Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Geboorteontploffing deur middel van geassisteerde voortplanting

’n Geboorteontploffing deur middel van geassisteerde voortplanting

’n Geboorteontploffing deur middel van geassisteerde voortplanting

Op 25 Julie 1978 het ’n unieke geboorte in Oldham, Engeland, plaasgevind toe ’n babadogtertjie genaamd Louise Joy Brown gebore is. Louise was die eerste proefbuisbaba in die geskiedenis.

NEGE maande vroeër is Louise in ’n laboratorium verwek deur middel van ’n proses wat in vitro-bevrugting (IVB) genoem word. Gedurende hierdie prosedure is ’n eiersel wat uit haar moeder geneem is, saam met ’n spermsel in ’n glasbak geplaas, waar dit saamgesmelt het. Twee en ’n half dae later, nadat die eiersel in agt mikroskopiese selle verdeel het, is hierdie klein groepie verdelende selle in haar moeder se baarmoeder geplaas om normaal te ontwikkel. Louise se geboorte was die begin van ’n splinternuwe fase in die behandeling van onvrugbaarheid.

IVB het aanleiding gegee tot wat nou as geassisteerde-voorplantingstegnologie (ART) bekend staan, wat allerhande behandelings vir onvrugbaarheid insluit waartydens eier- sowel as spermselle hanteer word. Kyk na ’n paar voorbeelde. In 1984 het ’n vrou in Kalifornië, VSA, geboorte gegee aan ’n baba wat ontwikkel het uit ’n eiersel wat deur ’n ander vrou geskenk is. Dieselfde jaar, in Australië, is ’n baba gebore uit ’n embrio wat bevries is. In 1994 het ’n 62-jarige vrou in Italië geboorte gegee; geskenkte eierselle en haar man se sperm is gebruik.

Progressiewe ontwikkeling

Nou, omtrent 25 jaar nadat Louise Joy Brown gebore is, het navorsers ’n magdom middels en hipertegnologiese prosedures tot hulle beskikking wat die behandeling van onvrugbaarheid heeltemal verander het. (Sien die vensters “Behandelingsmetodes vir onvrugbaarheid” en “Wat is die gevare?”) Sulke deurbrake het gelei tot ’n skerp toename in die aantal kinders wat deur middel van geassisteerde voortplanting gebore word. Byvoorbeeld, in 1999 is daar in die Verenigde State alleen meer as 30 000 babas deur middel van geassisteerde voortplanting gebore. In sommige Skandinawiese lande is tussen 2 en 3 persent van die kinders wat elke jaar gebore word, op hierdie manier verwek. Wêreldwyd word daar jaarliks omtrent 100 000 kinders met behulp van in vitro-bevrugting gebore. Daar word geskat dat omtrent eenmiljoen van hierdie kinders sedert 1978 gebore is.

ART word hoofsaaklik in ontwikkelde lande gebruik. Elke behandeling, of siklus, kos duisende rande; en staatsgesondheidsdienste, mediese fondse wat deur werkgewers geborg word en private mediese versekering dek gewoonlik nie die koste nie. Die tydskrif Time het gesê dat “’n 45-jarige vrou wat deur sewe siklusse van IVB gegaan het, maklik [R675 000] aan behandeling kan bestee”. Nietemin gee geassisteerde voortplanting hoop aan talle onvrugbare egpare wie se enigste alternatief om kinders te hê voorheen aanneming was. Nou help die verskillende behandelings vir onvrugbaarheid met baie van die oorsake van onvrugbaarheid by mans en vroue. a

Waarom so gewild?

Een rede vir die gewildheid van geassisteerde voortplanting is die moderne lewenswyse. ’n Verslag wat deur die Amerikaanse Genootskap vir Voorplantingsgeneeskunde uitgegee is, sê: “Die gemiddelde ouderdom waarop vroue kinders kry, het oor die afgelope drie dekades gestyg omdat meer vroue naskoolse opleiding en beroepe nagestreef het en later getrou het. Terselfdertyd het ’n groot aantal vroue wat gedurende die ‘Geboorteontploffing’ (1946-1964) gebore is, die einde van hulle vrugbare jare bereik, en gevolglik soek meer vroue in hierdie ouderdomsgroep hulp met onvrugbaarheid.”

Party vroue besef dalk nie hoe vinnig hulle vrugbaarheid afneem namate hulle ouer word nie. Teen die tyd dat ’n vrou 42 jaar oud is, sê die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming, is haar kans om met haar eie eierselle ’n baba te hê minder as 10 persent. Geskenkte eierselle word dus dikwels gebruik vir ouer vroue wat ART-behandeling wil hê.

In ’n nuwe, onverwagte verwikkeling maak onvrugbare egpare gebruik van “embrio-aanneming”, met ander woorde, hulle verkry ’n embrio wat oorgebly het van die vrugbaarheidsbehandeling van ’n ander egpaar. Daar word geskat dat ongeveer 200 000 bevrore embrio’s in die Verenigde State alleen geberg word. ’n Nuusberig van CBS het onlangs aan die lig gebring: “Die skenking van embrio’s vind al jare lank stilweg op klein skaal plaas.”

Dit is nie verbasend dat die verwikkelinge op die gebied van geassisteerde voortplanting ’n aantal vrae laat ontstaan nie. Hoe kan hierdie voortplantingsmetode uit ’n etiese en sedelike standpunt beskou word? Wat is die Bybelse beskouing van hierdie saak? Hierdie en ander vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnoot]

a Die oorsake van onvrugbaarheid by vroue is onder meer probleme met ovulasie, verstopte Fallopius-buise of endometriose. Onvrugbaarheid by mans hou dikwels verband met die feit dat min of geen sperm vervaardig word nie.

[Venster/Prent op bladsy 4]

BEHANDELINGSMETODES VIR ONVRUGBAARHEID

KUNSMATIGE BEVRUGTING (KB). ’n Prosedure waardeur semen anders as op die natuurlike wyse in die vroulike geslagsorgane geplaas word. KB is die behandeling wat dikwels eers probeer word voor die ander wat hieronder beskryf word.

GAMEET-INTRAFALLOPIUSOORPLASING (GIFT). ’n Prosedure wat behels dat eierselle uit ’n vrou se eierstok verwyder en by sperm gevoeg word en dat die onbevrugte eierselle en sperm dan met behulp van ’n laparoskoop (’n instrument wat gebruik word om die buikholte te ondersoek) deur klein insnydings in die vrou se onderlyf in haar Fallopius-buis geplaas word.

INTRASITOPLASMIESE SPERMINSPUITING (ICSI). (Word links vergroot getoon) ’n Prosedure waardeur ’n enkele spermsel direk in ’n eiersel ingespuit word.

IN VITRO-BEVRUGTING (IVB). ’n Prosedure wat behels dat eierselle uit ’n vrou se eierstokke verwyder en buite haar liggaam bevrug word. Die embrio’s wat hieruit ontwikkel, word dan deur die serviks in haar baarmoeder geplaas.

SIGOOT-INTRAFALLOPIUSOORPLASING (ZIFT). ’n Prosedure waardeur eierselle uit ’n vrou se eierstok geneem en buite haar liggaam bevrug word. Die bevrugte eier word dan deur ’n klein insnyding in haar onderlyf in haar Fallopius-buis geplaas.

[Erkennings]

Venster gebaseer op Reproductive Health Information Source, Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming.

Courtesy of the University of Utah Andrology and IVF Laboratories

[Venster/Prent op bladsy 5]

WAT IS DIE GEVARE?

MENSLIKE FOUTE. In die Verenigde State, Nederland en Groot-Brittanje het vrugbaarheidsklinieke al per ongeluk sperm en embrio’s omgeruil. In een geval het ’n egpaar ’n tweeling van ’n ander ras gehad, en in ’n ander geval het ’n vrou geboorte gegee aan ’n tweeling van twee verskillende rasse.

VEELVULDIGE GEBOORTES. Studies het getoon dat veelvuldige geboortes—wat plaasvind wanneer meer as een embrio in die baarmoeder geplaas word—die moontlikheid vergroot van vroeggeboorte, lae geboortegewig, doodgeboorte en permanente gestremdheid.

GEBOORTEDEFEKTE. Volgens een studie loop kinders wat deur middel van in vitro-bevrugting verwek is, ’n groter gevaar om geboortedefekte soos hart- of nierprobleme, ’n gesplete verhemelte en onafgedaalde testes te hê.

MOEDER SE GESONDHEID. Komplikasies as gevolg van hormoonbehandeling of ’n swangerskap met meer as een fetus, vergroot die risiko vir moeders.