Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Origami—Die kuns om papier te vou

Origami—Die kuns om papier te vou

Origami—Die kuns om papier te vou

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

STEL jou ’n enkele stuk papier voor wat in ’n pragtige, driedimensionele kraanvoël omskep word. Sy vlerke is trots uitgesprei, en uit die voël se grasieuse liggaam verrys ’n slanke nek waarop daar ’n elegante kop met ’n kenmerkende snawel pryk. Verbasend genoeg word hierdie kraanvoël gemaak deur ’n vierkantige stuk papier presies volgens 12 stappe te vou.

Die Japannese kunsvorm om ’n verbasende verskeidenheid vorme te maak deur ’n vel papier te vou, oop te maak en te buig, word origami genoem. Die woord self beteken “gevoude papier”. Hoewel die oorsprong daarvan nie duidelik is nie, kan origami in Japan tot antieke tye teruggevoer word toe amptelike dokumente kunstig gevou is. Origami het vermoedelik gedurende die Edo-tydperk (1603-1867) ontwikkel as ’n vorm van ontspanning wat enigiemand kon geniet. Dit was toe dat nuwe voutegnieke ontwikkel is. Ouers het hierdie kunsvorm aan hulle kinders en kleinkinders geleer, en so is dit van een geslag na die volgende oorgedra. Baie Japannese het aangename herinneringe uit hulle kinderdae van hoe hulle met verwondering toegekyk het terwyl hulle moeder met bedrewe hande ’n stuk papier gevou het om vir hulle pragtige voorwerpe te maak.

Origami word in twee basiese groepe ingedeel, na gelang van die vorms wat gemaak word. Die een word tradisionele origami genoem en behels die maak van papierkraanvoëls, -paddas, -bote, -ballonne, -insekte en -plante. Die ander een word skeppende origami genoem en breek weg van die tradisionele tegnieke wat al eeue lank gebruik word. Groot dinosourusse, kunstige insekte en ander ingewikkelde ontwerpe word volgens hierdie origami-styl gemaak.

In hedendaagse tye het ’n aantal professionele velde, soos die argitektuur, die beginsels van origami toegepas in die ontwerp van ’n wye verskeidenheid gebruiksartikels. Origami word ook deur gesondheidspraktisyns gebruik as ’n doeltreffende rehabilitasie-oefening vir bejaardes en gestremdes.

Maak jou eie origami

Hoe kan jy origami maak? Tradisionele origami is nie moeilik nie. Dit verg geen spesiale gereedskap of opleiding nie—net noukeurigheid en jou waarnemingsvermoë. Jy het natuurlik geskikte papier nodig en jy moet weet hoe om dit te vou. Enigiemand wat die papier geduldig en versigtig vou, kan dit in ’n mooi vorm omskep.

Jy kan enige papier gebruik wat byderhand is—koerantpapier, advertensieblaadjies of versierde geskenkpapier. Jy kan besluit oor die grootte, gehalte en kleur van jou papier, afhangende van wat jy wil maak. Maar as jy regtig iets moois wil maak, moet jy die kleur van die papier versigtig kies. Dit is nie net hoe jy die papier vou nie, maar ook die soort papier wat jy gebruik, wat sal bepaal hoe mooi jou skepping gaan wees. Dit sal goed wees om papier te gebruik wat spesifiek vir origami bedoel is. Jy kan selfs wasji, Japannese handgemaakte papier, gebruik. a

Vir die meeste vorms is dit noodsaaklik dat die papier presies vierkantig is. Jy kan kyk of die papier vierkantig is deur die teenoorgestelde hoeke opmekaar te sit en die papier in ’n driehoek te vou. As al die sye presies opmekaar lê, is die papier reg gesny.

Om ’n pragtige eindproduk te kry, moet jy die papier so vou dat die hoeke en sye presies opmekaar pas. Die voue moet ook skerp wees. Wanneer jy die papier in die helfte vou om ’n driehoek te kry, moet jy die twee teenoorgestelde hoeke stewig tussen jou duim en voorvinger vashou, seker maak dat hulle presies opmekaar is en dan die basis met jou ander hand vou. Wanneer jy die papier in die helfte vou om ’n reghoek te kry, moet jy seker maak dat albei die boonste hoeke presies opmekaar pas; hou dan die boonste sye stewig bymekaar terwyl jy die basis vou.

Met party origami-vorms moet die papier gevou en dan weer oopgemaak word, sodat daar ’n voulyn vir die volgende stap is. Soms word die papier gekrul, geplooi, opgerol, geknyp, ingedruk, oopgeblaas, omgekeer—alles om verskillende effekte te verkry.

Origami kan op enige plek, enige tyd geniet word. Nadat jy hierdie kuns bemeester het, is papier eintlik al wat jy nodig het. Deur bloot jou vingers te gebruik, kan jy ’n verskeidenheid tradisionele vorms maak en selfs jou eie skep. As jy origami van getekende sketse af wil leer, kan jy ’n mate van frustrasie verwag. Maar as jy iemand ontmoet wat origami ken, kan jy gerus van die geleentheid gebruik maak om hierdie papiervoukuns te bemeester.

[Voetnoot]

a Sien die artikel Wasji—Japan se antieke handgemaakte papier”, in die Ontwaak! van 8 Januarie 1992.