Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense wat onbeskroomd oor hulle geloof praat

Jongmense wat onbeskroomd oor hulle geloof praat

Jongmense wat onbeskroomd oor hulle geloof praat

DAAR is baie jongmense onder Jehovah se Getuies. Hulle het God lief en streef daarna om in ooreenstemming met sy standaarde te lewe soos dit in die Bybel uiteengesit word. Hierdie jongmense is trots op hulle geloof, en by die skool praat hulle vryelik met ander daaroor. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

◼ Toe Holly in graad ses was, moes sy en haar klasmaats ’n opstel skryf in antwoord op die vraag: “Hoe sal jy die probleem van terrorisme oplos sonder om geweld te gebruik?” Holly het hierdie geleentheid gebruik om oor haar Bybelse hoop vir die toekoms te skryf. Deur die geskiedenis heen, het sy verduidelik, het “die mens oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). Toe het sy die aandag gevestig op die enigste ware hoop vir die mensdom—God se Koninkryk. “Aangesien Jesus die aangestelde Koning van hierdie Koninkryk is”, het sy geskryf, “sal alle probleme, waaronder terrorisme, uit die weg geruim word.” Holly het verduidelik hoe Jesus sal teweegbring wat geen menseheerser kan nie. “Toe Jesus op die aarde was,” het sy geskryf, “het hy getoon watter soort heerser hy sal wees. Hy was liefdevol, en hy het vir mense omgegee. Hy het sy krag getoon deur siektes te genees en deur die dooies op te wek. Geen menseregering kan diegene wat gesterf het, weer lewend maak nie. Maar God se Koninkryk sal.” Holly het haar opstel afgesluit met die woorde: “Net God kan hierdie probleem oplos, nie mense nie.”

Onderaan die opstel het die onderwyseres geskryf: “Uitstekend, Holly! En baie goed deurdink.” Die onderwyseres was ook beïndruk met Holly se skriftuurlike verwysings. Dit het Holly die geleentheid gegee om met haar onderwyseres oor die Teokratiese Bedieningskool te praat, ’n weeklikse vergadering wat deur Jehovah se Getuies gehou word om die spraak- en onderrigkuns te bemeester. Haar onderwyseres het met graagte ’n eksemplaar van die handboek wat in die Bedieningskool gebruik word, geneem.

Jessica kon ook van haar geloof getuig wanneer sy skoolopstelle geskryf het. “Ek het al drie opstelle in verband met my oortuigings geskryf”, sê sy. “Een was oor Jehovah se Getuies en godsdiensregte. Die onderwyseres het dit in die biblioteek vertoon sodat dié wat wou, dit kon lees. Meer onlangs het ek ’n opstel geskryf oor my doop en hoe belangrik daardie dag vir my is. Die leerlinge gee hulle opstelle vir mekaar voordat hulle dit ingee, en my klasmaats het dus die geleentheid gekry om myne te lees. Een meisie het gesê: ‘Jou opstel is baie goed. Dit is goed om te weet wat van ’n mens verwag word as jy een van Jehovah se Getuies is. Geluk met jou doop!’ Nog ’n meisie het gesê: ‘Jou vertelling was wonderlik! Ek is bly dat jou geloof so sterk is!’ Een seun het eenvoudig geskryf: ‘Jou kop is reg aangeskroef. Baie geluk.’”

◼ Toe Melissa 11 was, het sy ’n unieke geleentheid gehad om oor haar geloof te praat. “Die skoolverpleegster het na my wetenskapklas toe gekom om oor die immuunstelsel te praat. Die onderwerp van bloedoortappings het ter sprake gekom. Ná die klas het ek my wetenskaponderwyser van een van ons video’s oor bloed vertel. Ek het dit die volgende dag skool toe gebring, en my onderwyser het dit huis toe geneem en saam met sy gesin daarna gekyk. Die volgende dag het hy die video skool toe gebring en dit vir twee klasse, insluitende ons klas, gewys. Hy het toe gunstige kommentare oor Jehovah se Getuies gemaak en vir die klas gesê dat alternatiewe vir oortappings nie geredelik beskikbaar sou gewees het as dit nie vir Jehovah se Getuies was nie. Toe hy die video vir my teruggee, het hy gevra: ‘Hoe kan ek ’n video vir die skool se biblioteek kry?’ Ek het vir hom een gegee. Hy was baie opgewonde daaroor, en ek ook!”

Holly, Jessica en Melissa is onder die talle jong Getuies van Jehovah wat ag slaan op die Bybel se vermaning om aan hulle Skepper te dink (Prediker 12:1). Doen jy dit ook? Indien wel, kan jy verseker wees dat jy Jehovah se hart bly maak.—Spreuke 27:11; Hebreërs 6:10.

Jongmense, wanneer julle met julle skoolmaats en onderwysers oor julle geloof praat, gee dit ’n kragtige getuienis oor Jehovah God en sy voornemens. Dit versterk ook julle geloof, en dit kweek in julle ’n heilsame trots vir die voorreg om God se knegte te wees (Jeremia 9:24). Dit dien ook as ’n beskerming as julle by die skool getuig. Jessica beskryf dit soos volg: “Een voordeel wat dit inhou om oor my geloof te praat, is dat leerlinge nie druk op my probeer uitoefen om dinge te doen wat nie in ooreenstemming is met wat die Bybel sê nie.”

[Prente op bladsy 12]

Holly

[Prente op bladsy 12, 13]

Jessica

[Prente op bladsy 13]

Melissa