Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer ’n geliefde ’n geestesiekte het

Wanneer ’n geliefde ’n geestesiekte het

Wanneer ’n geliefde ’n geestesiekte het

DIE oggend het vir die Johnsons soos enige normale weeksdag begin. a Die gesin van vier was op en klaar aangetrek vir die dag se bedrywighede. Gail het haar 14-jarige seun, Matt, daaraan herinner dat hy laat is vir die skoolbus. Wat hierop gevolg het, was heeltemal onverwags. Binne ’n halfuur het Matt ’n slaapkamermuur vol verf gespuit, die motorhuis aan die brand probeer steek en hom in die solder probeer ophang.

Terwyl Gail en haar man, Frank, die ambulans gevolg het wat Matt kom haal het, het hulle desperaat probeer verstaan wat so pas gebeur het. Maar dit was ongelukkig net die begin. Talle psigotiese voorvalle het gevolg, wat Matt in die donker wêreld van geestesiekte gedompel het. Sy tydperk van diepe foltering het vyf jaar geduur en het verskeie selfmoordpogings, twee arrestasies, behandeling in sewe psigiatriese inrigtings en eindelose sessies met geestesgesondheidsdeskundiges ingesluit. Verwarde vriende en familielede het dikwels nie geweet wat om te sê of te doen nie.

Na raming sal 1 uit 4 mense regoor die wêreld op die een of ander stadium in hulle lewe aan ’n geestesiekte ly. In die lig van hierdie verstommende statistiek is dit moontlik dat jy ’n ouer, kind, broer, suster of vriend het wat die een of ander breinversteuring het. b Wat kan jy doen as ’n geliefde aan so iets ly?

Herken die simptome. ’n Geestesiekte word moontlik nie onmiddellik gediagnoseer nie. Vriende en familielede skryf dalk die simptome toe aan hormoonveranderinge, fisiese kwale, persoonlikheidgebreke of moeilike omstandighede. Matt se ma het gevaartekens in Matt opgemerk, maar sy ouers het gedink dat sy buierigheid deel was van ’n puberteitstadium wat gou sou verbygaan. Maar opvallende veranderinge in slaappatrone, dieet of gedrag kan ’n aanduiding van iets ernstigers wees. ’n Ondersoek deur ’n deskundige kan doeltreffende behandeling en ’n beter lewensgehalte vir jou geliefde tot gevolg hê.

Wees ingelig. Mense met geestesiektes het gewoonlik beperkte vermoë om navorsing oor hulle eie siekte te doen. Daarom kan die inligting wat jy uit die jongste en betroubare bronne inwin, jou help om te verstaan wat jou geliefde deurmaak. Dit kan jou ook help om openlik met ander te praat en goed ingelig te wees wanneer jy dit doen. Gail het byvoorbeeld vir Matt se ouma en oupa mediese pamflette gegee wat hulle gehelp het om meer ingelig en betrokke te voel.

Kry behandeling. Ondanks die langdurige aard van party geestesiektes kan baie lyers met gepaste behandeling ’n stabiele, produktiewe lewe lei. Ongelukkig sukkel baie mense jare lank voort sonder om hulp te kry. Net soos ’n ernstige hartkwaal deur ’n hartspesialis behandel moet word, verg geestesiekte die aandag van dié wat weet hoe om sulke toestande te behandel. Psigiaters kan byvoorbeeld medisyne voorskryf wat kan help om die gemoedstemming te beheer, angstigheid te verlig en verwronge denkpatrone reg te stel wanneer dit gereeld geneem word. c

Moedig die lyer aan om hulp te kry. Diegene met geestesiektes besef dalk nie dat hulle hulp nodig het nie. Jy kan aanbeveel dat die lyer ’n spesifieke dokter gaan spreek, ’n paar nuttige artikels lees of met iemand gesels wat daarin geslaag het om ’n soortgelyke siekte die hoof te bied. Dalk is jou geliefde nie ontvanklik vir jou raad nie. Maar moenie huiwer om in te gryp as iemand onder jou sorg die gevaar loop om homself of ander seer te maak nie.

Moenie verwyt nie. Wetenskaplikes kon tot nou toe nog nie die komplekse interaksie tussen genetiese, omgewings- en sosiale faktore uitpluis wat tot abnormale breinfunksie bydra nie. ’n Kombinasie van faktore kan tot ’n geestesiekte bydra, waaronder breinbesering, dwelm- en alkoholmisbruik, omgewingsfaktore wat stres veroorsaak, biochemiese wanbalanse en erflike geneigdheid. Dit help nie om mense te beskuldig van dinge wat jy dink hulle dalk gedoen het om tot ’n siekte by te dra nie. Jy wil eerder jou energie gebruik om hulle te help en aan te moedig.

Koester realistiese verwagtinge. As jy meer van ’n lyer verwag as wat hy of sy kan gee, kan dit ontmoedigend wees. Daarenteen kan dit daartoe aanleiding gee dat die lyer hulpeloos voel as sy tekortkominge oorbeklemtoon word. Wees dus realisties wat jou verwagtinge betref. Verkeerde gedrag moet natuurlik nie geduld word nie. Diegene met geestesiektes kan net soos enigiemand anders uit die gevolge van hulle dade leer. In die geval van gewelddadige gedrag is regsaksie of sekere beperkings dalk nodig om die persoon of ander te beskerm.

Behou goeie kommunikasie. Kommunikasie is noodsaaklik, al lyk dit dalk soms of jou kommentare verkeerd opgeneem word. Die reaksies van iemand met ’n geestesiekte kan onvoorspelbaar wees, en sy of haar emosies lyk miskien onvanpas in die betrokke situasie. Maar as jy die lyer se opmerkings kritiseer, sal dit hom, benewens sy neerslagtigheid, boonop skuldig laat voel. Wanneer dit lyk of woorde nie help nie, moet jy net sit en luister. Erken sy gevoelens en gedagtes sonder om te veroordeel. Probeer kalm bly. Jy en jou geliefde sal daarby baat vind as jy eenvoudig voortgaan om te toon dat jy omgee. Dit was waar in Matt se geval. ’n Paar jaar later het hy sy waardering uitgespreek vir diegene wat, volgens hom, “my gehelp het toe ek nie hulp wou hê nie”.

Neem die behoeftes van ander gesinslede in ag. Wanneer ’n gesin aandag moet skenk aan die een wat ’n krisis beleef, kan ander lede afgeskeep word. Matt se suster, Amy, het ’n tyd lank gevoel dat sy “in die skaduwee van sy siekte lewe”. Sy het haar eie prestasies gekleineer sodat sy nie aandag op haarself sou vestig nie. Intussen het dit gelyk of haar ouers meer van haar verwag het, amper asof sy vir haar broer se tekortkominge moes vergoed. Party kinders wat in so ’n situasie afgeskeep word, probeer die aandag op hulleself vestig deur stout te wees. Gesinne wat ’n krisis beleef, het hulp nodig om in die behoeftes van almal in die gesin te voorsien. Toe Matt se probleme byvoorbeeld al die Johnson-gesin se tyd en aandag in beslag geneem het, het vriende in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies Amy gehelp deur ekstra aandag aan haar te gee.

Bevorder goeie geestesgesondheid. In ’n omvattende plan om geestesgesondheid te verbeter, moet daar onder meer aandag gegee word aan dieet, oefening, slaap en sosiale bedrywighede. Eenvoudige bedrywighede saam met klein groepies vriende is gewoonlik nie so intimiderend nie. Onthou ook dat alkohol simptome kan vererger en met die werking van medikasie kan inmeng. Die Johnson-gesin probeer nou ’n roetine van geestesgesondheid handhaaf wat vir almal voordelig is, maar veral vir hulle seun.

Pas jóú op. Die stres wat die versorging van iemand met ’n geestesiekte meebring, kan jou eie welsyn benadeel. Dit is dus noodsaaklik dat jy aandag skenk aan jou fisiese, emosionele en geestelike behoeftes. Die Johnson-gesin is Getuies van Jehovah. Gail meen dat haar geloof haar grootliks gehelp het om die gesinskrisis te verwerk. “Christelike vergaderinge het gehelp om die stres teë te werk”, sê sy, “want dit is ’n tyd om ons onmiddellike probleme te vergeet en ons aandag op belangriker kwessies en ons toekomshoop te vestig. Ek het tallose kere dringend om verligting gebid, en elke keer het iets verander, wat dan verligting van die pyn meegebring het. Met Jehovah God se hulp het ek gemoedsrus ervaar, iets wat in ons situasie onwaarskynlik gelyk het.”

Matt is nou ’n jong volwassene en het ’n nuwe uitkyk op die lewe. “Ek voel dat ek ’n beter mens is ná wat ek deurgemaak het”, sê hy. Matt se suster, Amy, meen dat sy ook by die ondervinding baat gevind het. “Ek is nie so krities teenoor ander nie”, sê sy. “’n Mens weet nooit watter onderliggende omstandighede iemand dalk teister nie. Net Jehovah God weet.”

As ’n geliefde ’n geestesiekte het, moet jy altyd onthou dat ’n horende oor, ’n helpende hand en ’n oop gemoed daardie persoon kan help om staande te bly—en selfs te floreer.

[Voetnote]

a Name is verander.

b Party gebruik die term “breinversteuring” omdat daar nie so ’n stigma aan kleef nie en dit ’n neurobiologiese oorsaak impliseer.

c Potensiële voordele sowel as moontlike newe-effekte moet oorweeg word. Ontwaak! staan nie enige spesifieke mediese behandeling voor nie. Christene moet seker wees dat enige behandeling wat hulle kry, nie met Bybelbeginsels bots nie.

[Venster op bladsy 21]

’n Paar waarskuwingstekens van geestesiektes

As ’n geliefde enige van die volgende simptome het, moet hy of sy moontlik ’n mediese of ’n geestesgesondheidsdeskundige raadpleeg:

• Langdurige droefheid of prikkelbaarheid

• Sosiale onttrekking

• Hewige gemoedswisselinge

• Buitensporige woede

• Gewelddadige gedrag

• Dwelm- en alkoholmisbruik

• Oordrewe vrese, bekommernisse en angstigheid

• Abnormale vrees om gewig aan te sit

• Opvallende veranderinge in eet- en slaapgewoontes

• Aanhoudende nagmerries

• Verwarde denke

• Delusies of hallusinasies

• Gedagtes oor die dood of selfmoord

• Onvermoë om probleme en daaglikse bedrywighede te hanteer

• Ontkenning van voor die hand liggende probleme

• Talle onverklaarde fisiese kwale

[Prent op bladsy 22]

Wanneer dit lyk of woorde nie help nie, moet jy net na die lyer sit en luister