Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die uitdagings van tienermoederskap

Die uitdagings van tienermoederskap

Die uitdagings van tienermoederskap

MET tienerswangerskap kom die verantwoordelikheid om volwasse besluite te neem. “Dit voel of ek 40 jaar oud is”, sê een tienerma. “Ek het niks van my kinderjare gehad nie.” Ja, nadat ’n jong meisie uitgevind het dat sy swanger is, kan vrees en angstigheid haar geheel en al oorweldig laat voel.

As jy ’n swanger tiener is, voel jy dalk ook so. Maar jy sal niks bereik deur toe te laat dat negatiewe emosies jou verlam nie. “Hy wat die wind dophou, sal nie saad saai nie”, sê die Bybel, “en hy wat na die wolke kyk, sal nie oes nie” (Prediker 7:8; 11:4). ’n Boer wat nie optree nie omdat hy hom oor die weer bekommer, sal nie die nodige stappe neem nie. Moenie in daardie situasie beland nie. Jy moet op die een of ander tyd aangaan met jou lewe en jou verantwoordelikhede nakom.—Galasiërs 6:5.

Wat is jou opsies? Party sal dalk vir jou sê om ’n aborsie te oorweeg. Maar dit is nie ’n opsie vir diegene wat God wil probeer behaag nie, aangesien die Bybel dit duidelik maak dat aborsie teen God se wet is (Eksodus 20:13; 21:22, 23; Psalm 139:14-16). In God se oë is die lewe van enige embrio kosbaar—ook een wat buite-egtelik verwek is.

Moet jy met die pa van jou baba trou en jou kind saam met hom grootmaak? ’n Huwelik sal jou ten minste ’n sekere mate van verleentheid spaar. Maar selfs wanneer ’n jong pa voel dat hy ’n morele verantwoordelikheid het om sy kind te help grootmaak, is dit nie altyd ’n verstandige opsie om te trou nie. a Die feit dat ’n jong man die vermoë het om voort te plant, beteken beslis nie dat hy die nodige emosionele en geestesvermoëns het om ’n goeie man en pa te wees nie. Dit beteken ook nie dat hy ’n vrou en kind finansieel kan onderhou nie. Wat meer is, as die jong man nie dieselfde godsdiensoortuiging as jy het nie, sal jy die Bybel se vermaning om “net in die Here” te trou, verontagsaam as jy wel met hom trou (1 Korintiërs 7:39). Ondervinding toon dat dit moontlik verdere pyn en lyding tot gevolg sal hê as jy jou oorhaastig in ’n voortydige—en moontlik kortstondige—huwelik begewe.

Moet jy die baba laat aanneem? Hoewel dit natuurlik beter is as ’n aborsie, moet jy onthou dat jy, ondanks die ongunstige omstandighede, wel die geleentheid het om jou kind te versorg en groot te maak.

Bied die uitdagings die hoof

Dit is beslis nie maklik om as ’n enkelma ’n kind groot te maak nie. Maar as jy Bybelbeginsels na die beste van jou vermoë toepas en op God vir krag en leiding staatmaak, kan jy baie uitdagings met sukses die hoof bied. Hier volg ’n paar stappe wat jou kan help om die mas op te kom.

Herstel jou verhouding met God. Jy moet besef dat voorhuwelikse seks ’n sonde teen God is—’n oortreding van sy hoë sedelike standaarde (Galasiërs 5:19-21; 1 Tessalonisense 4:3, 4). ’n Belangrike eerste stap is dus om berou te toon en God om vergifnis te vra (Psalm 32:5; 1 Johannes 2:1, 2). Ja, jy voel moontlik dat jy nie sy hulp waardig is nie. Maar Jehovah belowe om te vergewe, en hy staan diegene by wat berou toon oor hulle verkeerde dade (Jesaja 55:6, 7). In Jesaja 1:18 sê Jehovah: “Al sou julle sondes soos skarlaken [ernstig] wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word [heeltemal gereinig word].” Die Bybel moedig oortreders ook aan om gebruik te maak van die geestelike hulp wat aangestelde gemeentelike ouer manne bied.—Jakobus 5:14, 15.

Hou op om voorhuwelikse seks te hê. Dit sal waarskynlik beteken dat jy jou verhouding met die pa van jou kind moet verbreek. Om daardie verhouding buite die huwelik voort te sit, sal net verdere druk op jou plaas om dinge te doen wat God mishaag. Hoewel God se wette streng is, moet jy nooit vergeet dat dit daar is om ons te beskerm nie. Nicole, wat vroeër in hierdie reeks aangehaal is, sê: “Ek het besef dat God reg is. Hy wil hê dat ons onsself moet bevoordeel.”—Jesaja 48:17, 18.

Vertel jou ouers. Jy is dalk bang dat jou ouers vir jou kwaad gaan wees. Hulle sal weliswaar ontsteld en bekommerd wees wanneer hulle uitvind dat jy swanger is. As ouers voel hulle dalk selfs dat hulle jou in die steek gelaat het en dat hulle verantwoordelik is vir jou verkeerde gedrag. Maar as jou ouers waarlik godvresend is, sal die storm van hartseer en pyn waarskynlik mettertyd oorwaai. Hulle is jou ouers en het jou ondanks jou foute lief. Wanneer hulle sien dat jy berouvol is, sal dit hulle ongetwyfeld beweeg om die voorbeeld van die verlore seun se vader na te volg en jou liefdevol te vergewe.—Lukas 15:11-32.

Betoon dankbaarheid. Ouers, familie en vriende is dikwels ’n groot bron van hulp en ondersteuning. Jou ouers kan byvoorbeeld reël dat jy mediese sorg kry. Nadat jou baba gebore is, kan hulle jou help om die basiese beginsels van babasorg te leer; hulle kan ook aanbied om babawagters te wees. Nicole sê van haar ma: “Ek het die baba gehad, maar sy het baie gedoen om my te help.” Vriende kan ook help deur moontlik, op ’n taktvolle wyse, vir jou babaklere en ander items te gee wat dalk handig te pas sal kom (Spreuke 17:17). Wanneer goedhartigheid aan jou betoon word, moet jy die Bybel se raad volg en “toon dat [jy] dankbaar is” (Kolossense 3:15). As jy jou waardering uitspreek, sal mense nie dink dat jy hulle goedhartigheid as vanselfsprekend aanvaar nie.

Leer die vaardighede van ouerskap aan. Jy wil natuurlik nie vir ewig van jou familie en vriende afhanklik wees nie. Begin dus die vaardighede ontwikkel wat jou sal help om met ’n mate van bevoegdheid jou kind te versorg en ’n huishouding te behartig. Dit is ’n groot uitdaging om te leer om na iemand om te sien wat so hulpeloos is. Daar is baie wat jy oor voeding, gesondheid en ander aspekte van kindersorg moet leer. Dit is interessant dat die Bybel ouer Christenvroue aanmoedig om jonger vroue aan te spoor om “werkers by die huis” te wees (Titus 2:5). Jou ma—en dalk ander ouer lede van die Christengemeente—kan jou ongetwyfeld waardevolle hulp in hierdie opsig gee.

Werk verstandig met geld. Die Bybel sê dat “geld as ’n beskerming dien” (Prediker 7:12). Die koms van ’n baba sal aansienlike finansiële eise stel.

Om mee te begin, sal jy dalk gebruik wil maak van enige staatshulp waarvoor jy in aanmerking kom. Maar dikwels is ’n meisie nog steeds finansieel van haar ouers afhanklik. As dit met jou die geval is, sal dit verstandig en bedagsaam wees as jy koste sover moontlik besnoei. Jy sal natuurlik eerder nuwe items vir jou baba wil hê, maar jy kan dalk geld spaar deur by tweedehandse winkels of rommelverkopings te koop.

Probeer verder leer. “Die wyses bewaar kennis as ’n skat”, sê Spreuke 10:14. Hoewel dit veral met Bybelkennis die geval is, is dit ook die geval met sekulêre opvoeding. Jy moet die nodige vaardighede ontwikkel sodat jy ’n bestaan kan maak.

Dit is weliswaar nie maklik om skool te gaan terwyl jy vir ’n baba sorg nie. Maar ’n gebrek aan basiese skoolopleiding kan vir jou en jou kind ’n lewe van armoede, welsynstoelaes, karige inkomste, swak behuising of ondervoeding beteken. As dit dus enigsins moontlik is, moet jy skool klaarmaak. Nicole se ma het daarop aangedring dat sy haar skoolopleiding voltooi, en gevolglik kon Nicole later as ’n prokureursassistent opgelei word en haarself onderhou.

Doen gerus ’n bietjie navorsing oor geleenthede om verder te leer. As dit te moeilik is om klasse by te woon, kan jy dalk uitvind of jy van die huis af kan studeer. In jou situasie sal dit dalk prakties wees om byvoorbeeld ’n korrespondensiekursus te volg.

Jy kan sukses behaal

Dit is ’n uitdaging om ’n kind groot te maak as jy ’n ongehude jong meisie is. Maar jy kan sukses behaal! Met geduld, vasberadenheid en Jehovah God se hulp kan jy ’n liefdevolle en bekwame ouer word. En kinders van ongehude ma’s kan goed aangepaste volwassenes word. Ja, jy kan die vreugde ervaar om te sien hoe jou kind op jou opleiding en hulp reageer en ’n liefhebber van God word.—Efesiërs 6:4.

Nicole stel dit so: “Met God se hulp—en ondanks alles wat teen my getel het—het ek die vreugde ervaar om my dogtertjie te help om ’n goedhartige, beleefde en verantwoordelike jong dame te word. As ek na haar kyk, onthou ek al die slapelose nagte, maar dit vul my ook met vreugde.”

Maar hoe moet volwassenes tienerma’s en hulle kinders behandel? Is daar enige manier om jongmense te help om die pyn van tienerswangerskap in die eerste plek te voorkom?

[Voetnoot]

a ’n Bespreking van die verantwoordelikhede en uitdagings waarvoor jong ongehude pa’s te staan kom, kan gevind word in die “Jongmense vra . . . ”-artikels in die Ontwaak! van 22 April 2000 en 22 Mei 2000.

[Prente op bladsy 8, 9]

Tienerma’s moet baie uitdagings die hoof bied om hulle kind groot te maak

[Prent op bladsy 10]

Om oorhaastig te trou, is nie die antwoord nie

[Prent op bladsy 10]

Christen- ouer manne kan jongmense wat foute begaan het, help om hulle verhouding met God te herstel

[Prent op bladsy 11]

Dit is verstandig van enkelma’s om hulle basiese skoolopleiding te voltooi