Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Waarom dit lekker is om te lag

Waarom is dit so lekker om te lag? Navorsing toon dat humor nie net dele van die brein aktiveer wat met gewaarwording en taal geassosieer word nie, maar ook die nukleus accumbens, ’n deel van die brein wat al verbind is met geluk en euforie, berig The Vancouver Sun. Volgens dr. Allan Reiss van die Stanford-universiteit is hierdie neurale streek “’n baie kragtige deel van die brein”. Reiss glo dat die studie van humor dokters kan help om sosiale gedrag beter te verstaan. “’n Mens se sin vir humor bepaal dikwels of, hoe en met wie ons vriendskappe en selfs langtermyn romantiese verhoudings het”, sê dr. Reiss. “Humor is ook ’n algemene manier om allerhande vorme van spanning waarvoor [mense] te staan kom, die hoof te bied.”

‘’n Nuwe siekte van die 21ste eeu’

Dit is hoe sommige psigiaters al die nuwe “verslawing” aan selfone beskryf het. Volgens ’n studie deur die Spesiale Sentrum vir Behandeling en Rehabilitasie van Sosiale Verslawings (CETRAS) is “ongetroude vroue tussen die ouderdomme van 16 en 25 wat skaam, onvolwasse en gefrustreerd is”, die vatbaarste, berig die Spaanse koerant El País. Die “verslawing” lei tot “’n onversadigbare drang om selfone te gebruik om oproepe te maak en boodskappe te stuur”, sê die psigiater Blas Bombín. Wanneer hulle nie hulle selfoon kan gebruik nie, raak hulle “angstig en geïrriteerd”. “Selfoonverslawing” beïnvloed nie net menseverhoudings nie, maar is ook duur. CETRAS meld gevalle van pasiënte wat agt selfone op dieselfde tyd het en “wie se telefoonrekening tot 800€ [R6 000] per maand is”.

Wêreld se krotbuurte neem toe

Teen die huidige tempo sal “een uit elke drie mense in die wêreld binne 30 jaar in ’n krotbuurt woon”, sê ’n VN-verslag wat in The Guardian van Londen aangehaal word. Ongelukkig “lewe 940 miljoen mense—byna ’n sesde van die wêreld se bevolking—reeds in haglike, ongesonde gebiede en meestal sonder water, sanitasie, openbare dienste of wettige sekuriteit”. In die Kibera-distrik van Nairobi, Kenia, is daar ongeveer 600 000 krotbewoners. Anna Tibaijuka, hoof van VN-habitat, die VN se menslike nedersettingsprogram, sê: “Ernstige ongelykhede en ledigheid lei tot antisosiale gedrag. Krotbuurte is ’n broeines van alle euwels; dit is plekke waar daar nie vrede en veiligheid is nie en waar jongmense nie beskerm kan word nie.”

China se parkeerprobleem

Vinnige ekonomiese groei in China het daartoe gelei dat miljoene nou ’n motor besit. Maar daar is een probleem—parkeerplek. Baie woonstelblokke wat in die afgelope 25 jaar gebou is, het nie parkeerplek nie omdat so min mense motors besit het toe die wonings gebou is. Ouer woonbuurte het nou, kronkelende straatjies, wat dit feitlik onmoontlik maak om ’n motor te parkeer. Intussen het “die getal motors in Beijing toegeneem tot oor die 2 miljoen, terwyl daar parkeerplek vir net 600 000 is”, berig China Today. Landwyd het slegs sowat 20 persent van motoreienaars ’n wettige parkeerplek. Nog ’n aanduiding dat die getal motors toeneem, is die groeiende vraag na olie. Volgens China Today “sal China binnekort Japan se plek as die tweede grootste petroleumverbruiker oorneem”.

Jongmense met oorgebruiksbeserings

Al hoe meer jongmense moet vir oorgebruiksbeserings (RSI) behandel word, berig The Globe and Mail van Kanada. “Dokters en fisioterapeute sê dat hulle al hoe jonger pasiënte kry omdat onaktiewe kinders meer tyd voor die rekenaar deurbring, tuis sowel as by die skool”, sê die koerant. Om voortdurend te tik of op die kontroleapparaat van videospeletjies te kliek, kan volgens die Globe tot pyn en swelling lei wat algemeen onder RSI-lyers voorkom. Ouers word aangeraai om te let op hulle kinders se liggaamshouding en tekens van RSI—byvoorbeeld as ’n kind sy elmboë of gewrigte vryf of oor gevoelloosheid of ’n tintelende sensasie kla.

Gevaarlike werksplek?

Volgens ’n Sweedse studie “hou dit gevaar vir jou huwelik in om saam met mense van die teenoorgestelde geslag te werk”, berig The Wall Street Journal. Die samesteller van die studie, Yvonne Aberg, het regeringsverslae van egskeidings en van waar mense werk, hersien en gevind dat “die egskeidingsyfer met ’n verstommende 70% toeneem wanneer ’n mens se medewerkers almal van die teenoorgestelde geslag is, in vergelyking met ’n kantoor vol medewerkers van dieselfde geslag”. Aberg het ook gevind dat die huwelikstaat van medewerkers geen verskil gemaak het nie. Die sewe jaar lange studie waarby 37 000 werkers by 1 500 werksplekke betrokke was, is op proefondervindelike gegewens gegrond en nie op persoonlike verslae nie, wat gewoonlik nie so akkuraat is nie. Die artikel het gesê dat een manier om die moontlikheid van ’n egskeiding met 50 persent te verminder, is om saam met jou huweliksmaat in dieselfde kantoor te werk.

Ongelowige predikant

’n Lutherse predikant het verlede jaar opspraak gemaak omdat hy gesê het dat “daar geen hemelse God, geen ewige lewe, geen opstanding is nie”. Nadat hy ’n rukkie geskors is, is hy toegelaat om weer as ’n predikant te begin werk, berig BBC News. Thorkild Grosbøl van die Tårbæk-gemeente naby Kopenhagen “het om verskoning gevra vir sy kommentare” en sy verantwoordelikhede teenoor die kerk erken, het biskop Lise-Lotte Rebel van die Helsingør-bisdom gesê. Grosbøl het egter aangehou met sy preke. In Junie 2004 het die biskop gesê dat daar deur middel van ’n verhoor bepaal sal moet word of Grosbøl kan voortgaan om as ’n predikant te dien as hy weier om te bedank.

Antieke evangelie-inskripsie

Geleerdes in Palestina het vir die eerste keer ’n vers uit die Christelike Griekse Geskrifte gevind wat op ’n antieke graf gegraveer is, berig Duitsland se Frankfurter Allgemeine Zeitung. ’n Inskripsie op wat nou bekend is as Absalom se Graf, is toevallig gevind. Die antropoloog Joe Zias het in die gedempte lig op ’n foto wat in die skemer geneem is, iets gesien wat soos ’n verweerde inskripsie gelyk het. Papiermaché is eenvoudig aan die inskripsie gesmeer om ’n afdruk te maak, en die Bybelvers is ontsyfer. Die inskripsie is van Lukas 2:25 en stem ooreen met die Codex Sinaiticus van die vierde eeu. Die vonds is betekenisvol aangesien die gebruik van Bybeltekste op grafstene eers omstreeks 1000 G.J. gewild geword het.