Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is ’n egskeiding die antwoord?

Is ’n egskeiding die antwoord?

Die Bybel se beskouing

Is ’n egskeiding die antwoord?

IN Brittanje verwelkom ’n predikant diegene teenwoordig om ’n heilige oorgangsritus te vier. Voor hom staan ’n egpaar saam met ’n intieme groepie vriende en kinders. Nog ’n vreugdevolle troue? Allesbehalwe! Hierdie seremonie bevestig die einde van hulle huwelik. Ja, egskeiding het so algemeen geword dat sommige kerke egskeidingseremonies aanbied!

Oorweeg jy dit om te skei? Indien wel, sal die beëindiging van jou huwelik werklik tot ’n gelukkiger lewe lei? Is daar praktiese stappe wat jy kan neem om gelukkig by jou maat te wees?

“Hulle sal een vlees word”

Toe die eerste mensepaar in die huwelik bevestig is, het God gesê dat ’n man ‘sy vrou sal aankleef en dat hulle een vlees sal word’ (Genesis 2:24). Die huwelik moes dus ’n permanente band wees. Dit is waarom Jesus later gesê het dat “hoerery” die enigste grondslag is vir ’n skriftuurlike egskeiding met die moontlikheid om weer te trou.—Matteus 19:3-9. a

Dit beklemtoon hoe belangrik dit is dat huweliksmaats aan mekaar verbonde moet wees. Maar gestel julle het baie ernstige huweliksprobleme?

Is egskeiding die verstandige weg?

Jesus het ’n beginsel voorsien waarvolgens ons ons optrede kan evalueer toe hy gesê het: “Wysheid word deur sy werke geregverdig” (Matteus 11:19). Wat leer ons uit die gevolge van al die egskeidings wat vandag verkry word sonder dat daar ’n goeie rede daarvoor is?

“Die voordele van egskeiding word oordryf”, sê professor Linda Waite, ’n sosioloog aan die Universiteit van Chicago, wat aan die hoof was van ’n span geleerdes wat ongelukkige huwelike bestudeer het. So ook het professor Michael Argyle van Oxford, nadat hy 11 jaar lank die antwoorde van duisende mense ontleed het, gevind dat “die ongelukkigste mense in die samelewing diegene is wat geskei is of nie meer saam met hulle huweliksmaat woon nie”. Waarom is dit die geval?

Hoewel ’n egskeiding sekere probleme uit die weg kan ruim, kan dit ook ’n reeks traumatiese gebeure ontketen waaroor jy dalk min beheer het. Trouens, navorsing toon dat egskeiding gewoonlik nie depressiesimptome verminder of jou selfbeeld verbeter nie.

Selfs al het jy nie die “volmaakte huwelik” nie, kan dit voordele inhou om by jou huweliksmaat te bly. Baie wat vasbeslote is om dit te doen, vind geluk. Professor Waite sê: “Talle probleme word mettertyd opgelos, en getroude mense is geneig om gelukkiger te word.” Trouens, een studie toon dat byna 8 uit 10 mense wat “baie ongelukkig” in hulle huwelik was maar nie geskei het nie, vyf jaar later “gelukkig getroud” was. Selfs wanneer daar groot probleme is, is dit dus goed as egpare nie oorhaastig skei nie.

Praktiese stappe

Diegene wat ’n egskeiding oorweeg, moet hulle afvra of hulle verwagtinge van die huwelik realisties is. Die media het die idee bevorder van ’n romantiese verhouding wat ’n hoogtepunt bereik in ’n glansryke troue met ’n sprokiesagtige einde. Ná die troue, wanneer hoë verwagtinge onvervuld bly, kan die gevolglike teleurstelling tot konflik lei. Namate die spanning toeneem, ontvou ’n drama waarin seergemaakte gevoelens emosies oorheers. Liefde verflou en word mettertyd deur woede en haat vervang. Onder sulke omstandighede voel party dalk dat ’n egskeiding die enigste uitweg is.—Spreuke 13:12.

Moenie toelaat dat negatiewe gevoelens jou beskouing beïnvloed nie, maar assosieer eerder met diegene wat vasbeslote is om ’n sukses van hulle huwelik te maak. Christene word aangespoor om ‘aan te hou om mekaar te vertroos en mekaar op te bou’ (1 Tessalonisense 5:11). Diegene met huweliksprobleme het beslis bemoediging van medegelowiges nodig.

Die belangrikheid van godvrugtige eienskappe

“Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid”, het die apostel Paulus gemaan (Kolossense 3:12). Gedurende stormagtige tye kan godvrugtige eienskappe die eenheid in die huwelik bewaar.

Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het” (Kolossense 3:13). Die sielkundige Christopher Peterson van die Universiteit van Michigan sê: “Vergewensgesindheid is die eienskap wat die meeste met geluk verband hou.”

Goedhartigheid, teerheid en vergewensgesindheid lei tot liefde, “’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Jy was heel waarskynlik eens op ’n tyd gelukkig en verlief. Kan jy weer daardie liefde van vroeër ervaar? Ongeag hoe moeilik jou omstandighede is, moenie moed verloor nie. Daar is hoop. Trouens, as julle bymekaarbly en Bybelbeginsels toepas, kan dit tot groter geluk lei as wat jy gedink het moontlik is. Jou pogings in hierdie opsig sal Jehovah God, die Insteller van die huwelik, ongetwyfeld bly maak.—Spreuke 15:20.

[Voetnoot]

a Die Christengemeente van Jehovah se Getuies respekteer ’n onskuldige huweliksmaat se reg om te besluit of hy of sy van ’n owerspelige maat gaan skei of nie. Sien die Ontwaak! van 22 April 1999, bladsye 5-9.