Wat is vitiligo?
Wat is vitiligo?
Deur Ontwaak-medewerker in Suid-Afrika
◼ Soms praat Sibongile skertsend van haar veltoestand. Sy sê met ’n glimlag: “Ek is swart gebore, het wit geword en nou is ek net deurmekaar.” Sy het vitiligo.
Vitiligo, wat ook leukodermie genoem word, word veroorsaak deur die verlies van selle in die vel wat pigment vervaardig. Dit lei tot die vorming van wit kolle en vlekke op die vel. By sommige pasiënte vorder die siekte nooit verder as een vlek nie. Maar by ander versprei dit vinnig oor die hele liggaam. Nog ander ly dalk aan ’n stadiger vorm van vitiligo wat oor ’n tydperk van baie jare aanhou versprei. Vitiligo is nie ’n pynlike toestand nie en is ook nie aansteeklik nie.
Nie alle gevalle van vitiligo is so ooglopend soos Sibongile s’n nie, aangesien dit opvallender is by mense met ’n donker vel. Maar daar is talle mense wat in sekere mate aangetas is. Statistiek toon dat tussen 1 en 2 persent van die bevolking vitiligo het. Vitiligo ken geen rassegrense nie en tas net soveel mans as vroue aan. Die oorsaak daarvan is nog onbekend.
Hoewel daar nie ’n gewaarborgde geneesmiddel vir vitiligo is nie, is daar baie maniere om met die toestand saam te leef. Byvoorbeeld, by pasiënte met ’n ligte vel is dit opvallender as die vel bruingebrand is. Die toestand kan dus minder opvallend gemaak word deur blootstelling aan die son te vermy. By mense met ’n donker vel kan spesiale grimering help om die verskille in velkleur te verberg. Party pasiënte het goed gereageer op ’n proses wat as herpigmentasie bekend staan. Dit behels baie maande van behandeling en die gebruik van spesiale ultraviolettoerusting. In sommige gevalle het die normale kleur danksy hierdie behandeling na dele van die aangetaste vel terugkeer. Ander pasiënte kies depigmentasie. Die doel van hierdie behandeling is om die vel ’n egalige kleur te gee deur die oorblywende selle wat pigmente vervaardig, deur middel van medikasie te vernietig.
Vitiligo kan emosionele pyn veroorsaak vir diegene wat daardeur aangetas word, veral wanneer dit na die gesig versprei. “Onlangs”, verduidelik Sibongile, “het twee kinders na my gekyk en gillend weggehardloop. Ander is huiwerig om met my te praat, want hulle dink ek het ’n aansteeklike siekte of dat ek vervloek is. Daar is een punt wat ek baie graag wil hê mense moet verstaan, en dit is dat hulle nie bang hoef te wees vir diegene wat hierdie toestand het nie. Hulle kan vitiligo nie deur aanraking of deur die lug opdoen nie.”
Sibongile laat nie toe dat haar toestand haar daarvan weerhou om aan die Bybelonderrigtingswerk deel te neem wat vir haar as een van Jehovah se Getuies so kosbaar is nie. Dit behels dat sy mense by hulle huise besoek en van aangesig tot aangesig met hulle praat. Sy sê: “Ek aanvaar hoe ek lyk. Ek voel nou meer op my gemak met my voorkoms, en ek sien uit na die tyd wanneer die kleur wat ek by geboorte was, heeltemal herstel sal wees in die aardse Paradys wat deur Jehovah God belowe is.”—Openbaring 21:3-5.
[Prent op bladsy 22]
In 1967, voor die siekte