Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

My lewe in die sirkus

My lewe in die sirkus

My lewe in die sirkus

SOOS VERTEL DEUR JOHN SMALLEY

“Dames en here, kinders van alle ouderdomme, welkom by die beste vertoning op aarde!” Vir die meeste mense beteken hierdie woorde van die sirkusaanbieder dat ’n opwindende vertoning met diere, hansworse en akrobate gaan volg. Maar vir ons gesin was dit die begin van nog ’n werksessie in die sirkus van die Ringling-broers en Barnum en Bailey begin het.

EK IS in 1951 gebore. ’n Mens kan maar sê dat ek gebore is met “saagsels in my skoene”, ’n verwysing na die saagsels wat op die grond onder die groot sirkustente gestrooi word. Vandat ek en my broer kon loop, het ons aan een of ander faset van die sirkuslewe deelgeneem.

My ouers, Harry en Beatriz, het by die Clyde Beatty-sirkus aangesluit voordat ek gebore is. My ma was ’n sangeres en het Spaanse liedjies gesing, geklee in Mexikaanse volksdrag. My pa het tydens die Eerste Wêreldoorlog as musikant saam met die orkesleier en komponis, John Philip Sousa, gespeel. In die 1950’s is my pa as tubaspeler aangestel in die beroemde orkes van die Ringling-broers, moontlik weens sy verbintenis met Sousa.

Mettertyd het ons in verskeie sirkusse gewerk en uiteindelik by die sirkus van Al G. Kelly en die Miller-broers aangesluit, wat ook baie beroemd geword het in die Verenigde State. Hierdie vertoning het drie groot tente gehad. Een het leeus, tiers, olifante, hiënas en ander eksotiese diere gehad.

Ons het die tweede tent die byvertoning genoem. Dit het gewoonlik ’n swaardslukker ingesluit, asook die sogenaamde halfman-halfvrou, dwergies, ’n reus en ander mense met ongewone fisiese eienskappe. Dit was vir ons as kinders ’n leersame ondervinding om saam met mense te woon wat anders as ons was. Party het lelike opmerkings teenoor hulle gemaak, maar vir ons was hulle familie. Ons het die grootste deel van die jaar saam met hulle gewerk, geëet en gewoon.

Die derde tent was die hooftent, wat drie kryte gehad het waar vertonings gelyktydig plaasgevind het. Normaalweg het die gevaarlikste of fassinerendste vertonings in die middelste kryt plaasgevind.

’n Dag in die sirkus

Ek en my broer is van jongs af as akrobate opgelei. Ons het ook in die Wilde Weste-vertoning as jong Indianeseuns opgetree. ’n Indiaanse gesin wat aan die Choctaw-stam behoort het en deel van die vertoning was, het ons geleer om Indiaanse danse uit te voer.

Ons dag het gewoonlik soggens om sesuur begin. Dan het ons begin voorberei om na die volgende dorp te trek. Almal het gehelp om die sirkus af te breek, te vervoer en weer op te rig. Buiten dat my pa ’n musikant was, het hy byvoorbeeld ook ’n groot vragmotor bestuur wat sewe olifante vervoer het. Soms het ek en my ma en my broer saam met my pa in sy vragmotor gery.

Gewoonlik het ons elke dag na ’n nuwe plek gereis en twee vertonings per dag gehad. Die uitsondering was Sondag, wanneer ons net ’n middagvertoning gehad het en dan saans saam as gesinne kon rus. My pa het Sondae altyd iets spesiaals saam met die gesin gedoen, hetsy ons in die dorp ’n melkskommel gaan drink het of die aand na ’n inryteater toe is.

Dit was harde werk om alles opgerig te kry. Selfs die olifante het gehelp. Hoe? Hulle is ingespan om die lang pale vir die drie tente op te trek. Een punt van die paal is in ’n tentring gesteek en dan het ’n olifant die ander punt getrek totdat die paal regop gestaan het. Wanneer al die pale regop was en die elektriese kragopwekkers wat vir die ligte krag voorsien het, gereed was, het ons ons vir die middagvertoning gereedgemaak.

Ek leer nuwe toertjies

Tussen die middag- en aandvertonings het die talle sirkuskinders geleer om salto’s uit te voer, op ’n styfgespande koord te loop, te jongleer (juggle) en met ’n sweefstok te swaai. Diegene wat ons opgelei het, was al jare lank in die sirkus en het gewoonlik van gesinne gekom wat geslagte lank in die sirkusbedryf was. Ek onthou die Italiaanse akrobaat wat my geleer het om die eerste keer ’n salto uit te voer. Ek het begin toe ek omtrent vier jaar oud was. Eers het hy ’n veiligheidsgordel aan my vasgemaak; toe het hy net sy hande gebruik om my te ondersteun terwyl hy langs my gehardloop het. Uiteindelik het hy sy hande weggeneem, en ek het dit op my eie gedoen.

Die enigste ongeluk wat ek gehad het, was tydens die groot parade om die hippodroom van die hooftent. Ek en my broer moes agter ’n hanswors met twee ape en voor ’n trop olifante loop. Terwyl ek geloop en my arms geswaai het, moes ek seker een van die ape skrikgemaak het, wat toe my hand gegryp en my baie seer gebyt het. Gelukkig het dit nie ontsteek geraak nie, maar ek het nog ’n effense litteken op my linkerhand—’n herinnering om altyd versigtig te wees wanneer ’n mens met wilde diere werk, al lyk hulle hoe oulik en mak.

Ek het waardevolle lesse geleer

Die lewe in die sirkus het nie met ons gesinslewe ingemeng nie. My ouers het altyd die tyd geneem om ons goeie beginsels en sedes te leer. Ek kan nog onthou hoe my pa my op sy knie laat sit het en my die raad gegee het om nie bevooroordeeld te wees teen mense van ’n ander ras of agtergrond nie. Dit was ’n waardevolle les, want ek het nie net saam met mense gelewe wat fisies anders was nie, maar ook saam met mense van verskillende nasionaliteite.

My ma het ook ’n goeie invloed op ons gehad. Partykeer was die hooftent propvol; ander kere was daar min mense. My ma het altyd vir ons gesê: “Julle tree op vir die mense se waardering (terwyl sy handegeklap het), nie vir hulle geld nie. Of daar nou honderde teenwoordig is of net ’n paar, doen altyd julle bes.” Hierdie gedagte het my altyd bygebly. Dit was haar manier om te sê dat ons ’n persoonlike belangstelling moes hê in diegene wat gekom het, ongeag hoeveel teenwoordig was.

Benewens ons optredes moes ek en my broer ná die vertonings help skoonmaak en rommel in die hooftent optel. Dit was vir ons goeie opleiding.

Van April tot September het die sirkus rondgetoer, en dus kon ons nie soos ander kinders skoolgaan nie. Ons het die winter by die hoofkwartier in Hugo, Oklahoma, deurgebring. Gedurende hierdie tyd het ons ongeveer vyf maande lank skoolgegaan. Ander sirkusse het ook die winter in Hugo deurgebring, en gevolglik was daar baie kinders wat in dieselfde omstandighede as ons was. Die dorp se skoolstelsel het voorsiening gemaak vir ons spesiale situasie deur hulle rooster aan te pas.

Die dag wat ons lewe verander het

Op 16 September 1960 het my pa ongeveer vyfuur die oggend opgestaan en ons begin regkry om te vertrek. My ma het dié oggend besluit dat ons die gewone vervoer sou gebruik wat deur die sirkus voorsien is, in plaas daarvan om saam met my pa in die olifantvragmotor te ry.

Toe ons by die sirkusterrein aankom, het ek en my broer ons nuwe omgewing begin verken. Ons het iemand toe hoor skreeu: “Daar was ’n ernstige ongeluk. Smalley en die sirkusaanbieder is dood.” My eerste reaksie was natuurlik: ‘Dit kan nie waar wees nie. Daar moet ’n fout wees.’ Later het ek besef dat my ma reeds na die ongelukstoneel gegaan het. My pa het naby Placerville, Kalifornië, teen ’n bergpas afgery toe die remme blykbaar onklaar geraak het. Die gewig van die olifante het vermoedelik die sleepwa laat knipmes. Die vragmotor se groot brandstoftenk is saamgepers en dit het toe ontplof, en my pa en die sirkusaanbieder, wat saam met hom gery het, is op slag dood. Ek het daardie dag heeltemal verslae gevoel. Ek was baie na aan my pa. Ons was ware vriende.

Nadat ons my pa in sy tuisdorp Rich Hill, Missouri, begrawe het, het ons teruggegaan na ons winterhoofkwartier in Hugo, Oklahoma, terwyl die sirkus verder getoer en die seisoen voltooi het. Intussen het ek en my broer skoolgegaan. Dit was ’n nuwe ondervinding. Ons het nogtans gretig op die volgende seisoen gewag sodat ons weer saam met die Kelly Miller-sirkus kon toer. Maar daar was ’n interessante verwikkeling in ons lewe.

Ons leer van die Bybel

Eendag toe ek ná skool by die huis kom, het my ma my aan ’n dame voorgestel wat die Bybel met ons kom studeer het. Haar naam was Jimmie Brown, en sy was een van Jehovah se Getuies. Ek het glad nie daarin belanggestel om die Bybel te studeer nie. Ek wou graag na die sirkus toe terugkeer, want dit was jare lank my doelwit en droom om as ’n sweefstokarties opgelei te word. Ek en my broer het selfs ’n tydelike sweefstok tussen twee bome opgerig sodat ons kon oefen. Ons het egter almal die Bybel begin studeer en vergaderinge saam met ’n afgesonderde groepie van slegs agt Getuies in Hugo begin bywoon. Mettertyd het my ma besluit om uit die sirkuslewe te tree en haar Bybelstudie voort te sit. Ek het in trane haar besluit aanvaar. Dit was veral moeilik wanneer lede van ons sirkusfamilie by ons kom kuier het en gewonder het waarom ons nie by hulle aansluit nie.

Ek het nie ’n lewe buite die sirkus geken nie. Op een stadium het ek gevoel asof ons ons rug draai op my pa se nagedagtenis. Maar ironies genoeg was sy dood ook die rede waarom ek die Bybel gestudeer het, aangesien die opstandingshoop vir my een van die grootste beweegredes was. Hierdie hoop is nog baie sterk. Ek wil een van die eerstes wees wat my pa terugverwelkom wanneer hy die beloofde aardse Paradys binnegaan.—Openbaring 20:12-14.

’n Getuie-egpaar, die Reeders, het ons gehelp om te sien dat daar ’n groot familie in Jehovah se organisasie is. En hoe waar was dit tog! Die klein groepie van Jehovah se Getuies het ’n gemeente geword, met verskeie gesinne wat saam aanbid. Ek moet ook Robert en Carol Engelhardt noem, ’n paartjie wat my as hulle geestelike seun aangeneem het. Gedurende my tienerjare het hulle my liefdevolle maar ferm raad en leiding gegee.

Sulke liefde van ryp Christene het ’n groot leemte in ons lewe gevul. En op verskillende maniere was dit altyd die geval deur my hele lewe as ’n Christen. Oor die jare heen het ek in Oklahoma en Texas gewoon, en in elke gemeente het ek liefdevolle Christenbroers en -susters ontmoet. Party van die ouer broers het vaderlike raad en aanmoediging gegee. Ja, hulle het my geestelike vaders geword.

Weer op reis

Net ’n paar jaar gelede is my ma oorlede. Sy het tot haar dood toe ’n ywerige Bybelstudent en ’n getroue Christen gebly. Ek weet dat sy verheug sal wees wanneer God sy getroues uit die graf terugbring. Terwyl ek op daardie dag wag, put ek vertroosting uit die feit dat Jehovah se organisasie my op soveel verskillende maniere van ’n gesin voorsien het.

Ek het besonder geseënd gevoel toe ek my vrou, Edna, onder God se volk gevind het. Nadat ons getroud is, het ons ons sake so gereël dat ons voltyds aan die Bybelonderrigtingswerk kon deelneem. Om ons te onderhou, het ek as ’n leerlingverslaggewer by ’n televisiestasie gewerk. Ek het glad nie ondervinding of opleiding op hierdie gebied gehad nie; tog het die opleiding wat ek as ’n Bybelonderrigter in die gemeente van Jehovah se Getuies gekry het, my vir die pos gekwalifiseer. Later het ek die nuusredakteur by ’n radiostasie geword. Maar my doel was nooit om vernaamheid in die media te verkry nie. Ek en Edna het ons eerder beskikbaar gestel om as onderrigters van Bybelwaarhede te dien waar daar ook al hulp nodig was.

In 1987 is ek genooi om as ’n kringopsiener te dien en gemeentes van Jehovah se Getuies te besoek. As ’n vrywillige reisende ouer man besoek ek elke week ’n ander gemeente en voorsien ek my geestelike broers en susters van aanmoediging en opleiding in ons Bybelonderrigtingswerk. Geestelik gesproke is my familie nou selfs groter. Al het ek en my vrou nooit kinders gehad nie, het ons talle geestelike seuns en dogters in Jehovah se organisasie.

In sekere sin is dit ironies dat ek ná soveel jare nog steeds van dorp tot dorp reis. Eers saam met die sirkus en nou as kringopsiener! Ek wonder by tye of ek sukses op die sweefstok sou kon behaal het. Sou ek die droom van my kinderjare, om die driedubbele salto te bemeester, verwesenlik het? Hierdie gedagtes vervaag egter vinnig wanneer ek oor God se belofte van ’n aardse paradys dink.—Openbaring 21:4.

Ja, ek is met “saagsels in my skoene” gebore. Maar ek word herinner aan wat die Bybel sê: “Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!” (Romeine 10:15). Die voorreg om mense te help om God te leer ken, is groter as enigiets wat ek as sirkuskunstenaar kon bereik het. Jehovah se seën het my lewe verryk!

[Prente op bladsy 19]

Sommige van ons “familie” in die sirkus, en my pa met sy tuba

[Prent op bladsy 21]

Vandag, saam met my vrou Edna