Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Monteverde—’n Natuurreservaat in die wolke

Monteverde—’n Natuurreservaat in die wolke

Monteverde—’n Natuurreservaat in die wolke

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN COSTA RICA

Die warm Karibiese passaatwinde waai van die see af teen berge wat tot 1 700 meter hoog is. Namate die winde styg, koel dit af, en die vog daarin kondenseer. Digte, laagliggende wolke vorm, wat dan as reën op die berge val of dit in mis omhul. Wat het dit tot gevolg? ’n Buitengewone plek met asemrowende natuurskoon wat as ’n wolkwoud bekend staan.

DIT is 1951. Vier-en-veertig lede van die godsdiensgroep wat algemeen bekend staan as die Kwakers, verlaat hulle tuiste in Alabama, VSA, op soek na ’n plek waar hulle ’n vreedsame godsdiensgemeenskap kan stig. Hulle soeke neem hulle na die wolkbedekte berge in die noordweste van Costa Rica, in Sentraal-Amerika. Die gebied is afgesonderd en die grond is vrugbaar en redelik goedkoop.

Maar dit is nie maklik om hulle in hierdie gebied te vestig nie. Marvin Rockwell, een van die oorspronklike nedersetters, vertel: “Die enigste pad teen die berg op was ’n wapad, en ons het dit met pikke en grawe reggemaak sodat ons jeeps daarop kon ry.” Met die hulp van plaaslike inwoners het hulle uiteindelik hulle nuwe tuiste in die wolke gebou. Hulle het dit heel gepas Monteverde genoem, wat “groen berg” beteken.

Die nedersetters het twee besluite geneem wat verreikende gevolge gehad het. Hulle het geweet dat hulle hulle plaasgemeenskap selfonderhoudend moes maak. Maar watter verbruiksartikel kon hulle maak wat nie tydens die lang rit teen die berg af na die mark sou bederf nie? Hulle het op kaas besluit en dit op klein skaal begin maak. Vandag vervaardig daardie fabriek meer as 4 000 kilogram kaas per dag, buiten ander suiwelprodukte, soos suurroom, roomkaas en roomys.

Die nedersetters het ook besluit om 541 hektaar woud teen die berg bokant hulle huise opsy te sit. Aangesien hierdie opvanggebied hulle klein hidroëlektriese aanleg van water voorsien het, het hulle gedink dat dit goed sal wees om dit te bewaar. Maar die groot verskeidenheid flora en fauna in die opvanggebied het kort voor lank onder die aandag van wetenskaplikes gekom, veral nadat die gouepadda ontdek is. (Sien die venster oor die gouepadda.) In die 1960’s het ’n groep wetenskaplikes en plaaslike inwoners die Monteverde-wolkwoudreservaat gestig, ’n natuurreservaat wat kort daarna uitgebrei is om die opvanggebied in te sluit. Sedertdien is die reservaat verder uitgebrei sodat dit nou ongeveer 10 500 hektaar beslaan.

Die Monteverde-wolkwoudreservaat is een van die toeriste-aantreklikhede in Costa Rica wat die meeste besoek word. Jaarliks pak tot 50 000 toeriste die steil, kronkelende grondpad na Monteverde aan. Voëlkykers en natuurkundiges stroom daarheen om die duisende soorte voëls, diere en plante te sien wat in die reservaat en omliggende omgewing aangetref word.

Plantlewe

Ongeveer 500 boomsoorte is die grondslag van die reservaat se ekosisteme. Sommige bome klou vir al wat hulle werd is aan ontblote rotslyste terwyl hulle ’n stryd voer teen die wind wat hulle groei belemmer het en hulle vervorm het. Bome wat in beskutte gebiede groei, dra ’n digte kleed van rankplante, kruie en struike, wat die boomstamme bedek. Hoe kan hierdie plante, wat epifiete genoem word, lewe sonder om in die grond gewortel te wees? ’n Veldgids sê: “In hierdie uiters nat omgewing kry epifiete baie water, al het hulle nie uitgebreide wortelstelsels nie. Die digte plantegroei onderskep genoeg van die dooie blare wat van die blaredak afgespoel word om hulle van voedingstowwe te voorsien.”

Driehonderd orgideesoorte gee spatsels kleur aan die merendeels groen palet. Baie van die oorblywende ruimte in die landskap word opgeneem deur die 200 varingsoorte wat hier floreer—waarvan party byna 12 meter hoog en 150 jaar oud is.

Waaraan kan die ryk biodiversiteit in so ’n klein gebied toegeskryf word? Om maar een ding te noem, die reservaat se grense loop af na die Stille Oseaan sowel as die Karibiese See. Die drastiese verskille in humiditeit en temperatuur op verskillende hoogtes skep ses onderskeie ekologiese sones waarin daar ’n verstommende verskeidenheid lewensvorme floreer.

Voël- en dierelewe

Monteverde is ’n voëlkykersparadys. In 1996 is die aantal verskillende voëlsoorte getel in ’n sirkel wat 25 kilometer in deursnee is en dele van Monteverde ingesluit het. Binne net 24 uur is 369 voëlsoorte gesien! Inheemse voëls sluit die piepklein kolibrie sowel as die pragtige kwetsal in. Trouens, baie besoekers kom spesiaal om die kwetsal te sien—’n voël met van die mooiste vere in die trope. Daar is sowat 100 kwetsalpare wat in Monteverde nesmaak, maar dit kan moeilik wees om hulle raak te sien omdat hulle so goed deur hulle groen vere in die woud gekamoefleer word. Maar dit is nie moeilik om die kolibries raak te sien wat na die voëlvoerders buite plaaslike winkels en restaurante toe kom nie. Hierdie voëltjies, met hulle pragtige, glinsterende pers, smaraggroen en turkoois vere, flits heen en weer tussen blomme en voëlvoerders met vlerke wat so vinnig klap dat ons dit nie kan sien nie.

Monteverde is ook die tuiste van eenhonderd soogdiersoorte. “Dit is een van die min oorblywende habitats waar al vyf spesies van die katfamilie voorkom: die jaguar, oselot, poema, tierkat en jaguarondi”, sê die Costa Rica Handbook. Maar die groot katte is baie sku en vermy mense. “’n Poema word omtrent een keer in ses maande gesien”, het Rafael Bolaños, die bestuurder van die reservaat, vir Ontwaak! gesê. “’n Jaguar word net omtrent een keer in drie jaar gesien.” Die kanse is baie groter dat ’n mens een van die 120 soorte amfibieë en reptiele sal teëkom.

Wat hou die toekoms in vir Monteverde? Pogings word aangewend om die beskermde gebied uit te brei. Trouens, die onlangse byvoegings van die Santa Elena-woudreservaat en Die Kinders se Ewige Reënwoud het die bewaringsgebied meer as verdubbel. (Sien die venster hieronder.) Daar word gehoop dat hierdie maatreëls sal help om te verseker dat daar altyd ’n oorvloed lewe in die wolke sal wees.

[Venster/Prent op bladsy 17]

Die verdwyning van die gouepadda

Die inheemse gouepadda, wat in werklikheid ’n helder neonoranje is, is in die 1960’s hoog in die woude van Monteverde deur die bioloog Jay Savage ontdek. Monteverde is blykbaar die enigste plek op aarde waar hierdie padda gevind kon word. “In 1985 is ’n groep van sowat 1 000 gesien”, sê Rafael Bolaños, die bestuurder van die Monteverde-wolkwoudreservaat. “Maar slegs twee jaar later kon baie min gevind word.” Die gouepadda het sedertdien vermoedelik uitgesterf.

Dr. Alan Pounds, wat die verdwyning van 20 soorte water- en landpaddas in die Monteverde-wolkwoudreservaat bestudeer het, sê dat die “wisselvalligheid van daaglikse reënvalpatrone . . . die agteruitgang en verdwyning van baie amfibiese bevolkings direk voorafgegaan het, onder andere dié van die inheemse gouepadda”.

[Erkenning]

© 2003 Richard Sage

[Venster op bladsy 18]

Die Kinders se Ewige Reënwoud

In ’n klein dorpie op die Sweedse platteland het ’n klas van negejariges gevra wat hulle kan doen om die reënwoud te red. Met die hulp van hulle onderwyser het hulle geld ingesamel wat in 1988 gebruik is om ses hektaar bedreigde reënwoud te koop. Só het Die Kinders se Ewige Reënwoud in aansyn gekom. Nuus oor die projek het versprei, en kinders in 44 lande het by die projek aangesluit. Kinders het genoeg geld ingesamel om die beskermde gebied uit te brei sodat dit duisende hektaar insluit wat drie kante van die Monteverde-wolkwoudreservaat begrens.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Monteverde

[Prent op bladsy 16]

Epifiet

[Prent op bladsy 16]

Varings

[Prente op bladsy 16, 17]

Orgidee

[Prent op bladsy 18]

Kolibrie

[Erkenning]

THE HUMMINGBIRD SOCIETY/Newark Delaware USA

[Prent op bladsy 18]

Kwetsal

[Erkenning]

© Anthony Mercieca/SuperStock

[Prent op bladsy 18]

Rooioogpadda

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Agtergrond en orgidee: © Michael and Patricia Fogden