Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Lewendige ligvertoning onder die golwe

’n Lewendige ligvertoning onder die golwe

’n Lewendige ligvertoning onder die golwe

Terwyl ’n skubaduiker langs die onderkant van ’n rotslys geswem het, het hy ’n 60 sentimeter lange inkvis in ’n holte gesien, byna volmaak gekamoefleer in sy blougrys omgewing. Toe die duiker naderkom, het die inkvis in ’n oogwink van kleur verander na ’n helder, glinsterende karmosynrooi. Toe hy agteruitbeweeg, het dit weer na sy oorspronklike kleur verander. Het jy al ooit gewonder hoe hierdie verbasende weekdiere dit regkry om van kleur te verander—’n vermoë wat hulle met sekere soorte seekatte en pylinkvisse in gemeen het?

Hulle geheim lê in die chromatofore, pigmentdraende selle in die huid. Senuwees veroorsaak spiersametrekkings wat die grootte van hierdie selle reguleer, en dit veroorsaak dat die diertjie van kleur verander en veranderende kleurpatrone voortbring.

Behalwe dat hulle van kleur kan verander, bring baie soorte pylinkvisse selfs hulle eie lig voort, op ’n manier wat soortgelyk is aan dié van ’n gewone vuurvliegie. Hierdie bioluminessensie wat in talle ander seediere gesien word—van jellievisse tot garnale—is die resultaat van komplekse chemiese reaksies in selle wat fotosiete genoem word of in organe wat as fotofore bekend staan. Dit kan ook voortgebring word weens die aktiwiteit van liggewende bakterieë wat ’n simbiotiese verwantskap met hulle gasheer het.

In die eersgenoemde geval bevat die liggewende selle en organe ’n chemiese stof wat lusiferien genoem word, wat in die teenwoordigheid van ’n ensiem met suurstof reageer en lig voortbring wat gewoonlik blou of groen is. Party liggewende organe, sê die tydskrif Scientific American, “is komplekse toestelle met lense om te fokus, ’n kleurfilter of ’n verstelbare flap wat as ’n aan/af-skakelaar dien. Inkvisse wat fotofore sowel as chromatofore in hulle huid het, kan die kleur sowel as die intensiteit van die lig wat voortgebring word, reguleer.”

Diertjies wat gloei deur van liggewende bakterieë gebruik te maak, huisves hulle mikroskopiese gaste in spesiale ligorgane, wat ryklik van bloed voorsien word. Die bloed vervoer voedingstowwe na die mikrobes, en so betaal hulle as ’t ware hulle “elektrisiteitsrekening”.

[Foto-erkennings op bladsy 31]

Inlas: Courtesy Jeffrey Jeffords/www.divegallery.com

© David Nicholson/Lepus/Photo Researchers, Inc.