Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewendige juwele van die insekwêreld

Lewendige juwele van die insekwêreld

Lewendige juwele van die insekwêreld

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

DIE hoë blaredak van die tropiese reënwoud verberg duisende lewendige juwele. Party glinster soos goud en silwer; ander blink soos smaragde, robyne en saffiere. Hierdie juwele van die woud, wat nie dikwels deur mense gesien word nie, is kewers.

Wat stel jy jou voor wanneer jy aan kewers dink? Donkerkleurige, lelike goggas wat onder jou voete rondskarrel? In werklikheid is kewers van die kleurvolste diertjies op aarde, asook van die talrykste. Volgens The Guinness Book of Animal Records maak die byna 400 000 geïdentifiseerde soorte Coleoptera—die wetenskaplike orde wat kewers insluit—byna ’n derde van die planeet se bekende diersoorte uit. En as jy ooit self ’n nuwe spesie wil ontdek, sal jy dalk tussen die kewers wil soek. Die insektekundige dr. Terry Erwin meen dat daar moontlik nog miljoene soorte kewers is waarvan die wetenskap nie weet nie. Verbasend genoeg, Erwin het sowat 1 200 soorte kewers in net 19 groot tropiese bome gevind.

Verstommende verskeidenheid

Wanneer ’n mens in ag neem hoeveel soorte kewers daar is, is dit nie verbasend dat kewers in ’n verskeidenheid vorme en groottes voorkom nie. Sommige is “so groot dat vroeë versamelaars hulle uit die lug geskiet het met haelgewere wat met sand gelaai is”, sê die tydskrif National Geographic. Ander is “so klein dat hulle op die monddele van bye reis. Daar is selfs kewers wat in museums inkom en kewerversamelings verorber”, sê die tydskrif.

Kewerversamelings kan eintlik heelwat werd wees. Die waarde daarvan word beïnvloed deur die kleur sowel as die seldsaamheid van die kewers. Miskewers, oftewel miskruiers, kom in elke denkbare skakering van groen en rooi, sowel as silwer en goud voor. ’n Helderrooi miskruier kan byvoorbeeld R1 300 kos, terwyl ’n miskruier met ’n pragtige goue glans meer as twee keer soveel kan kos.

Party langhoringkewers, wat so genoem word weens hulle buitengewone groot voelers, het indrukwekkende en kleurvolle patrone. Nog ander kewers blink soos klein, reënboogkleurige mosaïeke. Hulle glinsterende groen en blou skakerings is net so mooi soos die kleure van kolibries. Maar dit is nie net hulle kleure wat kewers waardevol maak nie. Omdat hulle plantmateriaal en mis herbenut, speel hulle ook ’n baie belangrike rol daarin om ekosisteme gesond te hou.

Insekjuweliersware

Kewerversamelaars is nie die enigstes wat hierdie insekjuwele op prys stel nie. In die Amerikas maak sommige vroue halssnoere deur kleurvolle kewerdekvlerke saam te ryg. In dele van Mexiko word pragkewers—’n gepaste naam—uitgerus met aangeplakte stukkies gekleurde glas en krale en in lewendige borsspelde omskep wat met ’n kort kettinkie aan hulle eienaars se klere vas is.

Hetsy jy verkies om kewers op ’n afstand te bewonder of hulle van naderby te ondersoek, hierdie lewendige juwele is ’n aanskoulike voorbeeld van die fassinerende prag en kompleksiteit van die skeppingswerke op aarde.

[Venster/Prent op bladsy 16]

Blaarvreetkewers

Hoewel party kewers pragtig is, kan hulle ’n plaag wees. Byvoorbeeld, blaarvreetkewers verorber die blare, stingels en wortels van ’n groot verskeidenheid plante en gewasse.

Hoewel daar ongeveer 25 000 soorte blaarvreetkewers is, laat hierdie naam baie boere net aan een kewer dink—die aartappelkewer. Nedersetters in Noord-Amerika het in 1859 vir die eerste keer besef dat hierdie kewer ’n bedreiging is vir hulle aartappelplante. Teen die vroeë 20ste eeu het dié kewer na Europa versprei, en nou kom dit oor die hele vasteland en selfs in Asië voor.

Omdat die aartappelkewer die vermoë het om weerstand teen plaagdoders op te bou, is dit baie moeilik om hulle te bestry. Vandag word ’n kombinasie van landboukundige, biologiese en chemiese metodes gebruik om hierdie gulsige blaarvreters onder beheer te hou.

[Prent]

Aartappelkewer, VSA

[Erkenning]

Scott Bauer/Agricultural Research Service, USDA

[Venster/Prente op bladsy 17]

Kewerkampioene

◼ Kewers hou die rekord vir langlewendheid onder insekte. Hoewel die meeste insekte minder as ’n jaar lewe, lewe sommige pragkewers langer as 30 jaar, en daar is een opgetekende geval van ’n pragkewer wat 47 jaar oud geword het. Pragkewers “lê hulle eiers onder die bas van ’n lewendige boom”, verduidelik The Guinness Book of Animal Records. “As die boom afgekap word, is dit nie ongewoon dat party van die larwes dit oorleef en dan in die timmerhout om die wêreld geneem word nie; aangesien sommige soorte eers jare later volwassenheid bereik, kan volgroeide kewers uit meubels te voorskyn kom.”

◼ Goliatkewers van tropiese Afrika is die swaargewigkampioene van die insekwêreld. Sommige mannetjies kan tot 100 gram weeg, drie keer swaarder as ’n huismuis.

◼ Die prys vir die sterkste gewigopteller in die dierewêreld (in verhouding tot grootte) behoort aan die renosterkewer van die subfamilie Dynastinae. Hierdie sterk kewer kan ’n voorwerp dra wat 850 keer sy eie gewig is.

[Prent]

Goliatkewer, Demokratiese Republiek van die Kongo

[Erkenning]

Faunia, Madrid

[Prent]

Renosterkewer, Ekwatoriaal-Guinee

[Prent op bladsy 16]

Miskruier, Mexiko

[Prent op bladsy 16]

Miskruier, Honduras

[Prent op bladsy 16]

Miskruier, Costa Rica

[Prent op bladsy 17]

Langhoringkewer, Indonesië

[Prent op bladsy 17]

Miskruier, Thailand

[Prent op bladsy 17]

Metaalkleurige houtboorder, Thailand

[Prent op bladsy 17]

Metaalkleurige houtboorder, Hongarye

[Prent op bladsy 17]

Miskruier, Honduras

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Links bo en middel: © David Hawks; regs: © Barbara Strnadova/Photo Researchers, Inc.

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Links bo na regs: Eerste drie: Faunia, Madrid; vierde: Gyorgy Csoka, Hungary Forest Research Institute, www.insectimages.org; vyfde: © Barbara Strnadova/Photo Researchers, Inc.