Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Speelgoedvrye kleuterskool

Speelgoedvrye kleuterskool

Speelgoedvrye kleuterskool

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

Een oggend toe die kinders die kleuterskool binnegaan, was daar in al die kamers niks behalwe die meubels nie. Hulle het tevergeefs na poppe, speletjies of opgestopte speelgoeddiertjies gesoek. Daar was ook nie boeke of boublokke nie. Selfs die papier en skêre was weg. Al die speelgoed is weggeneem en sou eers oor drie maande teruggebring word. Wat het gebeur?

Hierdie kleuterskool is een van ’n toenemende aantal in Oostenryk, Duitsland en Switserland wat deelneem aan ’n buitengewone, nuwe projek wat Speelgoedvrye Kleuterskool genoem word. Dit klink dalk vreemd, maar die doel van hierdie projek, wat sterk aanbeveel word deur gesondheidsdeskundiges van die Europese Unie, is om verslawing te voorkom. In onlangse jare het navorsers begin besef dat mense minder vatbaar vir enige soort verslawing is as hulle op ’n vroeë ouderdom sosiale vaardighede aanleer. Volgens ’n koerant sluit dit “kommunikasievaardighede” in asook “die vermoë om maklik maats te maak, konfliksituasies die hoof te bied, verantwoordelikheid vir ’n mens se dade te aanvaar, doelwitte vir jouself te stel, probleme raak te sien, hulp te soek en ’n oplossing te vind”. Voorstanders van hierdie program sê dat hierdie vaardighede so vroeg moontlik aangeleer moet word en dat speelgoedvrye tydperke vir dié doel geskik is omdat dit skeppingsvermoë en selfvertroue bevorder.

Die drie maande lange afwesigheid van speelgoed is deeglik beplan en met die ouers en kinders bespreek. Aan die begin weet party kinders nie wat om sonder speelgoed te doen nie. “Daar is kleuterskole waar kinders die eerste vier weke woes te kere gaan” en die beplanners met hulle hande in die hare sit, sê die berig. Maar kinders leer om hulle aan te pas en om skeppend te wees. Aangesien hulle nie speelgoed het om mee te speel nie, gesels, beplan en speel hulle meer saam en verbeter hulle sodoende hulle sosiale en taalvaardighede. Party wat gewoonlik agter hulle speelgoed “weggekruip” het, maak nou vriende. Ouers het ook positiewe veranderinge opgemerk. Die kinders het hulle beter gedra wanneer hulle speel en was meer skeppend as vroeër, het hulle gesê.