Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gevange tog vry!

Gevange tog vry!

Gevange tog vry!

Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko

NEGENTIG kilometer van die sentrale weskus van Mexiko lê die Islas Marías. a Een van hierdie Stille Oseaan-eilande, María Madre, dien al sedert 1905 as ’n federale strafkolonie. Daar was ’n tyd toe mense gevrees het om hierheen verban te word, maar nou kan gevangenes wat ’n rekord van goeie gedrag het, vra om soontoe te gaan!

Een rede hiervoor is dat sommige gevangenes se gesinne toegelaat word om saam met hulle te woon. In plaas daarvan dat gevangenes in tronkselle agter tralies sit, woon hulle in huisies. Die nedersettings het baie van die dienste wat ’n mens in ’n klein dorpie sal aantref. Telefone, ’n telegraafdiens, televisie sowel as ’n posdiens help om die gevangenes met die buitewêreld te verbind. Daar is ’n laerskool vir kinders, maar vir hulle hoërskoolopleiding moet hulle na die vasteland toe terugkeer. En hoewel toegang tot die eilande streng beheer word, is daar ’n vlootskip wat een keer per week voorraad en besoekers bring.

Wat van rehabilitasie? Daar word van die gevangenes—wat hulleself colonos, of setlaars, noem—vereis om ’n paar uur elke dag te werk. Dit help hulle nie net om hulle later by die lewe in die buitewêreld aan te pas nie, maar help ook om vir hulle onderhoud te betaal. Die colonos het ook die vryheid om persoonlike dinge te doen, soos om tuin te maak en handwerkartikels te vervaardig wat hulle kan verkoop. Dit is nie te sê dat daar glad nie dissipline in die gevangenis is nie. Gevangenes moet in die oggend bymekaarkom sodat hulle name afgelees kan word en hulle moet ’n klokreël gehoorsaam wat van 21:00 geld.

Geestelike vryheid kom na Islas Marías

In 1985 het ’n colono, wie se gesin Jehovah se Getuies was, geestelike hulp gevra. ’n Bybelstudie is deur die pos met hom begin. Mettertyd was daar ’n groep Bybelstudente, en hulle het Christelike vergaderinge begin hou. Nadat Jehovah se Getuies toestemming van die regering gekry het, het hulle die eiland gereeld begin besoek—’n deurnagreis van 13 uur vanaf Mazatlán op die vasteland. Deur die jare heen het sowat 40 gevangenes die waarheid van God se Woord geleer, is hulle gedoop en vrygelaat nadat hulle hulle vonnisse uitgedien het. Tans is daar 6 gedoopte Getuies wat nog op die eiland is, en gemiddeld 25 mense woon die Christelike vergaderinge by.

Die tronkowerheid bewonder Jehovah se Getuies vir wat hulle doen, en gevangenes wat Getuies word, word deur almal gerespekteer. Onlangs het die assistent-direkteur van die strafkolonie aan ’n besoekende Getuie gesê: “Dit is wonderlik dat julle, net soos ons, in die fisiese en sedelike welstand van die gevangenes belangstel; dat julle oor hulle besorg is! Julle het ons volle ondersteuning.” Hy het aangebied om die gebou op te knap waarin die broers toegelaat word om vergaderinge te hou.

Een gedoopte Getuie—wat al tien jaar lank ’n gevangene is—het gesê: “Wanneer die besoekende broers my vra of ek die eiland wil verlaat, sê ek vir hulle dat ek wil aanhou om hier te dien; ek beskou dit as my toegewese gebied, want hier is baie hulp nodig. Ek sou natuurlik daarvan gehou het om na byeenkomste toe te gaan en die Christenbroederskap te geniet.” Hy gaan volgende jaar vrygelaat word vir goeie gedrag.

Die strafstelsel op Islas Marías het volgens berig ’n mate van sukses daarin behaal om gevangenes te rehabiliteer. Dit is egter die Koninkryksboodskap wat ware geestelike vryheid en rehabilitasie meegebring het, dat ‘’n vrylating aan die gevangenes’ gegee en ‘die oë van die gevangenes wyd oopgemaak is’.—Lukas 4:18; Jesaja 61:1.

[Voetnoot]

a Hoewel dit ook Islas Tres Marías, oftewel die “Drie Marias”, genoem word, bestaan die eilandgroep eintlik uit vier eilande, waarvan drie onbewoon is.

[Venster/Prente op bladsy 21]

Van dwelmverslaafde tot Christen- ouer man

Guillermo is in die tronk gesit omdat hy dwelms verkoop en gebruik het. Nadat hy na Islas Marías gestuur is, was hy nog steeds aan dwelms verslaaf. Maar hy het opgemerk dat sommige gevangenes wat lang vonnisse uitdien vir misdade soos dwelmhandel, goed versorg is, ’n gelukkige uitkyk het en modelgevangenes is. Toe hy uitvind dat hulle die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, het hy ’n uitnodiging aanvaar om hulle vergaderinge by te woon. Later is ’n gereelde Bybelstudie met hom gehou.

Guillermo het groot veranderinge in sy lewe aangebring en is kort daarna vrygelaat. Hy het dadelik na Jehovah se Getuies begin soek sodat hy sy studie kon voortsit. Vandag dien hy as ’n ouer man in die Christengemeente, en 17 van sy familielede is nou Jehovah se Getuies. Hy sê: “Dit is ’n groot voorreg om Jehovah te ken en al daardie euwels agter te laat. Baie van my voormalige vriende is dood weens dwelms. Dwelms het my brein aangetas en dit vir my moeilik gemaak om inligting te onthou. Maar die studiemetode wat die Getuies gebruik het, het my leervermoë baie verbeter. Die dokters is verstom want hulle het gedink dat ek nooit sou herstel nie. Dit is ongelooflik wat Bybelwaarheid vir my en my familie gedoen het. Ons het nooit liefde aan mekaar betoon nie, maar nou is ons verenig.”

[Kaart op bladsy 20]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Mazatlán

Islas Marías

María Madre

[Prent op bladsy 20]

“Colonos” en hulle gesinne woon die vergaderinge in die Koninkryksaal op María Madre by