Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is so verkeerd met fuifdrinkery?

Wat is so verkeerd met fuifdrinkery?

Jongmense vra . . .

Wat is so verkeerd met fuifdrinkery?

“Hoewel ons al ure lank gedrink het, is ek en my vriend eenuur die oggend by die partytjie weg met ons eie bottel whiskey. Ons het huis toe begin loop—en al die pad gedrink. Die volgende wat ek onthou, is dat die son opgekom het, en ek het besef dat ons in die verkeerde rigting geloop het. Trouens, ons het langs ’n groot hoofweg geloop. Dit is ’n wonderwerk dat ons nie raakgery is nie.”—Clay. a

FUIFDRINKERY. Vir party is dit bloot wanneer jy drink om dronk te word. ’n Verslag deur die Amerikaanse Nasionale Instituut van Alkoholmisbruik en Alkoholisme het meer spesifiek probeer wees. Volgens hulle word fuifdrinkery (binge drinking) “gewoonlik gedefinieer as die inneem van vyf of meer drankies ná mekaar in die geval van mans en vier of meer drankies ná mekaar in die geval van vroue”.

Gesondheidsbeamptes in die Verenigde State noem fuifdrinkery “’n groot openbare gesondheidsgevaar”. Volgens ’n studie onder hoërskoolkinders in Engeland, Skotland en Wallis “het tot ’n kwart van 13- en 14-jariges gesê dat hulle al ten minste vyf drankies op een slag weggeslaan het”. Ongeveer die helfte van al die 15- en 16-jariges wat ondervra is, het gesê dat hulle dit ook al gedoen het.

In ’n Amerikaanse studie het 2 uit 5 universiteitstudente ten minste een keer gedurende die twee weke voor die opname aan fuifdrinkery deelgeneem. Volgens die Amerikaanse Gesondheidsdepartement “het ongeveer 10,4 miljoen adolessente tussen die ouderdomme van 12 en 20 gesê dat hulle drink. Van hulle was 5,1 miljoen fuifdrinkers, waaronder 2,3 miljoen strawwe drinkers was wat ten minste vyf keer per maand aan fuifdrinkery deelgeneem het.” ’n Studie in Australië het getoon dat meer meisies as seuns in hierdie land fuifdrinkers is—hulle drink tussen 13 en 30 drankies op ’n keer!

Baie van hierdie jongmense drink omdat hulle deur ander jongmense aangepor word. Die navorser Carol Falkowski sê: “Nuwe en waaghalsige drinkspeletjies floreer: met ander woorde groepbedrywighede met die doel om te drink totdat jy dronk is. Party vereis byvoorbeeld dat alle spelers ’n sopie gedistilleerde spiritus op ’n spesifieke oomblik in ’n TV-program of groepgesprek drink.”

Fuifdrinkery—die gevare

Hoewel strawwe drinkery vir sommige ’n speletjie is, is dit ’n baie gevaarlike speletjie! Oormatige hoeveelhede alkohol ontneem die brein van suurstof, en lewensbelangrike liggaamsfunksies kan begin ingee. Simptome kan insluit dat jy naar word, bewusteloos raak en stadig of onreëlmatig asemhaal. In sommige gevalle kan dit die dood tot gevolg hê. Ongeveer ’n maand nadat die 17-jarige Kim met skool klaargemaak het, het sy na ’n “drink soveel as wat jy kan”-partytjie toe gegaan. Kim het 17 drankies gedrink voordat sy bewusteloos geraak het. Haar ouer suster het haar toe kom haal en huis toe geneem. Die volgende oggend het Kim se ma haar dood aangetref.

Oormatige drinkery is dalk selde ’n direkte doodsoorsaak, maar dit hou nogtans ’n gesondheidsgevaar in. “Alkohol kan enige orgaan in jou liggaam ernstig beskadig”, sê die geestesgesondheidsdeskundige Jerome Levin. “Die senuweestelsel, die lewer en die hart word gewoonlik die ergste deur alkohol aangetas.” ’n Artikel in die tydskrif Discover sê: “Nuwe navorsing sê dat jong drinkers met vuur speel. Omdat die brein tot laat in die twintigerjare nog ontwikkel, kan tieners wat te veel drink, aansienlik baie van hulle verstandelike vermoë vernietig.” Daar is ook ’n verband tussen langdurige alkoholinname en verergerende aknee, plooie op ’n vroeë ouderdom, gewigstoename, skade aan inwendige organe, asook alkohol- en dwelmverslawing.

Daar is ander gevare wat met oormatige drinkery verband hou. As jy dronk word, kan jy maklik mishandel word. Jy kan die slagoffer word van aanranding of selfs verkragting. Terselfdertyd kan jy heel moontlik ’n gevaar vir ander inhou deur roekelose dinge te doen wat jy nie eens sou oorweeg het as jy nugter was nie. Daarom waarsku die Bybel dat te veel drank ‘jou oë vreemde dinge sal laat sien, en jou hart verdorwe dinge sal laat spreek’ (Spreuke 23:33). Verbroke vriendskappe, swak prestasie op skool en by die werk, ’n kriminele rekord asook armoede kan van die pynlike gevolge wees. bSpreuke 23:21.

Die druk om te drink

Ondanks hierdie gevare word alkoholgebruik ywerig bevorder en is drank in baie lande maklik verkrygbaar. Trouens, om alkohol te drink word in TV- en tydskrifadvertensies as gesofistikeerd uitgebeeld. Maar baie keer swig jongmense voor fuifdrinkery as gevolg van portuurdruk.

In ’n alkoholbewustheidsopname wat in Australië gedoen is, het 36 persent van die jongmense wat ondervra is, gesê dat hulle hoofsaaklik drink “om tydens sosiale bedrywighede in te pas”. In die chaotiese atmosfeer van ’n “bierpartytjie” kan iemand wat gewoonlik skaam is, die siel van die partytjie word wanneer sy portuurs hom aanpor om die een drankie ná die ander weg te slaan. Jong Katie is in ’n koma huis toe gebring nadat sy dit gedoen het. Haar “vriend” het vir haar alkohol gegee en gesê: “Kom nou, Katie, jy’s mos nie meer ’n kind nie. Jy moet leer om dit weg te slaan.”

Die begeerte om pret te hê en om by ander in te pas, is so kragtig dat fuifdrinkery steeds gewild is, ondanks oortuigende bewyse dat dit gevaarlik is.

Watter keuse gaan jy maak?

Die volgende vrae ontstaan: Watter keuses gaan jy maak wanneer dit by drinkery kom? Gaan jy eenvoudig jou portuurs volg? Onthou wat die Bybel in Romeine 6:16 sê: “Weet julle nie dat as julle aanhou om julleself as slawe vir iemand aan te bied om hom te gehoorsaam, julle slawe van hom is omdat julle hom gehoorsaam nie?” As jy toelaat dat jou portuurs beheer uitoefen oor alles wat jy doen, word jy niks minder as hulle slaaf nie. Die Bybel spoor jou aan om vir jouself te dink (Spreuke 1:4). Dit bevat raad wat jou kan help om nie ernstige foute te maak nie. Kyk wat dit oor alkohol sê.

In werklikheid sê die Bybel nie dat dit verkeerd is om alkohol te drink nie, en dit is ook nie daarteen gekant dat jongmense pret het nie. Maar dit waarsku wel teen oormatige drinkery. “Wyn is ’n spotter, sterk drank is luidrugtig, en elkeen wat daardeur afdwaal, is nie wys nie”, sê Spreuke 20:1. Ja, alkohol kan maak dat ’n mens jou verspot en luidrugtig gedra! Dit kan weliswaar tydelike genot verskaf, maar as jy te veel drink, “byt dit soos ’n slang” en sit jy later met tallose fisiese en emosionele wonde.—Spreuke 23:32.

Nog iets om in ag te neem, is dat ’n mens in baie lande oor ’n sekere ouderdom moet wees voordat jy alkohol mag drink. Christene gehoorsaam sulke wette (Titus 3:1). Dit is vir jou beskerming.

Die laaste, en belangrikste, punt wat jy moet oorweeg, is die geestelike skade wat oormatige drinkery tot gevolg kan hê. Jehovah God wil hê dat jy hom met “jou hele verstand” moet dien—nie ’n verstand wat onnodig beskadig is deur te veel alkohol nie! (Matteus 22:37). God se Woord veroordeel nie net “oordadighede met wyn” nie, maar ook “drinkpartye” (1 Petrus 4:3). Om aan fuifdrinkery deel te neem, is dus strydig met die wil van ons Skepper. Sulke oormatige drinkery kan keer dat ’n mens ’n intieme verhouding met God geniet.

Wat moet jy doen as fuifdrinkery jou in sy strik gevang het? Kry onmiddellik hulp deur met jou ouers of ’n ryp Christen te praat. c Wend jou in gebed tot Jehovah God en smeek hom om jou te help. Hy is immers “’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word” (Psalm 46:1). Aangesien fuifdrinkery en alkoholgebruik onder minderjariges dikwels die gevolg van portuurdruk is, sal jy dalk jou keuse van vriende en vermaak drasties moet verander. Dit sal nie maklik wees om sulke veranderinge aan te bring nie, maar met Jehovah se hulp kan jy sukses behaal.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Volgens een Amerikaanse studie “is die moontlikheid dat gereelde fuifdrinkers van klasse af sal wegbly, met hulle skoolwerk sal agterraak, beseer sal word en eiendom sal beskadig agt keer groter as in die geval van diegene wat nie aan fuifdrinkery deelneem nie”.

c In sommige gevalle sal die hulp van ’n opgeleide mediese deskundige dalk nodig wees.

[Venster/Prent op bladsy 15]

Fuifdrinkery—tragiese statistieke

Die volgende statistieke toon die hartseer gevolge van fuifdrinkery onder universiteitstudente in die Verenigde State:

Dood: Elke jaar sterf 1 400 universiteitstudente tussen die ouderdomme van 18 en 24 weens alkoholverwante ongelukke, waaronder motorongelukke

Besering: 500 000 studente tussen die ouderdomme van 18 en 24 word per ongeluk beseer terwyl hulle onder die invloed van alkohol is

Aanranding: Meer as 600 000 studente tussen die ouderdomme van 18 en 24 word aangerand deur ’n ander student wat gedrink het

Seksuele molestering: Meer as 70 000 studente tussen die ouderdomme van 18 en 24 is slagoffers van alkoholverwante seksuele molestering of afspraakverkragting

[Erkenning]

Bron: Die Amerikaanse Nasionale Instituut van Drankmisbruik en Alkoholisme

[Prent op bladsy 13]

Portuurs sal jou dalk aanpor om aan fuifdrinkery deel te neem