Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Belasting Ek het die afgelope paar weke navorsing oor belasting gedoen. Dit het vrae laat ontstaan soos: Wanneer is belasting vir die eerste keer gehef? Terwyl ek met hierdie navorsing besig was, het my vrou ’n eksemplaar van die Ontwaak! van 8 Desember 2003 ontvang met die reeks “Betaal jy te veel belasting?” Tot my verbasing het dit van die vrae bespreek waaroor ek besig was om navorsing te doen.

S. Y., Tadjikistan

Bloedoortappings Ek is ’n geneesheer en voltydse evangeliedienaar. Ek is baie dankbaar dat julle die verhaal gepubliseer het van Jasoesji Aizawa, “Ek het God se beskouing van bloed aanvaar” (8 Desember 2003). Sy ondervinding was baie soortgelyk aan myne omdat ek ook moes leer om die geneeskunde die tweede plek in my lewe te gee. Miskien sal ek broer Aizawa in God se nuwe wêreld ontmoet, waar ons as dokters albei sonder werk sal wees. Dan sal geen dokters meer nodig wees nie!

A. S., Ecuador

Ons jongste dogter is in Oktober 2002 met kanker gediagnoseer. Die behandeling was ingewikkeld en het twee operasies, chemoterapie en bestraling behels. Gedurende daardie tyd het ons alles in ons vermoë gedoen om gehoorsaam te wees aan die Bybel se opdrag om ons van bloed te onthou. Dit was nie maklik nie, aangesien bloed in Litaue toegedien word aan omtrent alle kinders wat chemoterapie ontvang. Die artikel “Ek het God se beskouing van bloed aanvaar” het ons versterk om Jehovah se beskouing te handhaaf. En ons dogter se kanker is nou in remissie.

M. en S. D., Litaue

Wedywering tussen broers en susters Ek wil opreg dankie sê vir die artikel “Jongmense vra . . . Wat kan ek doen om nie meer in my broer of suster se skaduwee te lewe nie?” (22 November 2003). Ek is 16 jaar oud, en dit lyk vir my of my ouer suster altyd al die aandag kry. Natuurlik weet ek dat Jehovah my raaksien, maar tog voel ek eensaam. Hierdie artikel het aandag gegee aan die gevoelens waarmee ek sukkel. En omdat dit so mooi bewoord is, het ek trane in my oë gekry terwyl ek dit gelees het. Dankie vir die praktiese raad. Dit het my hart versag.

M. O., Japan

Ek het al soos elkeen van die jongmense gevoel wat in die artikel aangehaal is. So lank as wat ek kan onthou, is my ouer suster nog altyd as ’n goeie voorbeeld beskou. Daarom weet ek hoe dit voel om altyd met ’n ander familielid vergelyk te word. Die gedagte in die artikel dat ’n mens iets moet vind wat jy goed kan doen, was soos “goue appels in silwersnywerk”—woorde op die regte tyd.—Spreuke 25:11.

S. T., Verenigde State

Ek het ’n ouer suster en ’n jonger broer. Hulle is al twee beter as ek in die meeste dinge. Ek het julle raad dus ter harte geneem. Ek leer nou Spaans en gaan meer gereeld in die bediening uit. Dit is lekker om te leer—en mense sien my ook nou raak.

H. B., Verenigde State

Lot van die heelal? In die artikel “Wetenskap was my godsdiens” (22 September 2003) lyk dit of Kenneth Tanaka onbewus is van die opvatting onder wetenskaplikes dat die heelal vir ewig sal aanhou om uit te dy.

R. G., Verenigde State

“Ontwaak!” antwoord: Kosmoloë is nie eenstemmig hieroor nie. Party hou byvoorbeeld vol dat die proses van uitdying uiteindelik sal afneem, ophou en omkeer totdat die heelal op sy middelpunt inmekaarstort. Kenneth Tanaka se stelling het die aandag op albei hipoteses gevestig sonder om enigeen van die twee te ondersteun. Die doel van sy stelling was om sy soeke na betekenis te beklemtoon in die lig van die wetenskap se onvermoë om al die antwoorde te voorsien.