jaar oud. Maar ek het selfs honde wat al tien jaar oud is, geleer om basiese bevele te gehoorsaam.”

Honde is intelligent. Hulle is al geleer om dwelms en plofstof uit te snuffel, gestremdes te help en na mense wat in gevaar is of vermis word, te soek sodat hulle gered kan word. Maar hoe kan jy jou hond leer om jou te gehoorsaam?

Genetiese samestelling

Eerstens moet jy iets weet omtrent die genetiese samestelling van jou hond. Soos wolwe is honde bewus van ’n rangorde. Hulle neig instinktief daarna om in ’n trop onder ’n leier, of alfahond, te lewe. Jou gesin is jou hond se trop, en hy moet verstaan dat jy die leier is.

In ’n trop wolwe kies die leier die warmste en hoogste plek om op te slaap. Hy eet ook voor die ander. As jou hond dus toegelaat word om op jou bed te slaap of op die meubels te klim, kan hy begin dink dat hy die leier is. Dit kan ook gebeur as jy hom by maaltye stukkies kos van die tafel af voer.

Selfs wanneer jou hond nog klein is, kan hy leer dat hy aan jou ondergeskik is. Hoe? Probeer hom reg in die oë kyk totdat hy wegkyk. Dit is ook goed om die hond se maag te vryf terwyl hy op sy rug lê, want dit plaas hom in ’n onderdanige posisie. As jou hond lastig is en nie ophou wanneer jy “Nee” sê nie, kan jy hom probeer ignoreer of die vertrek verlaat.

Wanneer jou hond op jou bevele reageer, erken hy dat jy in beheer is. As jy as die eienaar nie jou posisie van leierskap bevestig nie, kan jou troeteldier dink dat hy jou gelyke of meerdere is, en dit kan sy gedrag beïnvloed.

Hoe om hom eenvoudige bevele te leer

Om jou hond basiese bevele te leer, sal jy ’n halsband, ’n leiband en baie geduld nodig hê. ’n Opleidingshandboek stel die volgende voor: (1) Gee ’n eenvoudige eenwoordbevel, (2) demonstreer die gewenste aksie en (3) prys die hond onmiddellik nadat die aksie uitgevoer is. Jou stemtoon is belangriker as die woorde wat jy gebruik. ’n Bevel moet op ’n besliste stemtoon gegee word en wanneer jy hom prys, moet jou stemtoon opgewek en liefdevol wees.

Fisiese straf, soos om hom te slaan of te skop, is onnodig. “Ek sê eenvoudig ‘Nee’ op ’n skerp stemtoon en verleng die klinker sodat die hond weet dat ek ontevrede is met wat hy doen”, sê Marcos, die afrigter wat vroeër aangehaal is. Hy voeg by: “’n Hond is intelligent genoeg om te weet wanneer jy hom prys en wanneer jy hom berispe.”

As drastieser optrede nodig is, kan jy die hond agter sy nek vat en hom liggies skud terwyl jy “Nee” sê. As jy die hond berispe, moet jy dit gedurende of direk ná die ongewenste gedrag doen. Onthou, ’n hond besef nie waarom hy raas kry as jy hom minute of ure later berispe nie. Hy verstaan ook nie waarom sekere gedrag by een geleentheid aanvaarbaar is, maar nie by ’n ander nie. Wees dus konsekwent.

Die bevel “Sit!” vorm die grondslag om jou hond gehoorsaamheid te leer. As jou hond hierdie bevel ken, kan jy hom onder beheer hou wanneer hy ooraktief raak. Jy kan byvoorbeeld vir jou hond sê om te sit wanneer hy teen besoekers begin opspring. Om jou hond te leer sit, moet jy sy leiband aansit en die bevel gee terwyl jy sy agterlyf afdruk en sy kop liggies met die leiband optrek. Prys hom onmiddellik. Herhaal hierdie stappe totdat die hond die bevel op sy eie gehoorsaam.

Jy kan jou hond leer om in die sittende posisie te bly, deur die bevel “Bly!” te gee terwyl jy voor hom staan en jou hand uitstrek met jou palm na die hond toe. As die hond beweeg, sê “Nee!” en laat hom weer sit. Herhaal die bevel en prys jou hond as hy vir ’n rukkie bly sit. Verleng geleidelik die tyd wat hy sit en dan die afstand tussen jou en jou hond wanneer hy op die bevel reageer.

Die beste manier om ’n hond te leer om na jou toe te kom, is om ’n lang leiband te gebruik en liggies daaraan te trek terwyl jy jou hond se naam roep en die bevel “Kom!” gee. Beweeg agteruit wanneer die hond nader kom, en hou aan om hom te prys. Hy sal weldra reageer wanneer jy hom roep sonder dat jy die leiband hoef te gebruik. As jou hond loskom en nie op die bevel “Kom!” wil reageer nie, kan jy hom roep en in die teenoorgestelde rigting hardloop. ’n Hond sal jou dikwels instinktief agternasit.

’n Woordjie van waarskuwing: Moet nooit die woord “kom” gebruik vir ’n negatiewe rede, soos om hom te berispe nie. Jou hond moet leer dat dit aangename gevolge het wanneer hy op die bevel “Kom!” reageer, dat hy geprys gaan word of ’n lekkerny gaan kry. As jy ongeduldig raak terwyl jy hierdie bevel vir die hond leer, sal jou hond leer dat dit onaangenaam is om te kom en dat hy dit moet vermy.

Jy kan jou hond ook leer om langs jou te loop sonder om vinniger of stadiger as jy te loop. Om dit te doen, moet jy ’n wurgketting en ’n kort leiband gebruik. Laat die hond links van jou staan, gee die bevel “Plek!” en begin stap met jou linkervoet. As jou hond vinniger of stadiger loop, moet jy met ’n kort, skerp beweging liggies aan die leiband pluk en die bevel herhaal. Prys hom as hy daarop reageer.

Hoe kan jy voorkom dat jou hond teen jou opspring? Een metode is om agteruit te beweeg terwyl jy die bevel “Af!” en dan “Sit!” gee. ’n Ander manier is om ’n voorpoot in elke hand te vang en na die hond toe te beweeg terwyl jy die “Af!”-bevel herhaal. Prys hom wanneer hy jou gehoorsaam.

’n Lojale metgesel

Onthou, ’n hond is ’n sosiale dier. Wanneer hy lank opgesluit word, kan dit lei tot hiperaktiwiteit, ’n aanhoudende geblaf en vernielsugtige gedrag. Met opleiding kan jou hond ’n aangename, lojale metgesel word—nie ’n ergernis nie.

[Venster/Prente op bladsy 24]

Wenke oor hoe om ’n hond op te lei

1. Wees konsekwent in jou keuse van woorde wanneer jy bevele gee.

2. Honde hou daarvan om hulle naam te hoor, en dit kry hulle aandag. Gebruik dus jou hond se naam tesame met bevele (“Wagter, sit!”). Maar moenie jou hond se naam gebruik wanneer jy hom berispe, soos wanneer jy “Nee!” sê nie. Jou hond moet leer dat dit positiewe gevolge het wanneer hy op sy naam reageer—nie negatiewe gevolge nie.

3. Beloon hom deur hom te prys. Baie honde sal meer doen vir aandag as vir kos.

4. Hou opleidingsessies kort en aangenaam.

5. Moenie onbewustelik negatiewe gedrag aanmoedig deur jou hond baie aandag te gee wanneer hy hom sleg gedra nie. Dit sal net daartoe lei dat hy die slegte gedrag herhaal.

[Prente]

Prys hom

“Wagter, sit!”

[Erkenning]

Aangepas uit Never, Never Hit Your Dog en die American Dog Trainers Network.

[Venster/Prent op bladsy 25]

Hoe om jou hondjie toiletmaniere te leer

’n Hondjie kan toiletmaniere geleer word wanneer hy ses tot agt weke oud is. As jy dit met welslae wil doen, is die volgende faktore volgens Dog Training Basics veral belangrik: inperking, opleiding, tydsberekening en lof. ’n Hond hou gewoonlik nie daarvan om sy slaapplek vuil te maak nie. Hou jou hondjie dus ingeperk wanneer jy nie ’n ogie oor hom kan hou nie. Leer ken sy roetine, en leer hom om ’n spesifieke plek as sy toilet te gebruik. Neem hom (aan sy leiband) uit na hierdie plek sodra hy wakker word, ná ’n maaltyd, ná ’n speelsessie of voor slapenstyd. Prys hom terwyl hy hom ontlas. Jy sal hom dalk ’n snellerwoord wil leer.

Wanneer jou hondjie nie ingeperk is nie, moet jy oplet na tekens dat hy hom wil ontlas, soos wanneer hy skielik ophou speel, om hom begin rondsnuffel en by die kamer uithardloop. As jy jou hondjie betrap terwyl hy hom in die huis ontlas, moet jy hom berispe en hom onmiddellik buitentoe neem. a Ook in hierdie geval sal dit nie help as jy hom lank ná die tyd berispe nie. Maak enige blapsies met asynwater skoon om die reuk te verwyder, anders sal die hond aanhou om daardie plek as sy toilet te gebruik.

[Voetnoot]

a ’n Hond sal soms van opgewondenheid urineer wanneer hy jou groet. Dit is onwillekeurige, normale gedrag by honde. Dit word soms onderdanige urinering genoem en kan beteken dat die hond erken dat jy die leier, of in die alfaposisie, is. As jy jou hond berispe wanneer hy dit doen, kan dit die probleem net vererger, want dit kan maak dat hy meer urineer om verder te wys dat hy jou as die leier beskou. Hierdie gedrag hou gewoonlik op teen die tyd dat ’n hond twee jaar oud is.