Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Natto—Japan se unieke sojabone

Natto—Japan se unieke sojabone

NattoJapan se unieke sojabone

Deur Ontwaak!-medewerker in Japan

Begin jou mond water as jy aan gegiste, draderige sojabone dink? Waarskynlik nie! Maar natto—gegiste, gestoomde bone—is ’n gewilde voedselsoort in Japan. Trouens, volgens skatting word daar elke jaar meer as 110 000 ton sojabone gebruik om 220 000 ton natto te maak.

VOLGENS oorlewering het die krygsman Minamoto Josjiie sowat ’n duisend jaar gelede gekookte sojabone gevind wat op strooi gelos is en gegis het, en dit toe geëet. Dit is hoe natto ontdek is. Natto het blykbaar teen die einde van die Edo-tydperk (1603-1867) in party gebiede ’n algemene bestanddeel van Japannese kookkuns geword.

Hoe word natto gemaak? In die verlede is bondeltjies rysstrooi met gestoomde bone gevul en dan op ’n warm, klam plek geplaas. As gevolg van die bakterie Bacillus natto wat in die rysstrooi lewe, het dit dan begin gis. Gedurende gisting ontbind proteïne en glusied in die sojabone, en dit lei tot die vorming van die kenmerkende natto-drade, wat tot ses meter lank kan wees!

Deesdae word natto in geoutomatiseerde fabrieke in groot hoeveelhede geproduseer, waar die regte hoeveelheid Bacillus natto oor die gestoomde sojabone gespuit word. Die bone word dan met ’n masjien in kleiner houers oorgeplaas. ’n Vervoerband neem dit na ’n bergingsplek, waar gereguleerde temperature en vogvlakke die bone laat gis en ryp word. Ná verpakking is die natto reg vir die mark.

Natto het ’n kenmerkende reuk wat sommige afstootlik vind. Maar die draderige bone is voedsaam. Gedurende gisting word vitamiene B2 en K en minerale soos yster, kalsium en kalium gevorm. Daarbenewens bevat natto ensieme wat goed is vir die spysvertering. Nattokinase, ’n ensiem wat bloedklonte oplos, word ook in natto gevind.

Natto-drade word nie net as voedsel gebruik nie. Dit word gebruik om byvoorbeeld vesel, bioafbreekbare plastiek en hars te maak. Die natto-hars is hidrofilies.

Gisting stel hitte vry en skei stowwe af wat ander bakterieë onderdruk. As natto op die regte manier gemaak word, hou dit dus lank. Tydens een proefneming is natto-basille en die enteropatogene E. coli O157, wat ’n lewensgevaarlike voedselvergiftiging kan veroorsaak, saam gekweek. Die E. coli O157 het doodgegaan. Nietemin word daar aanbeveel dat natto in die yskas gehou word en binne ’n week of wat geëet word omdat die smaak geleidelik sal verander. Wanneer die gisting te lank aanhou, los die sojabone heeltemal op en gee dit ’n skerp ammoniakreuk af.

Baie mense eet natto op die tradisionele manier—gegeur met sojasous. Party verkies dit saam met mosterd of fyngekapte salotte, terwyl ander daarvan hou om dit saam met seewier of ’n eier te eet. Natto gaan goed saam met warm witrys. Dit kan ook met spaghetti, Japannese noedels en selfs met sop bedien word. Party geniet dit op gebotterde roosterbrood. Wanneer dit saam met rys bedien word, is dit goed om die bone deeglik te meng. Hoe meer jy dit roer, hoe meer drade sal gevorm word.

Natto word al hoe gewilder namate mense meer bewus word van die voedingswaarde daarvan. Trouens, reuklose natto is nou beskikbaar, en dit word verwelkom deur diegene wat dit weens die reuk vermy het. Probeer natto gerus. a Jy kan ook leer om Japan se gegiste, draderige sojabone te geniet!

[Voetnoot]

a Diegene wat warfarien vir hartprobleme neem, moet in gedagte hou dat die vitamien K-inhoud in natto ’n uitwerking kan hê op die werking van die medisyne.